Omstrede lokomotiewe: Saak gaan weer in hof draai 

Binnegevegte oor die eienaarskap van 13 diesel-elektriese lokomotiewe wat deur die Spaanse maatskappy Vossloh Espana aan die Passasierspooragentskap (Prasa) verskaf is, gaan nogmaals ʼn draai in die hof maak.

Die hof moet nou sê aan wie die lokomotiewe – wat tans op verskeie plekke in die land gestoor word – nou eintlik behoort.

Dit volg na die appèlhof in November verlede jaar bevind het dat die kontrak vir die verskaffing van sowat 70 lokomotiewe met onreëlmatighede deurspek was. Die Afro 4000-lokomotiewe is ook nie geskik vir die doel waarvoor Prasa dit aangekoop het nie en ʼn ingenieursverslag het reeds in 2015 gemeld dat hulle te hoog vir Transnet se spoorlyne, brûe en tonnels is.

Die appèlhof het terselfdertyd die R3,5 miljard-kontrak vir die lewering van al die lokomotiewe terugwerkend ter syde gestel en ook bevestig dat Swifambo Rail Leasing (Edms) Bpk aan wie Prasa die tender toegeken het,  bloot ʼn front vir Vossloh Espana was. Vossloh Espana het volle beheer oor elke aspek van die kontrak vir die lewering van die lokomotiewe aan Prasa gehad.

“Vossloh was die maatskappy wat getender het en aan wie die kontrak toegeken is,” is bevind.

Prasa het nooit die sewe oorblywende Afro 4000 diesel-elektriese of die 50 elektriese lokomotiewe ontvang nie en kort na die uitspraak is ʼn prokureursbrief aan Swifambo gestuur waarin sowat R2,65 miljard van die maatskappy geëis is, die bedrag wat reeds vir die lokomotiewe betaal was. ʼn Verdere R1,5 miljoen is vir regskoste geëis.

Swifambo is tans in likwidasie en die likwidateurs is besig om die ongeskikte Afro 4000-lokomotiewe aanlyn te verkoop om onder andere die geld te verhaal wat Prasa reeds betaal het.

Swifambo se eienaar, Auswell Mashaba, en een van sy ander maatskappye, Bee One Investment (Edms)Bpk, vra nou in ʼn dringende aansoek in die hooggeregshof in Pretoria dat Swifambo se likwidateurs verbied word om die lokomotiewe te verkoop asof dit wel ʼn bate van Swifambo sou wees. Mashaba sê in ʼn beëdigde verklaring dat Swifambo nie die eienaar is nie.

Dit blyk uit stukke voor die hof dat Mashaba op 23 Augustus ʼn dagvaarding laat uitreik het waarvolgens eienaarskap van die lokomotiewe na Vossloh moet gaan en Prasa nie geregtig is op die terugbetaling van die meer as R2,65 miljard wat van Swifambo geëis word nie.

Op 29 Augustus is Mashaba deur die likwidateurs in kennis gestel dat hulle nie kan onderneem om aan sy eise te voldoen nie. Hulle het toe bevestig dat daar tans ʼn aanlyn veiling aan die gang is vir die lokomotiewe en dat die sluitingsdatum vir bieërs 12 September is.

Maar selfs al sou die veiling voortgaan, sal die bedrag wat daarmee verkry word steeds ver te min wees om Prasa se geld te verhaal. Die 13 lokomotiewe het Prasa sowat R600 miljoen gekos en dis hoogs onwaarskynlik dat hulle eers naastenby soveel op die veiling sal behaal.

Van die R2,6 miljard wat Prasa Swifambo betaal het, is slegs R1,8 miljard aan Vossloh oorbetaal.

Toe die skandaal oor die korrupte kontrak destyds aan die lig gekom het, is beweer dat Swifambo sowat R80 miljoen van die Prasa-betaling na ʼn Angolese sakevrou, Maria Gomes, en ʼn prokureur, George Sabelo, gekanaliseer het. Beide Gomes en Sabelo het volgens berigte ʼn verbintenis met oudpresident Jacob Zuma.

Mashaba het destyds erken dat die twee aan hom voorgestel is as ANC-fondsinsamelaars, maar ontken dat die R80 miljoen wat hy aan hulle betaal het van Prasa afkomstig was.

Die dringende aansoek is op die rol vir 10 September.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pottie ·

Maklik dit behoort aan ons belasting betalers nie aan die anc nie

Johnny ·

Daai geld kon na ons spoorweg pension toe gegaan het so f korrup geld gekry hul
bedank vat die admin wat jare duur dan na die howe toe dis die taktiek wat hulle gebruik geen gevoel of menslikheid nie

Gert van Wierdapark ·

Die Mashaba kader se bates MOET be vries word. Met sy R800 miljoen wat hy op die sy-spoor gemaak deur Prasa op n dwaalspoor te bring, reken ek kan hy nou maar alleen op die spoorlyn waar die Gautrein loop, gaan speel!!

Johanna Botha ·

Baie dom mense wat besluite neem in die land en dan nog stry dat dit reg is !

Gert van Wierdapark ·

Wat het van die sogenaamde ingenieurs wat aan die hoof van die afdeling gesit het geword? Sy maat and was mos foutief toe hy die hoogtes van die lokomotiewe gemeet het. Hy het seker vergeet die goed staan op spore!!! He-he-he!! . Hy het self vinnig spore gemaak toe sy kwalifikasies gesoek en nie gevind kon word nie!!! Is dalk nou n stoker op die Sous-Trein?

Nuuskierig ·

Wat ‘n gemors!
Die persoon wat die spesifikasies deurgegee het of nie nagegaan het – is die skuldige.
Hier sit ons alweer met ‘n weghol trein – A blameer B – C het dit nie, D het net van dit – die legkaartstukkies sal hopelik bymekaar kom – die probleem is net so baie is al weg …….

JohanR ·

Gee dit weg vir parlementariërs, en noem dit hulle sous treine!

Johan ·

Hierdie is ‘n tipiese BEE – situasie. Daar word altyd van ‘n middelman gebruik gemaak wat eintlik niks doen maar net homself met groot bedrae verryk omdat hy die prys uitermatig hoog laai

Leon ·

Natuurlik gaan hulle nie genoeg geld terugkry nie. Die lokomotiewe se prys is so gelaai dat jy 10 lokomotiewe vir die prys van een PRASA loko kon kry. Die onbevoegdes kon maklik ‘n rat voor die oë gedraai word met al die geld wat in hulle rekeninge beland het. Lucky Montana was baie lucky met die aankoop en hy loop nog steeds los rond. Hulle moet die geld van hom eis. Eintlik moet hulle hom en sy familie aan ‘n arabier vekoop tot sy skuld betaal is. Laat hy swoeg vir sy droogmaak.

Msljan ·

Midde in elke kan vrot wurms wat oopgemaak word, sit jacob zuma. Wanneer gaan hy tronk toe?

Christo ·

Die lokomotiewe gaan later op die skrootwerf beland. Ramaphosa het nie eers die steun van die ANC om die land te regeer nie, wat nog van die Zuma regering se gemors uit te sorteer nie. Ramaphosa is net ‘n dromer wat in sy eie droomwêreld lewe. Hy beteken net mooi niks vir SA nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.