Ondernemings ly oor Montagupas gesluit bly

Die Montagu-pas is nou al maande lank gesluit. (Foto: Verskaf)

Inwoners van die Suid-Kaap is moedeloos oor geen vordering skynbaar gemaak word om die Montagupas weer vir verkeer oop te stel nie. Die pas is reeds maande lank gesluit en sakeondernemings langs die roete kla hul besigheid ly daaronder.

Die provinsiale regering is volgens inwoners van George en Herold verantwoordelik vir die herstel van die Montagupas en moet, in samewerking met Erfenis Wes-Kaap en die George-distriksmunisipaliteit, sorg dat hierdie geskiedkundige baken vir die nageslag bewaar word.

Die pas, wat ʼn lewensaar is tussen Herold aan die noordekant van die Outeniekwaberge en die buitewyke van George, is reeds in 1848 geopen en is die oudste onveranderde pas wat steeds in Suid-Afrika gebruik word. Dit is in 1972 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar, tesame met die ou tolhuis aan die bopunt van die pas.

“Nou word hierdie geskiedkundige konstruksie skynbaar aan sy eie lot oorgelaat,” sê Nati de Swardt, voorsitter van die Simon van der Stel-stigting en lid van die George Erfenistrust.

Hy verduidelik die pas is op ʼn baie spesifieke manier gebou met hellings wat veroorsaak dat water na die bergkant en dan onderdeur die pad herlei word. “Nou is dit so geskraap dat daar ʼn rif tussen die berghang en die padoppervlak is, met die gevolg dat afloopwater die pad aanhoudend verspoel.”

De Swardt meen groter sorg moet aan die dag gelê word om die pas behoorlik te herstel en spesiale vaardighede is daarvoor nodig.

“ʼn Vorige kontrakteur het byvoorbeeld van die ‘tone’ in die muur – klippe wat so geplaas is om die wiele van ossewaens van die veiligheidsmuur af te weer – uitgeruk en groot skade veroorsaak. Die pad moet volgens die oorspronklike konstruksiemetodes herstel word omdat moderne tegnieke dit net verder gaan beskadig.”

De Swardt meen een van die grootste nadele is die verlies aan inkomste vir die streek omdat minder toeriste die gebied nou besoek.

“Die pas is ʼn groot toeriste-aantreklikheid en baie mense kom hierheen net om met die pas te ry en die uitsig te bewonder. Motorfietsryers en bergfietsentoesiaste was ook gereelde besoekers aan die pas. Nou is dit alles daarmee heen en ondernemings aan weerskante van die pas ly swaar verliese,” sê hy.

Dele van die pad is so geskraap dat daar ʼn rif tussen die berghang en die padoppervlak is. (Foto: Verskaf)

Die uitvoerende burgemeester van George, Leon van Wyk, het by monde van sy kommunikasiebestuurder, Chantel Edwards, gesê hy is bekommerd oor die voortgesette sluiting en verval van die pas.

“Die skade aan die Montagupas is reeds tydens die vloede van November 2021 aangerig. ʼn Hele reeks besprekings is sedertdien tussen die George-munisipaliteit en die Wes-Kaapse provinsiale regering, onder wie se beheer die pas val, gehou om praktiese oplossings vir die rehabilitasie van die pas te kry. Hierdie en ander gesprekke tussen rolspelers het tot dusver geen vrug gebaar nie.”

Nico Fourie van Herold Wines bedryf een van die ondernemings wat swaar gebuk gaan onder die sluiting van die pas. Die plaas, ʼn boetiekwynlandgoed, is in 1997 begin en het in 2003 sy eerste wyne  gemaak.

“My besigheid het met omtrent 70% verminder omdat mense wat met die pas ry dikwels by ons aandoen. Dit is gewoonlik gaste wat ons ontdek, net omdat hulle die historiese pas wou ry en dan onbepland by ons uitkom. Ons botteletiket is ʼn afdruk van die oudste ets van die pas wat in die Kaapse argiewe gevind is en die plaas se enigste toegangspad is uit die Montagupas.

“Maar wat vir my nog erger is, is dat ʼn nasionale gedenkwaardigheid net so gelos word om verder te verval. Dit wil voorkom asof niemand erg het om iets hieraan te doen nie. Dit is nie eens so moeilik nie – ʼn deeglike gruislaag wat reg gelê is, sal die probleem grootliks oplos. Hier is mense wat geld bewillig het om die onkoste te dek, maar ons kry nie reaksie van Erfenis Wes-Kaap nie,” sê hy.

Estelle Brits van Over the Mountain-gastehuis en teetuin aan die bopunt van die pas meen die skade wat die sluiting van die pas veroorsaak, sluit werksverliese in.

Nico Fourie, eienaar van Herold Wines, sê toerisme ly daaronder dat die pas vir so lank gesluit is. (Foto: Verskaf)

“Vandat die pas gesluit is, het besoekers aan die teetuin met omtrent 50% afgeneem. Dit het tot gevolg dat ek tans niemand voltyds kan aanstel nie en al die werknemers met halfdagposte moet klaarkom. Baie van hulle is die enigste broodwinners vir hul gesinne en dit lei natuurlik tot verdere swaarkry. Ons het al alles probeer, maar geen sukses behaal nie,” sê sy.

Ken Gie, wat die historiese tolhuis in die pas bestuur en ʼn stigterslid van die Vriende van die Tolhuis is, sê die pad is verflenter hoofsaaklik omdat die distriksmunisipaliteit deur die jare die instandhouding daarvan verwaarloos het.

“Toe herstelwerk wel begin is, het Erfenis Wes-Kaap ʼn stokkie daarvoor gesteek, met die gevolg dat verdere verspoelings die padoppervlak nog meer beskadig het.

“Die stuk pad tussen die tolhuis en die Keurrivierbrug is die ergste getref, maar boere en sommige 4×4-eienaars ignoreer eenvoudig die sluiting en probeer steeds met die pas ry. Ons het self al sandsakke op die slegste dele gepak om dit begaanbaar te maak.

“Die tolhuis het self baie gely en daar is ongeveer 80% minder mense wat dit besoek. Die toekoms lyk maar duister. Ons kom nêrens met Erfenis Wes-Kaap nie en niemand wil met ons praat nie. In die nuwe jaar gaan ons maar die provinsiale regering probeer oorreed om iets aan die pas te doen – al is dit dan net tydelike herstelwerk totdat ʼn volledige rehabilitasieprojek kan volg,” sê ʼn moedelose Gie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.