Onluste: Shoprite skenk R1 miljoen aan gemeenskappe

Shoprite (Foto: Verskaf)

Shoprite het R1 miljoen geskenk aan sy Act for Change-fonds om gemeenskappe in KwaZulu-Natal en Gauteng, wat deur die onluste geraak is, te help.

Volgens dié winkelgroep kan klante by betaalpunte by Shoprite, Checkers en Usave-winkels landwyd geld in hierdie fonds inbetaal. Enigiemand kan ook ’n virtuele koopbewys aan familie of vriende in nood stuur. Hierdie koopbewyse word binne ʼn uur na bestelling per SMS na die ontvanger se selfoon gestuur. Sodra die bewys ontvang is, kan dit vir kruideniersware in die Shoprite-, Checkers- en Usave-winkels landwyd gebruik word.

Geld word al sedert verlede week deur dié fonds ingesamel.

“Ons is oorval met oproepe van ons klante wat hierdie gemeenskappe wil ondersteun, ” het die winkelgroep in ʼn verklaring gesê.

Shoprite bestuur die fonds namens sy klante en die geld wat ingesamel word, word direk aan organisasies betaal wat besig is met noodlenigingspogings in die gebiede wat dit die nodigste het.

Die Shoprite Groep verleen hulp aan gemeenskappe in nood, insluitende kinders en oumense, wat deur die onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng geraak is, en wat ons besigheid – asook talle ander – bygestaan het terwyl plunderaars verwoesting gesaai het.

Alle bydrae tot die Groep se Act For Change-fonds is vrywillig. Die donasies word gebruik om kos en ander noodsaaklikhede vir geaffekteerde gemeenskappe te bekom, en dit word gedoen in samewerking met plaaslike organisies wat help om Suid-Afrika te herbou.

Die Shoprite se Act For Change-fonds het in die verlede al na gemeenskappe uitgereik wat deur uitdagings soos droogte, oorstromings en Covid-19 geraak is. Die groep het verlede jaar ten tyde van die algehele inperking meer as 11,3 miljoen maaltye ter waarde van meer as R35 miljoen aan behoeftige gemeenskappe geskenk.

Maroela Media het vroeër berig skade wat verlede week aan Suid-Afrikaanse ondernemings en infrastruktuur in KwaZulu-Natal en Gauteng aangerig is, het teen Sondag reeds meer as R70 miljard beloop. Dit neem nog nie eens in ag die indirekte verliese wat gely is weens vragmotors wat nie voorraad kon vervoer terwyl die N3 gesluit was nie.

Terwyl kalmte weer stadigaan terugkeer na dele van dié provinsies, is daar groeiende kommer dat dié syfer selfs verder kan styg en kenners meen die werklike ekonomiese trefslag van die onluste kan weke later eers gesien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

DIABLO ·

Verstaan ek nou reg? DIESELFDE mense wat julle geplunder het, ontvang nou geld/kruideniersware?? Met ander woorde; Kom loot ons eers en dan sal ons jou help. Wat se boodskap is dit?

JohnnyS ·

Pleks hulle eerder die pryse verlaag vir hulle betalende kliente. Nou wil hulle die einste mense wat geplunder en verwoes het instop.

Elinette ·

Shoprite het rééds die beste pryse onder AL die supermarkte in die land. Die duurste supermarkte is vir seker Spar, Woolworths en Pick ‘n Pay, daarna Checkers en heel laaste Shoprite. Gaan kyk maar – ‘n item wat bv. R9.99 by Shoprite kos, sal iets soos R21.99 by Pick ‘n Pay en selfs duurder by Spar en nóg duurder by Woolworths kos. Hoe moet hulle dan nog meer hul pryse verlaag?

Anthony ·

Pleks skenk hulle geld aan die klein sake ondernemings wat geplunder is, nou voer hulle die kriminele vet?? Ja ne…

Harley Davidson ·

Ek kry die idee dat hulle te veel wins maak op kos ,hoekom nie betalende kliënte help in hierdie moeilike tye nie.

Janee ·

Daars beter mense as ek daarbuite……Dis absoluut onverstaanbaar dat ons, wat nou self gaan ly…misdadigers moet help.

melaney ·

Verstaan ek korrek? Shoprite kondig aan hulle gaan R1m skenk, maar die geld kom eintlik van hulle kliente af? Shoprite moet eerlik wees en sê “Ons vra ons kliente om R1m oor te betaal aan ander sodat die ander die geld kan gebruik om by Shoprite te kom koop.” Dit is eintlik net ‘n manier hoe Shoprite adverteer.

Harley Davidson ·

Ek dink jy het die spyker op die kop geslaan hier.

melaney ·

Hierdie is hoe Shoprite eintlik adverteer. Hulle advertensie bevat ‘n mate van wanvoorstelling.

Sylvia ·

Dit is nou goeie voorbeeld van “draai die ander wang …”

Elinette ·

Ek sien dit as ‘n goeie inisiatief. Onthou – dis nie net mense wat deelgeneem het aan die “looting” wat ly onder die tekorte wat daar nou in hierdie 2 provinsies ondervind word nie. Dit is gewone mense, soos ek en jy, wat nou nie eens ‘n brood en liter melk kan gaan koop nie, want die winkels se rakke kan nie vol gehou word soos altyd nie. Buitendien, as mens ‘n virtuele bewys koop, kies jý aan wie dit gaan – vriende of familielede wat deur die “looting” geraak is. Ek sal veel eerder so iets doen, as om voedsel items of geld te skenk aan organisasies wat dit aan die wye gemeenskap versprei, want dáároor het ek nie enige beheer nie.

Spook ·

As dit die geval is, sal ek veel eerder geld skenk aan organisasies wat die mense help wat nou swaarkry as gevolg van die stelers se misdadige onnoselheid. Definitief niks vir die stelers nie. Die stelers kan maar R70 vir ‘n brood betaal. Dit is die nagevolge van hulle stelery en hulle moet maar daarmee saamleef.

Jr ·

Stem saam Spook. Hoekom het die onskuldiges nie iets daaraan gedoen in massas.

Realis Thailand ·

Ek het geen simpatie met die wie in die toue staan e nwaarom moet Shoprite geld vir die armes skenk
laat hulle gaan strate vee en opruim en dan deur Shoprite betaal word maar daarvoor is die meeste te sleg en lui

Malan ·

En van wie af kom hierdie geld eintlik? Van die “looters” of die wat onskuldig is?

Gerhard ·

Ek dink Shoprite wil ‘n positiewe bydrae lewer. Uit die aard van die saak is dit advertensie. Ek beskou dit as ‘n keuse, negatief of positief. Dit is ‘n verklaring, beskou dit as ‘n advertensie. Negatief of positief?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.