Onluste se uitkringeffek op landbou benadruk

(Foto: Skermskoot uit ‘n video)

Die landbou-unie Kwanalu, ʼn filiaal van Agri SA, het gewaarsku dat ʼn dreigende langtermyn-voedselkrisis kan ontstaan as boere nie met hul daaglikse boerderybedrywighede kan voortgaan nie.

Sandy la Marque, die uitvoerende hoof van die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu), het gesê die onlangse onrus in KwaZulu-Natal beïnvloed steeds groot paaie en landbouvervoernetwerke.

“Die dreigende voedselkrisis gaan net vererger, want nie net word die meeste winkels in kleiner dorpe in en rondom KwaZulu-Natal vernietig nie, maar kan boere ook nie die produksie volhou om te voorsien in die groot hoeveelhede daaglikse verbruik nie. Die uitkringeffek van die plundering en oproer dreig om die uiters sensitiewe produksie- en landbouwaardeketting te ontspoor,” het sy gesê.

Voeding vir pluimvee en ander diere word uitgeput, melkprodusente stort hul melk, eier-, vrugte- en groenteprodusente kan nie hul produkte by die eindverbruikers kry nie, en suikerriet- en houtprodusente kan nie aan meulens lewer nie.

“Die vervoer van alle produkte is tot stilstand gebring en dit is ʼn desperate situasie,” het La Marque gesê en bygevoeg dat die invloed op brandstofvoorrade en verpakking vir stapelvoedsel soos eiers, melk, groente en vrugte die situasie vererger.

La Marque meen die KwaZulu-Natalse landbougemeenskap het verliese van miljarde rande gely.

“Ons kan nog nie die finansiële, maatskaplike en werkloosheidsgevolge van die onrus beoordeel nie. Dit het die landelike en landbousektor van KwaZulu-Natal vernietig en dit sal ʼn geruime tyd neem voordat die volle trefslag werklik verreken kan word.”

Pierre Vercueil, Agri SA se president, het gesê voedselsekerheid is in gedrang en moet beskerm word. Die misdadige optrede wat in sommige dele van die land gesien is, raak nou ook die landbou met berigte van brandstigting en grootskaalse plundery in KwaZulu-Natal.

“Agri SA werk nou saam met Kwanalu om behoeftes te bepaal en ondersteuning te bied. As organisasie word ondersteuning tans op vele terreine gebied.”

Vercueil het gesê ʼn versoek is aan pres. Cyril Ramaphosa gerig om ʼn noodtoestand af te kondig om die geweld in KwaZulu-Natal stop te sit. “Skakeling is met die weermag gevestig om bykomende hulpbronne vir landelike gebiede van die provinsie beskikbaar te stel en boere en plaaswerkers se veiligheid te verseker.”

ʼn Beroep is ook op die polisie gedoen om met die nodige erns die landelike gebiede te help beskerm. Volgens Vercueil is daar Vrydagoggend met ministers vergader rakende die situasie en om samewerking te verkry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bart-Man ·

Die wiel draai. Nou gaan hulle honger voor die flatscreen sit.

Jaco ·

Dit moet seker maar alles so wees. Dis seker maar reg. Volgens die ANC bestaan landbou mos net uit wit rassistiese boere. So dié ontwrigting van die landbousektor is seker maar deel van die ewige “straf” vir apartheid en ‘n manier om wit boere te knou sodat onteiening sonder vergoeding nog vinniger sal kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.