Oeps! Kunswerk van R700 000 per ongeluk omgestamp

Een van Jeff Koons se ballonhonde (Foto: Achim Hepp via Wikimedia Commons)

ʼn Besoeker aan ʼn uitstalling vir kontemporêre kuns het per ongeluk ʼn klein glas kunswerk deur bekroonde kunstenaar Jeff Koons omgestamp. Die werk was fyn en flenters.

Die blou kunswerk, een van Koons se bekende ballonhonde, se waarde het $42 000 (sowat R760 000) beloop.

Die ongeluk het by ʼn voorskou van die uitstalling by Art Wynwood in Miami in die VSA plaasgevind. Sommige van die kunsversamelaars, wat die uitstalling bygewoon het, het aanvanklik gedink dit is deel van ʼn kunsuitvoering of ʼn voorafbeplande toertjie.

Die beeldhouwerk het alleen op ʼn akrielbasis gestaan met Koons se naam daarop.

“Ek het ʼn vrou daar sien staan en sy het aan die kunswerk getik. Toe val die ding om en daar lê dit in duisende stukkies flenters,” het kunstenaar Stephen Gamson aan ʼn Fox News-filiaal in Miami gesê.

Hy het aan verslaggewers gesê hy was onder die indruk die vrou tik aan die kunswerk om te sien of dit ʼn regte ballon is.

ʼn Omstander het ʼn video verfilm terwyl werknemers by die galery die glasskerwe opgevee het.

Benedicte Caluch, ʼn kunsraadgewer by Bel-Air Fine Art, wat Koons se stuk geborg het, het aan die Miami Herald gesê die vrou het nie bedoel om die werk te breek nie. Versekering sal die skade dek.

Koons, ʼn Amerikaanse skilder en beeldhoukunstenaar, was nie teenwoordig nie. Hy put inspirasie uit alledaagse voorwerpe soos ballondiere. Sy werk probeer bevraagteken wat as kuns beskou moet word, selfs al het sy eie werk al op veilings vir meer as $91 miljoen verkoop.

Sy ballonhonde verskil in grootte van kleiner as 30 cm tot meer as 3 meter hoog en word in helder kleure gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Vonkprop ·

Belaglik wat mense vir nonsens sal betaal net omdat dit “kuns” is. Jy kan hierdie goed by die China Mall koop vir ‘n paar honderd rand.

Grassie ·

Ek wonder of dit ‘n ongeluk was. Die kunstenaar maak ‘n glasaffêre wat nie veel van ‘n kunswerk is nie, waardeer dit vir R760000, plaas dit op ‘n kwesbare plek, iemand stamp dit ‘per ongeluk’ om en die ou het ‘n vet versekeringsuitbetaling in sy sak.

piet ·

Ek twyfel, die ou se goed is so gewild hy het nie probleme om dit te verkoop nie.

Grassie ·

Piet – ek is seker maar ‘n regte ghwar as dit by kunssin kom, maar sommige dinge wat vandag as ware kuns bestempel word laat my maar net my kop skud.

Meisie ·

Ek dink die ballonhondjies is te frieken cute, kom maar met ‘n cute pricetag ook!

kragaap ·

Kuns ? Wonder wat sou Vermeer, Rembrandt en van Gogh dit genoem het ? Dink mens kan beter kuns by die mall of china koop …….

Elma ·

Toe ek nog klein was, het ons sulke ballon hondjies by partytjies gehad. Sommer Nakkie die Nar wat hulle gemaak het.

Koen ·

Humptie Dumptie sat on a wall……….. Wonder hoeveel is dit nou werd?

LANA is ELANè ·

Wel in werklike waarde is die ding nie ñ fraksie van dit wat die sg kunskenners dit werd ag nie. Dit is belaglik verby!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.