‘Ons het julle gewaarsku’ – Jagersfontein-inwoners

(Foto: Anja van der Merwe)

Inwoners van Jagersfontein in die Vrystaat het die regering menigmaal gewaarsku oor die gevaar wat die slikdam inhou en sê hierdie ramp kon voorkom gewees het as daar die laaste paar jaar na hul hulpkrete geluister is.

Inwoners het aan Maroela Media vertel dat die gemeenskap jare lank al kla dat die dam nie aan die nodige veiligheidsmaatreëls of -gehalte voldoen nie. Nou meen hulle die regering trek net hul skouers op.

Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat (Foto: Anja van der Merwe)

“Dit was net ’n kwessie van tyd dat die damwal breek. Die dam was oorvol en staan boonop hoër as die dorp,” sê dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, in ’n onderhoud met Maroela Media.

Alles het egter op dowe ore geval en die gemeenskap voel die myn se eienaars én die regering moet aanspreeklik gehou word vir die verliese wat hulle gely het nadat dié dam Sondagoggend gebreek het.

“Die inwoners het gereeld die burgemeester en betrokke amptenare ingelig oor die probleme wat hulle met die dam ervaar. Van die inwoners het selfs al wit strepe op die dam se oewers gesien, soos die slik begin lek het.”

Inwoners vrees ook dat die dam verder kan breek en selfs meer skade kan aanrig. Jankielsohn sê dié gedagte is nie so vergesog nie.

“Daar is ’n moontlikheid van verdere skade aan die dam, aangesien daar steeds slik in die dam is,” sê Jankielsohn.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag die dorp besoek. Hy het met ’n helikopter op die dorp opgedaag en het ongesiens by die agterdeur van die Diamant-hospitaal ingeglip.

Lede van die gemeenskap het ure lank voor die hospitaal gestaan en wag vir die president om hulle toe te spreek in hul tyd van nood, maar moes onverrigter sake daar weggaan nadat hulle ingelig is dat hy hulle nie gaan toespreek nie.

Hulle was woedend.

Self sien kom klaar

Joseph Phoba het gehelp om vermiste persone in die slik te soek (Foto: Anja van der Merwe)

Inwoners voel dat die regering hulle in hul tyd van nood aan hul eie genade oorlaat. “Ons het nog geen regeringsamptenare op die toneel gesien vandat die ramp plaasgevind het nie. Ons soek antwoorde en wil weet hoe die pad vorentoe lyk,” sê Billy Sebeela, een van die inwoners.

Joseph Phoba wil sommer ʼn siviele eis teen die myn instel. Hy het Maandag gehelp om vermiste persone in die slik te soek. “Ons is siek en sat vir die regering se leë beloftes.”

Ander inwoners is op moedverloor se vlakte. “Hierdie ramp het ons platgeslaan. Ons moet self sien kom klaar,” sê inwoners Susanna Mokollo en Sonia Khomatsana.

“Ons het niks nie. Ons het nie krag of water nie. Ons mense is honger. Ons mense is dood. My oompie se beeste is dood.”

Volgens Mokollo kry die bejaarde en sieklike mense die swaarste omdat hulle ook nie nou van hul medikasie voorsien word nie.

Jankielsohn sê dit is die regering se plig om seker te maak die inwoners is versorg en daar is aan hul nodige behoeftes voldoen.

“Daar moet nou tydelike skuiling en later permanente huisvestig beskikbaar gestel word vir diegene wat deur die ramp geraak is,” sê Jankielsohn.

“Ons is dankbaar vir nie-regerings organisasies en weldoeners van die omgewing wat vinnig ingetree het om op die grond te help waar die nood groot is.”

Jankielsohn is ook nie oortuig dat die owerhede in beheer van die rampsituasie is nie. “Daar is nie eers sekerheid oor waar die gesamentlike operasiesentrum in hierdie stadium is nie.”

Hy sê terwyl owerhede en betrokke partye veronderstel is om op die toneel te wees om die gemeenskappe by te staan, is hulle nêrens te siene nie.

Inwoners het hul woede en verslaentheid met Maroela Media gedeel. Kyk dit hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Waarnemer ·

Vyr was bloot uit nuuskierigheid daar en stel nid bslang in die mense nie….tot 2024….dan gaan hy weer goed gstkruip.

Trotse Boervrou ·

Ja nee, so het ons almal ook baie vrae vir die President. Hel tog, kon hy nie net ten minste hierdie arme mense in die oë kyk nie?

marius ·

Hierdie hool se sogenaamde leiers steur hulle aan niks en niemand . Waneer dit waarteen gewaarsku is gebeur blameer hulle alles behalwe hulself . Gemors !

Suzette ·

Julle stem mos vir die regte party…. Moet nie nou kom wil huil nie….

ES ·

Suzette, jy kan nie aannames maak dat hierdie mense vir die ANC stem nie. Hierdie is ‘n tragedie en afgesien van hierdie mense se politieke oortuigings trek hulle aan die kortste ent.

Elma ·

Sabeela, Phoba, Mokolo, Khomotsane – Die afleiding vir watter party hulle stem is glad nie so vergesog nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Rofweg steun 6 uit 10 kiesers daar vir die ANC. En 2 uit 10 vir die EFF.

Jack ·

Dit werk gewoonlik so: mense kry die tipe regering wat hulle verdien (vir wie hullle gestem het).

Racheltjie Debeer ·

So tipies van die land se useless regering, sit in hul weelderige paleise en voel ‘n veer vir die mense wat hulle moet dien. Hopelik sal die land se burgers ophou om vir die useless mense te stem.

Pieter ·

Mine health and safety is net daar om die mynbestuur te beskerm teen eise op grond van gesondheid en veiligheid slegs terwyl daar op hul area gewerk word. Dit is bog. Dit moet ook verder strek en rampe soos hierdie insluit. Die ANC/COSATU alliansie het dit nooit aangespreek nie wat wys dat hulle poppe van die werkgewer/myne is. Elke vakbond is in wese so.

Al die ongevalle en skade veroorsaak hier moet teen die myn en staat tel.

Kokerboom ·

Mantashe se myninspekteurs doen nie hul werk. Roetine inspeksies op alle myne nodig. Oja niemand het hul gese en dis werk!

Hennie ·

Sies Jagersfontein, hoe durf julle die laundroman so lasting te val met jul probleempie.. Hy het Dollars om te ver steek!

Mantassie is die min-nister wat hier moet pa staan, my hy lê dronk op sy 2 miljoen sofa… Stem tog asseblief weer vir die spul kornuite volgende jaar!

Danie ·

Beloftes om huise te herbou ???? En in natal nog niks vir die mense gedoen.Werf van stemme.

Herman L ·

Is daar nog bewyse nodig dat die kaders net vir hulleself omgee en nie ‘n duit vir die mense wie se stemme en belastinggeld hulle wil hê nie? Kom ons hoop dat rampe soos hierdie baie meer mense sal oortuig om nie weer vir die staatskaper geldwolwe te stem nie!

Samuel ·

Ramaphosa het gister na bewering gesê sy regering sal die slagoffers se huise herbou. Tog weet hy dit sal nie gebeur nie. Die ANC lieg en bedrieg net.

Jakkie ·

Die myn het vermoedelik aan De Beers behoort en is reeds in die 70’s uitgewerk……De Beers het ‘n verantwoordelikheid en verseker die staat om toe te sien dat De Beers hul verantwoordelikheid nakom. Ongelukkig voel dit te dikwels dat dieselfde stel reels verskillend toegepas word sso dit die regering pas….Waar is die amptenare wat moes toesien dat rehabilitasie deur die myneienaars gedoen moes word……Ongelukkig is groot maatskappye aandadig aan korrupsie en “geld wat stom is maak reguit wat krom is”.

Robert ·

2010 verkoop soos ek verstaan, to was daar geen slikdam nie.

Allop ·

Nou kla en skreeu almal en blameer die regering MAAR sodra dit verkiesingtyd is, stem almal weer
vir die onbevoegde ANC

Elma ·

Het ons dan meer van die prez verwag?
“Ons is siek en sat vir die regering…” is woorde wat ek so baie hoor – Maklik, hou op om vir hulle te stem.

SjN ·

Die ramp het plaasgevind en daar moet daadwerklik opgetree word. Het die myngroep voldoen aan al die wetlike vereistes en verpligtinge? Hoekom is daar strukture onder die wal opgerig, wat was eerste daar, die wal of huise, daar sal eers deeglik ondersoek ingestel moet word alvorens verantwoordelikheid bepaal kan word. Met die sleepvoet kultuur van die kader regering gaan dit jare vat om af te handel. Sterkte aan al die partye betrokke.

Vernon ·

Jammer ..die mense gaan nie hulp van die ANC kry nie. Dis weer gewone mens wat help…..

N ·

Ek voel Jan van Riebeeck moet hiervoor verantwoordelik gehou word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.