Ongelukke in Rustenburg eis lewe van twee

Die Jeep waarin die tienerseun en jong man gery het. (Foto: ER24)

ʼn Tienerseun is dood toe ʼn Jeep Saterdagmiddag op die Maanhaarrand-grondpad buite Rustenburg in Noordwes gerol het.

Volgens Ross Campbell, woordvoerder van ER24, is dié seun 15 jaar oud. Hy is op die toneel dood verklaar. ʼn Man in sy 30’s het ligte beserings in die ongeluk opgedoen en is na ʼn hospitaal vir verdere behandeling geneem.

Dis nie duidelik wie die voertuig bestuur het nie.

ER24-paramedici was om 17:35 op die toneel, waar familielede van die insittendes ook teenwoordig was.

Die seun is van gevorderde lewensondersteuning voorsien in pogings om sy lewe te red, maar hy is eindelik op die toneel dood verklaar.

Nog ʼn persoon is in ʼn afsonderlike voorval in Rustenburg dood toe die voertuig waarin hy gery het, Sondagoggend in Helen Josephweg omgeslaan het.

Die wrak van die Volkswagen Polo. (Foto: ER24)

Die man, vermoedelik in sy 40’s, is op die toneel dood verklaar terwyl ʼn vrou, glo in haar 30’s, ernstige beserings opgedoen het.

“ER24-paramedici was om 01:20 op die toneel, asook die brandweer en traumareddingswerkers.

“Twee mense was vasgekeer in ʼn Volkswagen Polo wat in ʼn regop posisie gestaan het nadat die voertuig gerol het. Die bestuurder is by paramedici se aankoms dood verklaar.”

Volgens Campbell is die man en beseerde vrou binne 30 minute uit die wrak verwyder.

Die vrou is op die toneel gestabiliseer voordat sy na ʼn nabygeleë hospitaal vir verdere behandeling geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.