Omvattende navorsing oor vreemde hepatitis onder kinders

Navorsers behoort binnekort meer inligting oor die oorsprong van die siekte te hê. (Argieffoto: Fethi Belaid/AFP)

Die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en Voorkoming (CDC) ondersoek 109 voorvalle van ʼn vreemde soort hepatitis onder kinders. In vyf van die gevalle het die kinders gesterf, het die instelling Vrydag gesê.

“Ondersoekers hier en wêreldwyd werk hard om die oorsprong te bepaal,” sê Jay Butler, adjunkdirekteur vir aansteeklike siektes by die CDC.

In 90% van die gevalle moes die kinders hospitaalbehandeling ontvang en 14% van hulle moes ʼn leweroorplanting kry. Sowat 18% van die kinders het ook positief vir Covid-19 getoets.

Die meeste kinders het egter ten volle herstel.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die afgelope week gesê hy het 348 moontlike gevalle van die hepatitis (waarvan die oorsprong onbekend is) geïdentifiseer.

Gevalle is reeds in 20 lande aangemeld en 70 bykomende gevalle is in 13 lande opgeteken waar toetse nog afgehandel moet word.

Net ses lande het meer as vyf gevalle aangemeld – met Brittanje waar 160 bevestig is.

Die CDC het verlede week ʼn gesondheidswaarskuwing uitgereik waarin dokters en openbare gesondheidsorgowerhede gewaarsku word om op die uitkyk te wees vir soortgelyke gevalle. Daar is ook gekyk na gevalle so ver terug as Oktober verlede jaar.

In meer as die helfte van gevalle is daar positief getoets vir die adenovirus – ʼn virus wat gewoonlik verbind word met gastroënteritis, maar nie hepatitis in andersins gesonde kinders nie.

Wetenskaplikes het steeds geen klinkklare antwoorde nie, maar die adenovirus is tans boaan die lys van virusse van belang wat ondersoek word.

“Ons weet egter nie of dit die adenovirus self is wat die oorsaak is, en of daar ʼn immuunreaksie verbonde is aan hierdie spesifieke variant van die adenovirus nie,” sê Butler.

Daar word ook na omgewingsfaktore gekyk – soos die voorkoms van diere in die huis – en na ander patogene, byvoorbeeld Covid-19, wat dalk ʼn rol kan speel.

Adenovirus-gevalle is moontlik ook aan die toeneem, nadat Covid-19-inperkings die verspreiding daarvan ʼn paar jaar lank gestuit het. Die moontlikheid bestaan egter ook dat die adenovirus in ʼn nuwe en gevaarliker variant muteer het.

Brittanje doen ook nou omvattende navorsing oor die genetika van die betrokke kinders en hul immuunreaksie. Virusse word ondersoek en verdere epidemiologiese studies gedoen.

Die WGO is op 5 April die eerste keer oor die onverklaarde hepatitis-gevalle in Skotland ingelig nadat dit onder kinders jonger as 10 bespeur is.

Wetenskaplikes behoort binnekort te weet of adeno net ʼn toevallige infeksie is wat geïdentifiseer is, en of daar ʼn kousale verband met die hepatitis is. Studies van lewermonsters en biopsies wat gedoen is, het egter geen van die gewone eienskappe gewys wat gewoonlik met lewerinflammasie wat deur adenovirus veroorsaak word, gepaardgaan nie.

Adenovirusse word algemeen versprei deur nabye persoonlike kontak, spoegdruppels en besmette oppervlakke. Dit is algemeen bekend dat dit asemhalingsimptome veroorsaak, asook bindvliesontsteking en selfs spysverteringsprobleme.

Die CDC glo egter nie die Covid-19-entstof is daarvoor verantwoordelik nie. Nege gevalle onder kinders van gemiddeld twee jaar oud is ook in Alabama ondersoek – en hulle was te jonk om die entstof te ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

VaalDonkie ·

Wat van kinders wat borsvoed en die S-protein deur borsmelk inkry? Ek vra maar net want niemand hierbo genoem vra dit nie.

Hennie ·

Snaaks ek het Nogals ‘n gepubliseerde navorsing stuk wat presies dit uitwys

VaalDonkie ·

Great. Dis goed om te weet daar is nog mense wat hul werk ernstig opneem.

Miskruier ·

Waar, borsvoeding verhoog geelsug maar die slim dokters beskou dit dan as n rede om vroue te ontmoedig om te borsvoed. Dink net ons moes al duisende jare gelede uitgesterf het…. die vaksiene is deel hiervan

domheks ·

Wat van die vitamines wat so ingeneem is om Covid te voorkom?

VaalDonkie ·

Jou ligaam skei gewoonlik net die oortollige vitamine uit. Wel, dis hoe ek dit al die jare verstaan het.

Johan ·

Wat van die isolasie van ons immuunstelsel, dit kon ons kinders nogal negatief beïnvloed het….o ja ek vergeet, natuurlike immuun bestaan mos nie.

Owlie ·

Begin by al die gemors wat by kos in gegooi word, groente & vrugte wat nie meer natuutlik ryp word nie, vleis en suiwel produkte wat met hormone en vele meer oor laai word, onnodige stres veral tydens die lockdown periode, dra van maskers waar jy nie voldoende vars suurstof inasem nie en dan natuurlik ook die water wat ons drink en alles in plastiek bottles te koop en moenie al die indpuitings vergeet nie

VaalDonkie ·

Dan sou dit al dekades lank aangegaan het. Hierdie is bietjie meer verdag.

Johan ·

Medici moet verbied word om enigeiets te publiseer. Hou jul twak vir julself, anders maak julle net skade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.