Ondersoeke kom ná ongelukke in Oos-Kaap

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Hansie Linde)

Die polisie in Gqeberha (Port Elizabeth) in die Oos-Kaap ondersoek twee sake van strafbare manslag ná twee noodlottige ongelukke Sondagoggend.

Die eerste voorval het omstreeks 02:00 in Addoweg plaasgevind terwyl die tweede ongeluk omstreeks 07:00 op die M19 gebeur het.

In die eerste voorval het ʼn Volvo-vragmotor in Addoweg, Markman, gery toe hy glo ʼn stamp teen een van sy twee sleepwaens gevoel het.

“Hy het stilgehou en ontdek dat ʼn silwer Volkswagen Polo in dié sleepwa vasgery het. Die bestuurder en sy twee passasiers is op slag dood,” het kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoer, Sondag gesê.

“Die name en ouderdomme van die slagoffers sal bekend gemaak word sodra hulle formeel uitgeken is.”

In die tweede voorval is die polisie in kennis gestel dat daar ’n man op die M19 lê.

’n Voertuig het dié voetganger na bewering getref en weggery sonder om by die toneel stil te hou.

Die onbekende man is op die toneel dood.

Volgens Swart was die man, vermoedelik in sy 30’s, in ’n rooi T-hemp, vlootblou-en-swart-baadjie en ’n vlootblou broek, geklee. Hy het wit wolhandskoene en wit Nike-tekkies aangehad.

Enigeen met inligting word versoek om speursersant Luyanda Maneli by 082 697 5845 te kontak of die polisie se misdaadvoorkomingshulplyn by 086 001 0111 te skakel. Die man is nog nie uitgeken nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.