Ongeluk op dam: Vrou tuis ná 7 weke in hospitaal

Heidi-Lene Jonck uiteindelik tuis na weke in die hospitaal. Foto: Verskaf

Heidi-Lene Jonck (23), die vrou van Limpopo wat ernstige beserings in ʼn fratsongeluk op die Albasinidam oos van Louis Trichardt opgedoen het, is ná byna sewe weke in die hospitaal uiteindelik tuis.

Jonck wat vir 33 dae in die waakeenheid van die Polokwane- provinsiale hospitaal behandel is, is vandeesweek na ʼn algemene saal van ʼn hospitaal in Louis Trichardt oorgeplaas voordat sy kort daarna ontslaan is.

Elze-Marie du Preez, Jonck se suster, het Saterdag aan Maroela Media gesê hoewel daar nog ʼn lang pad van versorging en rehabilitasie vir Jonck voorlê, is die familie uiters dankbaar om Jonck by die huis te hê en vol moed vir wat die toekoms inhou.

“Daar was net soveel mense wat ons in hierdie tyd staande gehou het. Ek dink ek het die woord ‘dankie’ al miljoen keer die afgelope paar weke gebruik en dit voel asof die woord al kleiner word, asof daar ʼn groter, sterker woord moet wees om ons dankbaarheid uit te spreek. Om dankie te sê vir al die gebede, die boodskappe en oproepe, die besoeke in die hospitaal. Dankie vir almal wat saam met ons glo in die wonderwerke van die Here.”

Du Preez sê dit is asof sy nou eers heeltemal tot verhaal kom en besef hoe naby haar suster aan die dood was. “Ek besef nou haar lewe het drie weke lank in die weegskaal gehang. Ek het dit nie tóé besef nie, ek het net nie daaraan gedink nie. Dit is niks anders as ʼn wonderwerk dié nie.”

Maroela Media het vroeër berig Jonck was op 11 Maart saam met vriende by die Albasinidam toe die ongeluk gebeur het. Jonck is deur ʼn boot op ʼn opblaasspeelding getrek toe die boot skerp gedraai en sy die agterkant van ʼn groot stilstaande boot getref het. Sy was vir ʼn ruk bewusteloos en sonder suurstof voor sy uit die water gebring is. Die femur van haar linkerbeen is gebreek en sy het kopbeserings opgedoen.

Heidi-Lene Jonck voor die ongeluk. Foto: Facebook.

Volgens Du Preez is Jonck tans steeds verlam aan haar linkerkant en afhanklik van voltydse versorging, maar egter heeltemal “wakker” en by haar volle positiewe. “Sy kan nie onthou wat gebeur het nie, maar ons verduidelik vir haar op ʼn mooi manier wat gebeur het as sy daaroor uitvra. Sy is meestal ‘in die hede’ en verstaan alles wat om haar aangaan, maar daar is tye wat sy bietjie verward is of iets sal sê wat nie heeltemal sin maak nie,” sê sy.

Hoewel die familie baie dankbaar is vir die behandeling wat Jonck veral in die waak- en hoësorgeenheid van die Polokwane-hospitaal ontvang het, verkies hulle om haar nou tuis te versorg omdat sy nie meer soseer mediese behandeling nodig het nie, maar net versorging en rehabilitasie.

“Ons het ʼn hospitaalbed geleen met die regte soort matras wat help verhoed dat die pasiënt bedsere kry en het ook ʼn rolstoel waarin ons haar kan rondbeweeg. Daarby het ons ook twee verpleegsters wat haar kom besoek om met wondsorg te help en hanteer ons haar daaglikse versorging soos om haar te bad en te voer. My vriendin, ʼn arbeidsterapeut, sê sy kan nie wag om met Heidi-Lene te begin werk nie. Ons sal ook ʼn fisioterapeut kry om haar by die huis te kom terapie gee.”

Sy sê Jonck is verheug om by die huis te wees en haar gemoedstoestand is baie beter vandat sy tuis is. “Ons sukkel maar nog bietjie met die etery, maar sy is so rustig en slaap so goed. Dit is heerlik om haar hier te hê.”

Wat die pad vorentoe betref, lyk die toekoms in dié stadium nog duister. “Die dokters sê sy het wel breinskade opgedoen weens die ruk wat sy sonder suurstof was en mens kan dit ook op die breinskanderings sien, maar dit is nie nou moontlik om te bepaal of dié skade permanent gaan wees nie. Die brein is natuurlik ʼn wonderlike ding wat ʼn mens se herstel betref. Net tyd sal kan sê. Vir eers is ons net dankbaar vir die wonderwerk wat hom reg voor ons oë afgespeel het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Helene Heyns ·

Ek is saam met julle verheug oor hierdie goeie nuus. Die God was ons dien is darem maar wonderbaar. Ek bid saam met julle vir algehele herstel en ek bid vir jul sterkte toe.

Nettie Gilfillan ·

Wonderlike nuus! Heidi ons het jou leer ken as ‘n vegter! Ons hou nie op met bid vir volkome herstel nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.