Ondersoek na dood van Cradock-4 heropen

Die Cradock-vier se grafstene. (Foto: Foundation for Human Rights)

Die ministerie van justisie en korrektiewe dienste het Vrydag gesê hy sal die ondersoek na die moord op vier anti-apartheidsaktiviste heropen wat een van die era se mees berugte misdade geword het, maar byna vier dekades later steeds onopgelos bly.

Die sogenaamde Cradock-4 – Fort Calata, Matthew Goniwe, Sicelo Mhlauli en Sparrow Mkhonto – was in Junie 1985 op pad terug van Port Elizabeth (nou Gqeberha) na Cradock toe hulle vermoedelik deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisie (SAPD) se veiligheidstak by ʼn padblokkade in hegtenis geneem, aangerand en vermoor is.

Mkhonto en Mhlauli se liggame is kort ná die voorval by ʼn stortingsterrein in Port Elizabeth gevind, terwyl Calata en Goniwe se liggame dae later in ʼn baai gevind is.

Al vier mans was erg aangerand, het verskeie diep steekwonde opgedoen en hul oorskot was verbrand.

Die veiligheidsmagte onder die apartheidsregime is daarvan verdink dat hulle agter die moorde was. Niemand is egter al voor die hof gedaag nie.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, sê dit is “in die belang van geregtigheid om finaal afsluiting vir die families van die oorledenes te bring wat al dekades vir die waarheid wag oor wie hul geliefdes vermoor het”.

Twee geregtelike doodsondersoeke is gehou – in 1987 en 1993 – maar “het meer vrae as antwoorde opgelewer”.

Ná die einde van apartheid in 1994 is die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) gestig om die gruwels van die wit minderheidsregime te ontbloot.

Die WVK het bevind dat die Suid-Afrikaanse regering, polisie en veiligheidsmagte verantwoordelik was vir “ʼn sistematiese patroon van mishandeling” wat gelei het tot die “sterftes en verdwyning van aktiviste”.

“14 jaar ná die grusame dood van die oorledenes het lede van die veiligheidsmagte onthul hoe en hoekom die oorledenes vermoor is.

“Die WVK het amnestie gebied aan diegene wat ten volle vir hul misdade verantwoording gedoen het, hoewel dit aan verdagtes wat by die Cradock-4-sterftes betrokke was, geweier is,” sê Lamola.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het gevra dat die saak heropen word om bewyse van die WVK aan te bied wat nie in die vorige navrae oorweeg is nie.

Lamola sê dié stap is nodig om “vertroue in die regstelsel te herstel”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stofdonkie ·

Lamola kan altyd probeer om meer onlangse sake se ondersoeke te finaliseer soos byv die ondersoek teen zuma en sy maats as hy die vertroue in die regstelsel werklik wil herstel. Daar is ook die saak van ace magashule waaraan hy kan aandag skenk

Bolandse Nooi ·

Dit was byna 30 jaar gelede. Kom ons begin ook sommer om te kyk na die nasate van die Zulu’s wie se voorouers óns voorouers by Bloukrans uitgemoor het tydens die Groot Trek … moord bly mos moord, of dit nou 30 of 185 jaar gelede gebeur het, al dan nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.