Ondersoekdirektoraat gryp Gupta-meelopers se bates

Een van die luukse eiendomme waarvoor die OD ‘n bewaringsbevel bekom het. (Skermgreep: Top Billing/YouTube)

Die net om die berugte Gupta-familie, wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn groot rol in staatskaping in Suid-Afrika gespeel het, span al nouer nadat die Ondersoekdirektoraat (OD) van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nou ook ʼn bevel bekom het om verskeie van hul bates te laat bevries.

Die hooggeregshof in Bloemfontein het die NVG se aansoek toegestaan om bates wat behoort aan Iqbal Sharma asook sy maatskappy, Nulane Investments 204 (Pty) Ltd, te laat bevries. Dieselfde geld Islandsite Investments 180 (Pty) Lt, wat behoort aan Atul en Rajesh Gupta en hul vroue Chetali en Arti.

Sindisiwe Seboka, OD-woordvoerder, sê die beperkingsbevel is ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad toegestaan. Die bevel sal by die Bainsvlei-polisiestasie se aanhoudingselle op Sharma beteken word, terwyl die bevel teen Islandsite by die plaaslike sakeadres beteken sal word.

Die bevel geld alle bates in Suid-Afrika, wat alle eiendom van Islandsite, Sharma en sy vrou, Tarina Patel-Sharma, insluit, asook enige eiendom wat aan Sharma behoort. Dit sluit twee eiendomme wat in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) geregistreer is, in.

Seboka sê die hooggeregshof sal nou ʼn kurator aanstel wat beheer van die bates sal oorneem en dit sal bewaar hangende die uitkoms van aanklagte van bedrog en geldwassery teen Sharma, Nulane, Islandsite, die twee Gupta-egpare en hul medebeskuldigdes.

Die bates:

Sharma se bates wat deel van die kurator se inventaris vorm, sluit in sy Sandton-huis ter waarde van meer as R12 miljoen. Die eiendom was al op die leefstylprogram Top Billing, en word beheer deur ʼn VAE-geregistreerde maatskappy, Issar Global.

Ander bates sluit in lopende bates ter waarde van meer as R500 000 en ʼn deeltitelhuis van R1,3 miljoen, ook in Sandton.

Eiendom wat aan die Gupta-familie se Islandsite behoort en deel vorm van die inventaris, sluit in ʼn huis van R21 miljoen in Constantia in Kaapstad en ʼn huis van R12 miljoen in Saxonwold in Johannesburg.

Beskuldigdes

Indien hulle skuldig bevind word, sal die nasionale direkteur van openbare vervolging vra vir ʼn beslagleggingsbevel om die waarde van die voordeel wat gespruit het uit die oortredings te verhaal.

Sharma en drie voormalige amptenare van die departement van landbou het Donderdag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn nadat hulle ʼn dag tevore in verband met die omstrede Estina-suiwelprojek in hegtenis geneem is.

Die amptenare is Mbana Peter Thabethe en Limakatso Moorosi, voormalige departementshoofde, en Seipati Silvia Dhlamini, voormalige finansiële hoof van landbou in die Vrystaat. Al vier staan tereg op aanklag van bedrog, terwyl ʼn klag van geldwassery ook teen Sharma aanhangig gemaak is.

Volgens die klagstaat is sowat R25 miljoen tussen 1 November 2011 en 28 February 2012 deur die departement aan die maatskappy Nulane Investments 204 betaal om ondersoek in te stel of die Estina-suiwelprojek uitvoerbaar is.

Sharma is ʼn direkteur van Nulane en dié maatskappy is ook die vyfde beskuldigde in die saak.

Nulane het die werk aan Deloitte Consulting (Edms.) Bpk., wat die ondersoek teen ʼn bedrag van R1,5 miljoen gedoen het, uitgekontrakteer.

Die R25 miljoen wat die departement aan Nulane uitbetaal het, is glo na verskeie ander maatskappye oorgeplaas en die geld het na bewering eindelik by die Guptas beland.

ʼn Tweede subkontrak is glo tussen Nulane en die VAE-gebaseerde Gateway Limited aangegaan – glo ʼn verdubbeling van die kontrak met Deloitte – om R19 miljoen landuit te neem. Gateway word met die Guptas verbind.

Daar is altesaam 17 beskuldigdes wat in die saak aangekla word, onder wie vier Gupta-familielede wat tans in die buiteland sit. Dit sluit in Atul Gupta, Rajesh Kumar Gupta, Chetali Gupta en Arti Gupta.

Die proses om hulle aan Suid-Afrika te laat uitlewer, het reeds begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dries ·

Dit maak my naar. Ons sukkel om net ons water en ligte te betaal en hierdie mense leef so

Misky ·

Met al hulle baie geld, kom baie probleme en kyk waar het dit hulle nou. Dink ek slaap baie lekkerder saans in my eenvoudige, liefdevolle en eerlike huisie

annie ·

Wat ‘n lelike plek, maar okei, eiendomsagente sal die vloerteèls seker aan iemand afgesmeer kry…

Cora ·

Haai Annie ek dink dis vreeeeslik pragtig. Net so goed smaak verskil. maar die kunswerke is regtig mooi

Strandloper ·

Wens tog die lang arm van die gereg wil die zol koepdoek en kie ook onder n vergroot glas plaas…dink net…

Danie ·

Ons sukkel Dries omdat ons kleur verkeerd is in n rassistiese land met rassistiese wette.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.