Omstrede vismeelfabriek kry groen lig in Wes-Kaap

Die Oceana-vismeelfabriek in Houtbaai (Foto via Fresh Air for Hout Bay)

Die Wes-Kaapse regering het die groen lig gegee vir die oprigting van ʼn omstrede vismeelfabriek in Mosselbaai, ondanks geweldige teenkanting deur die inwoners van dié skilderagtige dorp op die Tuinroete. Hulle vrees dat die beoogde fabriek ʼn stank oor die dorp sal laat hang en dit van ʼn gewilde vakansiedorp in ʼn industriële agterplaas sal verander.

Die provinsie se departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning sê die positiewe gevolge van Afro Fishing se voorgestelde projek ten bedrae van sowat R350 miljoen weeg op teen die negatiewe gevolge daarvan en dat plaaslike diensverskaffers en die Mosselbaai-ekonomie daarby sal baat.

Een van die voorwaardes van die toestemming is dat die nuutste tegnologie om lugbesoedeling te voorkom by die aanleg geïnstalleer moet word.

Die fabriek sal tot 1 000 ton rou vis per dag verwerk en sal vismeel en visolieprodukte vir die uitvoermark produseer waar dit as ʼn bestanddeel van diere-voer gebruik word. Sowat vier kilogram vis is nodig om een kilogram vismeel te vervaardig.

Geskokte inwoners wat in hul honderde die projek teengestaan het, is woedend. Elsa Wessels, die redakteur en eienaar van die aanlyn koerant Mosselbayonteheline.co.za het aan Maroela Media gesê al die bloedsweet was verniet.

“Hierdie magtiging is net ’n bewys dat die stem van die land se burgers baie min impak op plaaslike, provinsiale en nasionale beslissings het wat hulle direk raak en nadelig beïnvloed.”

Nog ʼn inwoner, Petro van der Westhuizen, het aan Maroela Media gesê dit gaan ʼn ramp vir die mooie Mosselbaai wees. “Ons dorp gaan vrot.”

Ook op Facebook het inwoners van hulle laat hoor: “Julle gaan Mosselbaai verwoes”, “Skandelik” en “Hoe durf hulle as almal nee gesê het”, was van die kommentare.

Daar was egter ook die wat gejuig het in die hoop dat die fabriek werkgeleenthede gaan skep. Maroela Media het voorheen berig dat dit slegs seisoenale werk aan sowat 200 mense gaan verskaf.

Lede van die gemeenskap het nou 20 dae om teen die besluit te appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

tweeling ·

Daar is mos nou baie mense in en om Mosselbaai, staan op en betoog!

JohanR ·

Stem saam Robert. Die verwoesting van reen woude, die bou van kernkrag stasies, die vervoer van duure en soe voorts is al stop gesit deur mense. Het al self gesien dat dag na dag gaan le mense voor die skraapers. Mense KAN dinge stop sit!

Seeskilpadjie ·

Dis ‘n gejaag na wind. 90% het pistiesie geteken en gesê ons soek dit nie. Mense is blind as dit kom by geld

JohanR ·

Stem saam Mosselbaai. Wil ook nie ‘n vismeeelfabriek he waar ek bly nie. Wat se die hofe, of is die storie nou al verby die hofe stadium. Jy kan 33 miljoen mense kry om NEE te se, en dit sal nog nie saak maak nie. Die owerhede SAL dit bou! Dit is amper soe sleg as vat die ANC nog drie kernkrag stasies wil opslaan kus langs. Daar was oor die miljoen handtekening ontvang TEEN die bou van ‘n lewensversekering maatskappy se nuwe gebou in Kaapstad….maar teen al die eenkanting is hy gebou. Dit was voor my tyd, maar daar moes mense met hewige beswaare gewees het teen die Peeper Pote wat teen Tafelberg staan…..maar dit is gebou. Alhoevel die DA in bevel is in die Wes-Kaap kyk maar nog die papiere deur en kyk watter name gaan voordeel trek uit die bou van ‘n VISMEELFABRIEK IN DIE MOOIE MOSSELBAAI! Sterkte…..wat se ek nou. Die enigste sterk(te) reuk gaan kom van ‘n vismeelfabriek!

Fedup ·

If anyone can lie and bulldoze like afro fishing, we would all be billionaire’s.
And afro is a hairdo, not a fish. Honestly.

Seeskilpadjie ·

Daar gaan al die vis wat ons robbe en pikkewyne moet eet. Hul is besig om ons see leeg te tap vir eie gewin. Disgusting. Dan wil ek nie eers praat van die reuk nie. En 90% van Mosselbaai staan teen dit. Maar val op dowe ore.

Francois Le Cochon ·

“Can’t you see, it all makes perfect sense, expressed in dollars and cents
pounds shillings and pence” – Roger Waters (Pink Floyd) 1992

Spyker ·

Maklik, saboteer die oprigting gereeld. Dit is mos hoe dit in hierdie land gedoen word

Elmarie ·

Waar kom die geld vandaan en wie van die regering het weer ‘n vet vinger in hierdie pastei? En het China dalk ook iets hiermee te doene?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.