Ondersoek ingestel oor vrou se liggaam in vrieskas

Die polisie in Mpumalanga glo dié vrou kan hulle met hul ondersoek bystaan (Foto verskaf deur SAPD/Mpumalanga)

Die polisie in Mpumalanga stel ondersoek in ná ʼn 80-jarige vrou se liggaam Maandag in ʼn vrieskas by Pankop naby Mmamethlake gevind is.

Kol. Donald Mdhluli, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorlopige ondersoek dui daarop dat die slagoffer by haar 10-jarige kleinseun en ʼn versorger, vermoedelik van Lesotho, gebly het. Die versorger is gehuur om na die ouma om te sien.

“Die seuntjie het Maandag van die skool af teruggekom huis toe, maar daar was niemand tuis nie,” het Mdhluli gesê. “Die deur van die huis het oop gestaan, maar die veiligheidshek was gesluit. Hy het toe by die bure gaan aanklop om te hoor of hulle weet waar sy ouma en die versorger hulself bevind.”

Die bure het hom help soek en die familie is ook intussen in kennis gestel van hulle verdwyning.

Tydens die soektog het bure agterdogtig geword toe hulle sien ʼn koffietafel, ʼn gasstoof en ʼn televisiestel is op die vrieskas geplaas. “Hulle het die items verwyder en die liggaam van die bejaarde vrou in die vrieskas gevind. Die polisie en paramedici is ontbied en die vrou is op die toneel dood verklaar. ʼn Saak van moord word ondersoek.”

Die polisie doen ʼn beroep op ʼn vrou genaamd MmaThato (in die aangehegte foto) om dadelik na die naaste polisiestasie te gaan omdat sy hulle vermoedelik in die ondersoek kan bystaan.

Enigiemand met inligting kan speurderkaptein Solomon Moshime kontak by 082 065 1355 of Crime Stop by 08600 10111 of stuur ʼn wenk aan die MySAPSApp. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Mdhluli het gesê ʼn soortgelyke voorval het tussen Maart en September 2020 by Valbank, ʼn paar kilometer buite Mmamethlake, plaasgevind. “ʼn 91-jarige vrou is ernstig aangerand deur ʼn versorger wat aangestel is om na haar om te sien. Ná ʼn voorval het die 45-jarige verdagte van die toneel gevlug en die polisie het ʼn saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer, ondersoek. Die verdagte, vermoedelik van Lesotho, is uiteindelik in Pretoria in hegtenis geneem. Sy sal na verwagting Vrydag in die Mbibana-landdroshof verskyn waar sy vermoedelik sal aansoek doen om borgtog.”

Die polisie het die voorval en die gewelddadige aanval op senior burgers veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Sy is vermoedelik van Lesotho Hoe wetting is haar verblyfreg in SA.Indien sy nog in die land is en sy word gearresteer, gaan sy borg kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.