Ondersoek teen Eskom se Pillay moet ‘vinnig, deeglik’ wees

Karen Pillay, hoof van sekuriteit by Eskom. Sy is as voorsorgmaatreël vandeesweek geskors. (Foto: Twitter)

Solidariteit sê sy eie interne ondersoeke wys dat die gewraakte sekuriteitskontrak, wat onder andere gelei het tot die skorsing van adv. Karen Pillay, hoof van Eskom se sekuriteit, waarskynlik deur die toepaslike beheerstrukture in Eskom goedgekeur is.

“Dit lyk of die privaatsekuriteitskontrak gesluit is om die bedreiging van sabotasie tydens industriële aksie te voorkom en op al die toepaslike strukture hanteer is,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Die besluit blyk geregverdig te wees in die lig van die ontwrigtende en kriminele aard van die sogenaamde staking. Ons het wel vrae oor of die omsigtigheidstudies deur Pillay wel behoorlik gedoen is,” sê Hermann.

Eskom het Donderdag bevestig dat hy Pillay as voorkomende maatreël geskors het sodat die ondersoek na die toekenning van die R500 miljoen-kontrak ongehinderd kan voortgaan.

Die kontrak van drie maande is aan Fidelity Services Group toegeken ingevolge noodverkrygingsmaatreëls. City Press het vroeër berig voormalige Eskom-bedryfshoof Jan Oberholzer het sy handtekening op die kontrak gesit. Daar is nou ook oproepe om sy nuwe tweejaarkontrak by die kragvoorsiener op te skort.

Hermann sê in die lig van die erns van die bewerings wat gemaak word, moet alle inligting volledig bekend gemaak word.

“Solidariteit versoek ook dat hierdie en ander bewerings teen Pillay, vinnig en deeglik ondersoek word. Ons dring aan op harde en vinnige optrede teen enige vorm van korrupsie, maar ons vra ook vir deeglike en regverdige ondersoeke,” sê Hermann.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan Tredoux ·

“…want ons moet die publiek onder die indruk plaas dat dinge gedoen word…” mos!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.