Onnie van H/S Jan Viljoen nie skuldig aan teistering

Die Hoërskool Jan Viljoen in Randfontein. (Foto: Google)

ʼn Ondersoek na die gedrag van ʼn onderwyser van die Hoërskool Jan Viljoen in Randfontein, het bevind dat bewerings van seksuele teistering wat ʼn leerder reeds in 2020 teen hom gemaak het, van alle waarheid ontbloot is.

Die onderwyser se skorsing is intussen opgehef en hy sal binnekort weer sy werk hervat.

Dit kom nadat Mike Bolhuis se private ondersoekdiens deur die skool se beheerliggaam aangestel is om hierdie bewerings, asook dié van ʼn beweerde rassistiese voorval onder leerders, te ondersoek.

Die skool het die afgelope tyd opslae gemaak en is selfs deur Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, besoek nadat leerders glo by ʼn rassistiese onderonsie betrokke was. Terwyl ouers in woede by die skool opgeruk het, het bewerings dat ʼn onderwyser ʼn leerder seksueel geteister het, ook aan die lig gekom.

Chris Coetser is deur Bolhuis aangewys as die hoofondersoeker in albei sake.

Volgens Coetser het hy reeds die ondersoek na albei sake afgehandel en sy bevindinge aan die skool se beheerliggaam oorhandig. Hy sê die skool het ook reeds hieroor vergader.

Die bevindinge met betrekking tot die rassevoorval kan egter nog nie bekendgemaak word nie, aangesien die beheerliggaam nog wag vir die departement se terugvoer in dié verband.

Maroela Media het verlede week reeds navraag aan die departement oor albei aangeleenthede gestuur, maar wag ook nog op terugvoer.

Klag van teistering

Volgens Coetzer het ʼn leerder die skool se dissiplinêre hoof, Zolile Boqo, daarvan beskuldig dat hy seksuele toenaderings teenoor haar gemaak het tydens ʼn private vergadering in November 2020. Die leerder is glo deur ʼn ander onderwyser na Boqo se kantoor gestuur weens haar wangedrag in die klas.

“Die beweerde voorval is onmiddellik daarna deur die betrokke leerder aangemeld,” sê Coetser.

“Die hoof en senior bestuur van Hoërskool Jan Viljoen het die klagte ondersoek en die nodige verklarings van die betrokke persone geneem. Dit is ook destyds by die departement van onderwys aangemeld soos protokol vereis.”

Die skool het glo sedertdien nog nie terugvoer van die departement oor sy ondersoek na die voorval gekry nie.

Desnieteenstaande het die leerder en haar gesin nooit ʼn strafregtelike klag teen die betrokke onderwyser aanhangig gemaak nie en die voorval is skynbaar net daar gelaat.

Ná die beweerde rassevoorval in Februarie vanjaar het die betrokke leerder en haar ma weer die bewerings na vore gebring. Hierna is die betrokke onderwyser glo met geweld gedreig en is hy “vir sy eie veiligheid” van die skoolterrein verwyder. Hy is kort daarna op spesiale verlof geplaas totdat die ondersoek afgehandel is.

Lede van Specialised Security Services (SSS) het saam met Coetser gewerk om die leerder se bewerings te ondersoek.

“Deurdringende onderhoude is met al die betrokke partye gevoer en die resultate van ʼn poligraaftoets oor die waarheid van die partye se verklarings is ontleed. Die leerder se ander onderwysers is ook ondervra,” sê hy.

“Gegewe al die bewyse, is tot die gevolgtrekking gekom dat die leerder leuens vertel het oor wat in Boqo se kantoor afgespeel het omdat sy ontsteld was dat Boqo nie haar kant wou kies [in die geskil met die onderwyser wat haar na Boqo se kantoor toe gestuur het] nie.”

Luidens die bevindinge het Boqo geen aanduiding gegee dat hy ondersoekers probeer mislei het oor sy weergawe van gebeure nie en sy onskuld is deur die poligraaftoets bewys.

Bewyse van Boqo se onskuld is aan die beheerliggaam oorhandig en daar is Vrydag bevestiging van die departement ontvang dat Boqo weer in sy pos aangestel is. Hy sal mettertyd sy amp ten volle hervat.

SSS het die skool aangeraai om die leerder wat die bewerings gemaak het volgens die skool se dissiplinêre kode te straf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Jabez ·

Maw weereens ‘n storm in ‘n teekoppie…. en mense se lewens word deur leuns vernietig.

Perdeby ·

Mmmm nou hoop ek hierdie kind se ouers moet maar betaal vir haar liegstories, en die vernedering wat die onderwyser moes deur gaan.

Delia ·

Skors die leerder. Laat sy home school waar sy niemand vals beskuldig

Misky ·

Nou wil ons asb die EFF en meer spesifiek Lesufi se reaksie hierop hoor. Eers Brackenfell en nou Jan Viljoen en so gaan die lys aan. Daar moet krimineel opgetree word teen die wat valse aantygings maak en mense se lewens so probeer verwoes. Groot genoeg om te lieg, dan moet hulle maar die straf kan vat.

Anel ·

So omdat sy nie haar sin kry nie, maak sy fals beskuldigings? Wat gaan haar keer om rasistiese beskuldigings te maak as sy eendag, dalk, ‘n werk kry nie?

Jean ·

Dieselfde straf wat die onderwyser sou kry as hy skuldig was moet die kind nou kry.

Hennie Biebouw ·

As ‘n ene Zolile Boqo nou al van rassisme beskildig word….

Althes ·

Dis skokkend dat kinders onderwysers se loopbane verwoes wanneer hul kort gevat en gedissiplineer word. Watter opvoeding kry so ñ kind tuis? Het die ouers geen morele waardes nie?
My innige simpatie aan onderwysers – die regering het die jeug hopeloos te veel regte gegee.

Di ·

Dis of Gehoorsame ouers of vorige benadeelde kinders wat al die truuks in die boek geleer is om weg te kom met als

Smurf ·

Probleemkinders floreer op leuns….en die onskuldige volwassene sit met jare se probleme….

Gert ·

Dagvaar die rook uit die leerder en haar ouers sodat hulle kan leer leuns maak seer veral op die beursie. As sy ook strafregtelik aangekla kan word op valse getuienis sodat dit op rekord kan wees dat die leerder nie eerlik is nie soveel te beter. Baie onderwysers se name word deur die modder gesleep omdat kinders nie maniere het en kwaad word as hulle gedissiplineer word en dit moet stop.

Heinrich ·

“Die leerder volgens die skool se disiplinêre kode te straf” – se stert, kla die student aan vir teistering en crimin enjuria.

Gideon ·

Ek hoop die bevindinge word wyd en suid gedeel en dat die betrokke skoolhoof regs advies sal inwin en die betrokke leerders dagvaar vir valse getuienis

AndrewL ·

Dit het te maklik geword vir mense om valse beskuldigings in te bring teen persone in gesagsposisies.

Die onderwyser moet strafregtelike klagtes teen die leerder inbring sodat sy vir ‘n slag ‘n behoorlike les kan leer. Hoekom moet sy toekoms vernietig word deur ‘n ongedissiplineerde “brat”?

Annelize ·

Dit blyk nou die norm te word, probleemkinders begin al hoe meer die raskaart, sowel as die seksuele teistering kaart te speel, om met hulle wangedrag weg te kom, en onskuldige onderwysers se lewens word verwoes.

Hoogtyd dat daar ordentlike voorbeeld gemaak word van die, wat “Wolf Wolf” skree.

Antoinette ·

Deur haar leuens is daardie onderwyser se lewe verwoes.
Mnr ek stel voor dagvaar haar vir naamskending.
Oja mnr Lesufi skuld hierdie man n onvoorwaarlike verskoning in die media.

Annelize ·

Lesufi se stilswye is nou oorverdowend, maar slaan oor sy eie voete neer om op die seepkissie te kan klim as hy rassisme wil skree.

ES ·

Ek hoop daardie leerder word stafregtelik vervolg vir haar leuens!

Catherina ·

Arme onderwyser. Hierdie gevalle plus kamstige rassisme so maklik om te gebruik. Maak my woedend

Janine ·

Dis seker daagliks deel van onnies se lewens. Sodra dissipline toegepas word, is dit of rassisme of seksuele teistering. Belaglik! (En daarmee sê ek natuurlik glad nie dat daar nie wel by sommige skole sulke gevalle is nie.)

SjN ·

Sal graag Lesufi se kommentaar wil hoor, tree op teen die valse raporteerders.

AmY ·

Skors haar!
Laat sy maar voortaan ‘homeschooling’ doen.
Eintlik verdien sy dit nie eens om verdere onderrig te ontvang nie.

Pieter J ·

Hierdie bewerings is mos ń maklike manier om van ń persoon wat jou moet dissiplineer ontslae te raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.