Nxesi gooi ook wal oor omkoopbewerings

Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, sê bewerings dat hy omkoopgeld ontvang het, is vals en lasterlik en is eerder ʼn poging om die aandag van die eintlike kwessie af te lei.

Nxesi is een van drie ministers wat saam met Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, by ʼn beweerde R500 miljoen-omkoopskandaal betrek word.

Mthunzi Mdwaba, uitvoerende hoof van Thuja Capital, se bewerings hou verband met ʼn Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF)-kontrak vir ʼn werkskeppingsprojek ten bedrae van R5 miljard.

Volgens Mdwaba het “tussengangers” van Nxesi, Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, en Enoch Godongwana, minister van finansies, hom glo vir omkoopgeld genader. Hy het glo geweier, waarna die projek deur die mat geval het. Mdwaba het Mbalula ook by die beweerde voorval betrek.

Volgens Nxesi het Mdwaba al twee jaar gelede begin om bewerings teen hom te maak toe “ons verplig was om ons steun vir sy kandidatuur vir ’n pos in die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) terug te trek”.

“Mdwaba het my hiervoor geblameer, al was dit ’n regeringsbesluit wat geneem is nadat inligting oor sy twyfelagtige verlede aan die lig gekom het: Hy is voorheen deur die howe as ’n misdadige direkteur verklaar en ongeskik om sekere poste te beklee.”

Nxesi en Mdwaba se paaie het laat verlede jaar weer gekruis met die WVF-kontrak.

“Ek het onmiddellik opgetree om enige betaling te stop, selfs in die lig van Mdwaba se dreigemente van regstappe, en sodoende openbare fondse beskerm. Ek het toe gevra vir ’n forensiese ondersoek, wat gewys het op onreëlmatighede, insluitend ’n botsing van belange: Mdwaba was voorsitter van Produktiwiteit SA, ’n entiteit van die departement van indiensneming en arbeid, sowel as uitvoerende hoof van Thuja Capital. Ons het dus prokureurs opdrag gegee om ’n aansoek voor te berei om die Thuja-ooreenkoms tersyde te stel, en Mdwaba as voorsitter van Produktiwiteit SA te verwyder.”

Volgens Nxesi het hy ingevolge die wet opgetree. “Hierdie week het Mdwaba ’n nuwe bewering opgetower: Dat ek probeer het om omkoopgeld te neem uit die einste transaksie wat ek gestaak het. Dit is vals en sonder fondasie; geen bewyse word gelewer nie en dit is duidelik ’n poging om die aandag af te lei van die kwessies rakende die kontrak van R5 miljard.”

Hy is van voorneme om die “valse en lasterlike beskuldigings” wat deur Mdwaba gemaak is aan te spreek. “Intussen kan ek die versekering gee dat die betrokke R5 miljard se openbare fondse nie aan Mdwaba se private maatskappy vrygestel sal word nie.”

Mbalula het Donderdag klagte van crimen injuria teen Mdwaba by die Sandton-polisiestasie ingedien.

Mbalula het gesê Mdwaba is glo deur die departement van arbeid en indiensneming ondersoek en dat hy nou, in plaas daarvan om die aantygings teen hom te hanteer, verkies om ’n lasterveldtog teen hom en die betrokke ministers te voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

SjN ·

Wat het geword van Frikkie en ene Danny se R10 miljoen sokker wereldbeker omkoopgeld? so ver niks!!

Raadsman ·

So Mthunzi het net ‘n grappie gemaak toe hy gese het dat R500m is betaal aan 3 ministers as omkoop geld. Maar soos hy tereg gese het, het SA se regstelsel in duie gestort en het geen kredietwaardigheid oor nie.
So waar is die 5,5 miljard rand nou??

Samuel ·

Waar daar ‘n rokie is, is daar ‘n vuurtjie. Elke dag lees jy net meer en meer van diefstal en bedrog by die kaders.

Tewis ·

Mthunzi moet maar lig loop dink ek.
Kyk maar net wat het in die week voor ń hof gebou gebeur??

Bolandse Nooi ·

Vraag mij broeder Piet, hij liegt nes ik! Oor so ‘n paar maande, paar jaar verder langs die pad, sal dit wel uitkom dat daar R500 000 000 êrens in die een of ander (of dalk meer) skelm ANC-kadertjie se sakke beland het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.