Ondersoek duur voort oor ‘twyfelagtige’ Kubaanse medisyne vir weermag

Argieffoto (Foto: HeungSoon/Pixabay)

Die parlementêre portefeuljekomitee oor verdediging en militêre veterane sal weer met die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag se gesondheidsdiens- geneesheer-generaal, lt.genl. Zola Dabula, die hoof- finansiële beampte Siphiwe Sokhela, die hoof van logistiek, lt.genl. Jabulani Mbuli en die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra) vergader om die redes agter die aanskaffing van Heberon te bepaal en antwoorde te kry wat nie verskaf is nie, weens tydbeperkings.

ʼn Vergadering is gister gehou as opvolg ná ʼn gesprek met die kantoor van die ouditeur-generaal wat ʼn verslag van die spesiale oudit oor die finansiële bestuur van Covid-19-fondse deur die departement van verdediging aan die komitee oorhandig het.

Maroela Media het vroeër berig die DA en die ANC het druk op die komitee geplaas om ʼn ondersoek te gelas na aanskaffing van ʼn besending Interferon, Kubaanse medisyne wat die DA as “twyfelagtig” bestempel. Die weermag se militêre bevelsraad het die Kubaanse middel genaamd Heberon Interferon alfa-2B aangekoop sonder vooraf goedkeuring van, of registrasie by die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra). Luidens berigte het sowat 40% van die besending boonop tot niet gegaan nadat ʼn koelkasdeur oopgelaat is, hoewel die weermag dié bewering ontken.

“Weens die erns en volume van die inligting wat ontvang is, het die komitee besef dit is belangrik om nog ʼn vergadering te belê om die saak verder te bespreek,” het Cyril Xaba, voorsitter van die komitee, gesê.

Die komitee vind dit egter onaanvaarbaar dat sommige beamptes van die departement van verdediging doelbewus inligting van die kantoor van die ouditeur-generaal weerhou, wat die kantoor in staat sal stel om die spesiale oudit af te handel.

“Die doelbewuste weerhouding van inligting oor die aanskaffing van Heberon ® Alfa R (Heberon), wat die aktiewe bestanddeel interferon alpha 2b bevat, wat vir ongeveer R260,59 miljoen deur die departement aangeskaf is, is onaanvaarbaar. Dit ondermyn die outoriteit van die parlement en die komitee, omdat daar op 3 Februarie 2021 ʼn duidelike opdrag aan die departement gegee is om die inligting beskikbaar te maak,” het Xaba bygevoeg.

“Die versuim om ag te slaan op ʼn opdrag deur die parlement skep die indruk van ʼn gebrek aan deursigtigheid, en dit ondermyn aanspreeklikheid. Die weerhouding van inligting ondermyn ook die versekering van die minister van verdediging aan die kantoor van die ouditeur-generaal om alle inligting beskikbaar te maak om die spesiale oudit af te handel.”

Xaba het gesê die komitee bly uiters besorg oor die aanskaffingsbeleid vir medikasie en regulatoriese voorskrifte wat verbreek is toe Heberon aangeskaf is. “Die komitee neem in dié verband kennis van die minister van verdediging se voornemens om ʼn ondersoek van stapel te stuur oor die kwessie. Die ondersoek moet vinnig afgehandel word om deursigtigheid en aanspreeklikheid te verseker,” het hy benadruk.

Die komitee bly daartoe verbind om die saak teen volgende week af te handel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Dank die weermaghoof asaook sy adjudante verantwoordelik onmiddelik af,…SONDER vergoeding. Die weermag het ‘n hengse verleentheid vir land geword asook ‘n bodemlose put van verspilling!

Nie Verbaas ·

Oor 4 jaar hoor ons nog steeds die ondersoek duur voort en dan verdwyn die ondersoek soos mis voor die son.

Regverdigheid ·

Hul vat te lank om ondersoek af te handel tree op raak ontslae van die vrot appels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.