‘Ons is nie kwaad’ – Callie Wannenburg

Evette en Pedrie Wannenburg. (Foto: Facebook)

Die familie van die voormalige Springbokrugbyspeler Pedrie Wannenburg koester nie kwade gevoelens teenoor die 16-jarige wat vermoedelik agter die stuur van die motor was wat Pedrie se lewe die afgelope naweek geëis het nie.

Inteendeel, Callie Wannenburg, Pedrie se broer, sê hy hoop dat hierdie noodlottige ongeluk as ʼn waarskuwing vir talle jong bestuurders sal dien.

“Ek voel jammer vir die kind. Hy het ʼn verkeerde besluit geneem en nou gaan hy vir die res van sy lewe met daardie gevolge moet sit,” sê hy.

Maroela Media het vroeër berig dat Pedrie, sy vrou, Evette, en hul twee jong kinders in ʼn motorongeluk in die Amerikaanse deelstaat Texas betrokke was.

Pedrie en sy agtjarige seun, Francois, is na ʼn hospitaal toe gevlieg, maar Pedrie is kort ná hul aankoms dood verklaar. Francois is in die hospitaal opgeneem met ernstige beserings, maar Evette en die egpaar se tienjarige dogter, Isabel, het relatief ongedeerd van die ongeluk afgekom.

Die tiener wat in die motorongeluk betrokke was, is intussen van strafbare manslag aangekla.

Volgens Callie, wat Woensdag saam met sy vrou Amerika toe vlieg, is hulle Saterdag in die vroeë oggendure van die ongeluk in kennis gestel.

“Evette het laat weet dat hulle in ʼn ongeluk was en op pad hospitaal toe is. Ons het toe net geweet dat Pedrie nog nie sy bewussyn herwin het nie.”

Byna twee ure later het die gevreesde oproep gekom dat Pedrie dood is.

“Niks kan jou gereed maak vir die nuus dat jou broer dood is nie,” sê Callie.

“Ons het gesien hoe lyk die wrak en ons het die ergste gedink, maar dit was steeds nie maklik om te hoor nie.”

Callie moes die oggend die hartseernuus aan sy ouers meedeel.

Ten spyte van die skielike en voortydige dood van hul geliefde broer en seun, meen Callie dat dit ʼn hartseer ongeluk was wat nie in een van hulle se beheer was nie.

“Dit was ʼn ongeluk wat ook kan dien as ʼn leerskool vir kinders,” sê hy.

“Ek het ná die ongeluk selfs met my eie kinders gesit en verduidelik hoe elke besluit sekere gevolge inhou. Hierdie kind het die verkeerde besluit gemaak en ek kry hom jammer vir die pad wat hy vorentoe gaan moet stap.”

Gesin sterk aan

Francois herstel reeds goed, nadat hy die naweek met behulp van ʼn fisioterapeut kon opstaan. Hy het sy rug tydens die ongeluk beseer.

“Daar is groot wonderwerke [met Francois se herstel] verrig en ons is so dankbaar dat hy dit gaan oorleef,” sê Callie.

Die nuus dat Francois verbeter, het volgens Callie ook Evette se gemoed gelig.

“Dit gaan goed met hulle onder die omstandighede. Ek kan in Evette se stem hoor dat dit bietjie beter gaan omdat dit beter gaan met Francois – dit gee haar weer nuwe krag.”

Callie meen dat die realiteit nog nie vir almal ingeskop het nie, maar dat hulle nietemin dankbaar is dat hulle die geleentheid het om Pedrie se gesin in hierdie tyd by te staan.

Callie en sy vrou kon vinnig ʼn vlug na Amerika bespreek aangesien hul visums nog geldig is van ʼn besoek ʼn paar jaar gelede. Pedrie se ouers en sy suster sal na verwagting binnekort ook by die familie in Amerika aansluit.

Bystand in oorvloed

Pedrie Wannenburg. (Foto: Facebook)

Vriende, bure en kollegas van die Wannenburg-gesin het intussen ingespring om die laste van die afgelope paar dae te help dra.

Evette se buurvrou, Ericka Braun, het reeds ʼn fondsinsamelingsblad vir die gesin geskep om die onbeplande uitgawes van die ongeluk te dek, en die hospitaal waar Francois opgeneem is, het ook kamers by ʼn naburige hotel bespreek sodat Pedrie se familie naby aan Francois kan wees terwyl hy herstel.

“Die ondersteuning aan daardie kant is net fantasies en dit help soveel om genesing te bring,” sê Callie. “Ons wil ook net dankie sê vir almal se bystand en elke boodskap wat ons aan hierdie kant ontvang het.”

Hoewel dit nog nie besluit is wanneer Pedrie ter ruste gelê gaan word nie, beplan die familie om ʼn gedenkdiens vir hom in Amerika én Suid-Afrika te hou.

Die klub waar Pedrie ʼn afrigter was, het reeds ʼn gedenkdiens vir hom gehou en meer as 200 mense het dié geleentheid bygewoon.

Callie hoop dat Francois eers uit die hospitaal ontslaan word voordat ʼn gedenkdiens vir Pedrie gehou word.

Pedrie se hart vir altyd onthou

“Daar is nie woorde om Pedrie te beskryf nie. Hy het hierdie wonderlike omgee hart gehad wat altyd meer besorg was oor ander as homself,” sê Callie.

ʼn Familievriend van Pedrie het hom vroeër as ʼn gentle giant beskryf en Callie meen hierdie beskrywing is uiters gepas.

“Die beste eienskap wat hy gehad het, is dat hy baie meer omgegee het vir ander mense as vir homself. Hy het altyd geluister en die beste hart gehad.

“Dit is tough dat ek hom nou nie meer kan bel nie.”

Pedrie en sy gesin het in Oktober verlede jaar sy familie kom besoek nadat ʼn geliefde oorlede is. Hierdie besoek, sê Callie, sal hy nou net nog meer koester.

“Te midde van die hartseer, was daar soveel geluk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

May10 ·

Pedrie is opslag dood, hy het nie gesterf by die hospitaal nie? Wat is nou die waarheid?

Hennie Biebouw ·

Nie dat dit regtigwaar ‘n verskil aan die realiteit maak nie, maar as ek reg onthou is hy met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

May10 ·

Dit maak n verskil. Die dood van n persoon moet met respek hanteer word, wat beteken feite moet reg wees. Netwerk24 se hy is opslag dood. Dit is ongevoelig teenoor familielede.

Hennie Biebouw ·

Harris County se sheriff, Ed Gonzalez het die volgende verklaring op Twitter oor die ongeluk gemaak:

“The adult driver of a 2nd vehicle was pronounced deceased after being taken by Lifeflight.”

Het jy by Netwerk24 verneem waar hul feite vandaan kom? Buitendien is ek seker die familie is ten volle vertroud met “die feite”….

Helizna ·

Persoon word in VSA eers as amptelik dood beskou as hy deur ‘n mediese persoon dood verklaar is. Al is hy ook al ‘n rukkie reeds dood.

Sarie ·

Ek wil nou nie skinder of kwaadpraat nie. Maar so vergewensgesind is ek nie. En niemand wat n geliefde verloor aan die hand van iemand anders, sal wees nie. Of eintlik. Geen mens wat so n geliefde verloor het nie

Onnie ·

Jy kan net vir jou self praat Sarie, nie namens enige ander mens nie, en ook nie as jy nog nie in dieselfde bootjie was. Jy sal nooit weet hoe jy gaan reageer tot dit eers oor jou pad kom nie. Wie weet, dalk gee die Here jou ook vrede soos vir Callie – ek bewonder hom.

Sarie ·

Wat laat jou dink ek was nog nie in dieselfde of soortgelyje bootjie nie?

Ilze ·

Sarie, om die res van jou lewe die haat saam met jou te sleep, gaan jou net siek maak. Ek is seker die kind wat die ongeluk veroorsaak het en dié se ouers gaan vir die res van hulle lewens daarmee moet saamleef.

Toy ·

Dit is bitter hartseer en so onnodig gewees. My innige simpatie met die familie.

Kobus ·

Stem saam met Sarie. Kinders het vrypas om te doen wat hulle wil want hulle het regte. Nou is hierdie kind ‘n krimineel en het hy ‘n pragtige gesin verwoes. Callie, my innige meegevoel maar julle het die reg om kwaad te wees , jy is ‘n beter mens as ek. Indien dit net ‘n ongeluk was sou ek saamgestem het maar hy het weggejaag wat reeds daarop aandui dat hy geen respek vir die gereg het nie.

Onnie ·

Kobus, was jy nooit jonk en onverskillig nie? Ek is seker daardie kind het nie bedoel om Pedrie opsetlik dood te maak nie. Sy swak besluite het slegte nagevolge gehad, hopelik leer hy en ander hier uit. Ek bewonder Callie, dat hy dit so gou kon in sien. Daar is geen rede waarom die storie leliker gemaak moet word as wat dit reeds is nie. Dis beter so vir die familie.

Kobus ·

Ek was jonk ja , maar onverskillig nee. My ouers het my van jongs af die feite van die lewe geleer waarvan die eerste is dat jy ander mense moet respekteer al hou jy nie van hulle nie. Dit sluit ook die wetstoepassers in. Ek is ‘n jong 60 jarige wat nog die beginsel koester en toepas en my kinders volg my voorbeeld

Magda G ·

Innige simpatie aan die Wannenburg gesin. Dis tragies en bitter hartseer. Wonder wat se die roekelose knaap nou? Mag Pedrie in Vrede Rus. Bid vir die hele familie.

RB ·

Innige meegevoel.
Het self hierdie pad geloop 4jr gelede toe 1 in ons gesin ook in Amerika verongeluk het. Sy gesin was troosteloos. Niks kan twee troostende arms om iemand se skouers vervang nie, niks nie! Nie ‘n tyd of tyding waarop enigeen jou vooraf kan voorberei.
Mooi herinneringe is kosbaar maar ‘n plek aan die groot familietafel bly leeg, en verlange ‘n werklikheid.

Delia ·

Selfs al sterf jou geliefde van kanker kan niks jou voorberei op die ongelooflike hartseer

Onnie ·

Absoluut ongelooflik dat hulle so ‘n goeie gesindheid handhaaf. Gaan dinge beslis vir hul self ook makliker maak deur nie ‘n wrok te koester nie. Sterkte

twaalfboor ·

Kinders van 16 is nie bevoeg om ñ motor te bestuur nie. Ek weet nie waarom Amerika dit toelaat nie.
As jy vir ñ kind van 16 n kar kan gee, kan hy net sowel ñ vuurwapen ook kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.