Onblusbare passie vat sjef Thinus van die Moot tot Michelin-ster

Thinus van der Westhuizen. (Foto: Verskaf)

Die afgelope twee weke was ʼn warboel en waas vir Thinus van der Westhuizen, hoofsjef van die 99 Sushi Bar in Abu Dhabi.

Dié Pretoria-boorling het pas die vierde én jongste plaaslike sjef geword om met ʼn gesogte Michelin-ster bekroon te word en voel of sy hele wêreld oornag verander het.

“Dit was vir my heeltemal onverwags, ek het selfs gedink die uitnodiging na die toekenningsgeleentheid was spam,” vertel die 33-jarige laggend oor Zoom vanuit die gesogte Japannese restaurant waar hy die afgelope agt jaar werk.

“Toe hulle ons naam uitroep, het my kop skoon gedraai want ons het nie dié geleentheid met verwagtinge bygewoon nie. Ek kon darem na die tyd dit weer op video kyk en almal se reaksies sien.”

Thinus en sy span by die 99 Sushi Bar. (Foto: Verskaf)

Thinus sê hy bars van trots, veral omdat dít wat hy en sy span as die norm in hul restaurant beskou, goed genoeg was om die “wêreldbeker-trofee van kookkuns omhoog te hou”.

Die Michelin-gids is ʼn reeks uiters goed nagevorste gidse wat sedert 1900 deur die Franse bandemaatskappy Michelin uitgegee word en ken tot drie Michelin-sterre toe vir uitnemendheid aan ’n paar uitgesoekte ondernemings.

Vanjaar is daar vir die eerste keer restaurante in die Midde-Ooste in die Michelin-stergids opgeneem.

Benewens Thinus kon nog net drie ander Suid-Afrikaanse sjefs deel van dié eksklusiewe klub word, naamlik Jan-Hendrik van der Westhuizen, Connor Toomey en Jean Delport.

“Daar is altyd baie bespiegelinge van hoe ʼn mens ʼn Michelin-inspekteur kan uitken, byvoorbeeld dat hulle iets laat val om te kyk hoe vinnig jy dit optel of hulle bestel iets op ʼn spesifieke wyse, maar ons doen net ons ding en steur ons nie daaraan nie. Ons glo elke liewe maaltyd moet voorberei word asof dit vir ʼn Michelin-inspekteur bedien gaan word.”

Grootbrakrivier lei tot nog groter dinge

Hy vertel dat kookkuns reeds sedert die ouderdom van 16 so diep in sy DNS ingeweef is dat hy skoon uit sy plek voel wanneer hy nie in ʼn kombuis is nie.

Sy pa, Kobus, was ʼn meganiese ingenieur, maar het ook ʼn spysenieringsmaatskappy gehad en so ʼn liefde vir kosmaak by Thinus gekweek.

Thinus is die jongste Suid-Afrikaanse sjef om ‘n Michelin-ster te ontvang. (Foto: Verskaf)

Dit was egter in die kombuis van die restaurant Transkaroo in Grootbrakrivier naby Mosselbaai in die Wes-Kaap waar hy besef het dat hy sy roeping en passie gevind het.

Dié restaurant het aan Stefan Jamneck, ʼn vriend van Thinus se pa, behoort en later soos sy tweede tuiste geword waar hy elke moontlike skoolvakansie wou deurbring.

“Sjef-wees was toe baie anders as vandag. Daar was ʼn mengelmoes van onervare karakters, soos ʼn man uit die Ierse weermag en ʼn voormalige krimineel in die kombuis.

“Die kameraadskap was egter ongeken, ons was later soos familie. Die adrenalien van in ʼn besige kombuis werk, het my ook dadelik gevang en iets in my laat ontwaak.”

Daarna het hy gedurig opdrag van sy gasvryheidstudiejuffrou by die Hoërskool Menlopark gekry om voor in die klas te vertel watter nuwe vaardighede hy geleer het.

“Maar ek en ʼn paar ander ‘rebelle’ het aanvanklik gasvryheidstudies geneem omdat die juffrou nie kwaai was nie en dit lekkerder geklink het om voor potte as handboeke te wees,” skerts hy.

Toevallig is baie van daardie selfde klasmaats óók vandag in die kosbedryf.

Die ink van sy finale matriekvraestel was skaars droog, toe is hy weer terug voor Transkaroo se potte. Hy het selfs sy matriekvakansie opgeoffer om daar te werk.

“Ek dink dis wat baie jong of belowende sjefs nie besef nie. Dis een ding om 12 ure ʼn dag by ʼn restaurant te klok, maar ʼn ander om kuiers en spesiale geleenthede gedurig mis te loop. As jy dít nie kan doen nie, dan is dié wêreld nie vir jou nie.”

Danksy Stefan se invloed (en ʼn deposito) kon hy sy studies by die Eden School of Culinary Art, nou die Francois Ferreira Academy, begin. “My pa kry toe kort daarna ʼn stewige rekening in die pos. So het hy uitgevind dat ek nou by kookskool ingeskryf is,” skerts hy.

Daarna het hy sy City and Guilds-akkreditasie by die Steyn’s Culinary School in Pretoria voortgesit. Hier is hy vir die eerste keer uitgedaag om buite die boks te dink, iets wat hy sê tot vandag toe nog by hom vasgesteek het.

Toe kom klop kanker

Danksy draaie in Plettenbergbaai, Dullstroom en Mosambiek is sy vaardighede geweldig uitgebrei, maar ʼn kankerskok in 2015 het amper sy kookkunsdrome gekelder.

ʼn Kwaadaardige gewas is in sy brein opgespoor en suksesvol verwyder nadat hy in Mosambiek epileptiese aanvalle gekry het.

Thinus woon al agt jaar lank in die Verenigde Arabiese Emirate. (Foto: Verskaf)

“Kanker is ʼn persoonlike ding. Elkeen hanteer dit op hul eie manier. Ek het gekies om myne soos ʼn verkoue te hanteer en wou dit so gou as moontlik laat behandel. Dit was vir my ook belangrik om positief te wees ter wille van my familie. Ek het gevoel dat die manier waarop ek dit hanteer, hulle gemoedere gaan beïnvloed.”

Sy positiewe ingesteldheid het klaarblyklik heelwat verder as sy familie gestrek. Om en by 11 000 km om presies te wees.

“Daar het ʼn boer uit die Vrystaat my na my onlangse onderhoud op RSG gekontak en gesê dat hy geweldig moedeloos was oor die omstandighede op sy plaas tot hy my verhaal gehoor het. Ek het toe veral besef hoe jou ingesteldheid teenoor uitdagings ander mense kan beïnvloed.”

Nou lyk die toekoms nog smaakliker

Sy groot droom is om eendag ʼn restaurant op eie bodem oop te maak. “Maar ek wil nog toer en moet presies dan weet wat ek wil doen. Ek wil inkom met ʼn bang!”

Die 99 Sushi Bar. (Foto: Verskaf)

Een ding waarvan hy wel seker is, is dat alles met vlamme voorberei sal word. “My gunstelingdis en sommer ook my party trick is ʼn as-filet wat direk op die kole gaargemaak word.”

Hy glo ook dat aanpasbaarheid juis sy spesialiteit is, maar hoop ook om volgende jaar Japan te besoek om sy aan sy met sjefs te werk en dié land se kookkuns te bemeester.

Iets wat hy wel vandag steeds nie kan bemeester nie, is sy ma se malvapoeding. “Dit moet die liefde wees wat daarin gaan, myne smaak net nooit dieselfde nie.”

Wat kan dan tog nog verder op ʼn sjef se wenslysie wees as ʼn Michelin-ster aan hom toegeken is? “Daar is vier van ons wat een Michelin-ster het, maar nie een wat al twee kon kry nie,” voeg die jong sjef met ʼn knipoog by.

“Die eerste Michelin-ster gaan meer oor die sjef en of sy passie en identiteit in die gehalte en bestanddele van die disse raakgesien kan word, daarom is dit so spesiaal om jou eerste een te kry. Goed soos atmosfeer, die wynlyste en dies meer word vir twee sterre ingereken, so dit word meer uitdagend.”

En drie sterre?

“Nee dit beteken jy lewe in jou kombuis, daardie sjefs het almal ʼn skroefie los,” skerts hy.

Nie dat sy eie dagboek baie vrye tyd toelaat nie.

“Ek probeer minstens twee, dalk drie keer ʼn jaar huis toe gaan en dan vir minstens ʼn maand by my ma en suster in Somerset‑Wes te kuier. Gelukkig is hier baie Suid-Afrikaners, selfs mense uit my matriekjaar, in Dubai en Abu Dhabi.”

Vir nou gaan hy sy een ster, wat hy aan sy pa opdra, geniet.

“My pa is verlede jaar weens ʼn stryd teen Covid-19 oorlede. Daarom is hierdie prestasie ook vir hom, want hy het dít alles vir my laat begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.