Onderwyser wat aangerand is mag departement dagvaar

(Argieffoto: Unsplash)

Berig deur Tania Broughton, GroundUp

Die hooggeregshof in Mbombela, Mpumalanga, het beslis dat ’n onderwyser wat in sy klas deur ’n leerder aangerand is die departement van onderwys vir soveel as R8 miljoen kan dagvaar vir skadevergoeding en verlies aan inkomste.

Die onderwyser, Richard Prinsloo, is in Maart 2018 in sy klaskamer by Hoërskool Bergvlam in Mbombela deur ’n leerder aangerand. Prinsloo gee al die afgelope 25 jaar lank skool.

Prinsloo het van sy ribbes gebreek en beserings aan sy kop en oë opgedoen.

Hy het ná die voorval as onderwyser bedank, met verwysing na posttraumatiese stresversteuring.

Die voorval is op kamera vasgevang en is destyds op die televisienuus uitgesaai. In die video kan gesien word hoe die gr. 10-leerder Prinsloo herhaaldelik met die vuis slaan voordat sy medeleerders ingetree en hom stopgesit het.

Die voorval het ontstaan nadat Prinsloo glo opmerkings gemaak het oor die leerder se ma wat in ʼn motorongeluk gesterf het.

Prinsloo het ʼn klag van aanranding teen die leerder gelê, maar dit is later deur ʼn landdros teruggetrek wat beveel het dat die leerder voortgaan om ʼn sielkundige te sien en ʼn woedebeheerprogram by te woon.

Volgens Prinsloo het die departement versuim om hom as werknemer te beskerm en ná die aanranding te ondersteun. Hy het daarvolgens besluit om die departement vir skadevergoeding en verlies van inkomste te dagvaar.

Die departement het besware geopper en gesê die saak teen hom moet nie voortgaan nie. Die departement het geglo daar is min vooruitsigte op sukses omdat Prinsloo nie betyds ʼn kennisgewing uitgereik het wat deur die wet vereis word dat ʼn party van voorneme is om ʼn staatsinstelling te dagvaar nie.

Die departement was ook van mening dat Prinsloo ingevolge die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (COIDA) moet eis omdat die beserings “buite en binne die bestek van sy diens ontstaan het”.

Dié wet het hom verhinder om die departement te dagvaar, sê die departement.

Regter Takalani Ratshibvumo het in die hooggeregshof in Mbombela egter teen die departement beslis.

Oor die laat indiening van die kennisgewing het Ratshibvumo gesê Prinsloo was nie destyds bewus van hierdie wetlike bepaling nie. Hy was ook genoop om geld in te samel om prokureurs opdrag te gee om sy eis in te dien, en was boonop in daardie stadium besig met ʼn dissiplinêre verhoor.

Oor die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes het die regter gesê Prinsloo is nie ʼn “boksafrigter” nie.

“Die motief van die leerder om hom aan te val, is irrelevant. Die vraag wat tereg gevra moet word, is of die daad wat die besering veroorsaak het, normaalweg as deel van sy diens as onderwyser sou plaasvind. Ek kan nie sien hoe ʼn aanranding op ʼn onderwyser aan diens by die skool as gevolg van sy diens ontstaan ​​het nie,” het regter Ratshibvumo gesê.

Die regter het verwys na ʼn ander saak waarin ʼn hof skadevergoeding van meer as R1,1 miljoen toegestaan het aan ʼn onderwyser wat deur ʼn leerder met ʼn hamer gestamp is ten aanskoue van ander leerders in die klaskamer. Die regter het daarvolgens opgemerk dat Prinsloo goeie vooruitsigte op sukses het.

Hy het die departement gelas om Prinsloo se regskoste vir die aansoek te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Wondermaarnet ·

Goed so en al sloer die saak moet hy dit nie laat vaar nie.

Swerwer ·

Gaan voort Mnr Prinsloo. Die Regering en Ministers beskerm mos net hul mense vir ons ander landburgers is daar geen ondersteuning of bystand van die Regering af nie. Mag jy die saak los hande wen.

Suzette ·

Mnr Prinsloo staan vas – moenie ‘n skikking oorweeg indien hulle so iets op die tafel sit nie. Laat die departement begin om verantwoordelikheid te neem. Hulle kan nie onderwysers blootstel aan leerlinge wat hulle mishandel en boelie nie. So ‘n disrespekvolle leerling moet geskors word. Dis die enigste manier want as dit elke keer op ‘n afgewaterde manier hanteer word sal dit verseker nie beter word nie want die skuldiges kom niks oor – soos die gebruik in hierdie land is.

Luister ·

Ek sal ook net graag wil weet wat het hy oor die leerder se ma gesê. Dit moes kwetsend gewees het gegewe die reaksie.

Frank ·

So as jy iets kwetsend aan jou vrou of man of wieookal se, gee dit hom/haar die reg om jou aan te rand? As dit hoegenaamd kwetsend was sou dit inelkgeval sekerlik wyd en syd uitgebasuin gewees het

Renier ·

Kan jou belowe as die onderwyser voor die klas iets sleg van my ouers gese het sou hy beslis n toedeur vergadering saam my bygewoon het…waar nie kameras is nie.

Sandra ·

Die regter se kop is reg aangeskroef en hy laat hom nie voorse deur die Departement se wette nie.

Jaco ·

Die korrekte Afrikaans is “hou skool” ; nie “gee skool” nie.

007 ·

Hoekom sê hulle nie die leerder se naam en van nie. Of moet ek vra die krimineel sê naam en van. Wens hy wil aan my slaan en stamp ens.

Di ·

Dis reg, dagvaar die ROOK uit hulle uit. Hulle moet hulle les leer dat kinders se wangedrag in skole nie toegelaat sal word nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.