Onteiening sal regering miljoene rande kos

LP’s tydens ‘n parlementsitting. (Foto: GCIS)

Onteiening van buitelanders se grond sonder vergoeding kan Suid-Afrika miljoene rande aan handelsvoordele kos.

Só het die ad hoc-komitee oor die wysiging van art. 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik in sy jongste sitting gehoor.

Die inligting is vervat in ʼn voorlegging deur die departement van handel en nywerheid se afdeling vir internasionale handel, en dit was duidelik uit die ANC en EFF se reaksies dat die nuus vir hulle baie onwelkom was.

Hiervolgens kan die 49 bilaterale internasionale handelsooreenkomste wat Suid-Afrika met ander lande gesluit het sedert 1987 tot gevolg hê dat ernstige ekonomiese strafmaatreëls deur verskeie uiters belangrike handelsvennote teen Suid-Afrika ingestel word, sou grondonteiening sonder vergoeding gewettig word.

Sowat 22 ooreenkomste van dié 49 ooreenkomste word tans aktief toegepas. Byna alle handelsooreenkomste bepaal dat die eiendomsreg van albei betrokke lande se burgers in mekaar se lande gewaarborg word.

Wêreldwyd is die presedent in gevalle van onteiening sonder vergoeding dat die regering wie se landsburgers se eiendom só onteien word, aandring op die uitbetaling van die eiendom se aanvanklike markwaarde voordat die onteieningsproses begin het.

As die handelsooreenkoms verbreek word deur byvoorbeeld op die vennoot se burgers se eiendom beslag te lê, het elke land streng binnelandse wetgewing oor hoe om op te tree teen die land wat die ooreenkoms verbreek het.

VSA-amerika-vlag-sparkler

Foto: Free-Photos/Pixabay.com

Hoewel die presiese bepalings in elke land verskil, is die verpligtinge en strawwe min of meer soortgelyk, en die amptenare van die departement van handel en nywerheid het die VSA se Algemene Stelsel van Voorkeurhandel as ʼn redelik verteenwoordigende voorbeeld voorgehou. Sou Amerikaanse burgers se grond sonder vergoeding onteien word, kan Suid-Afrika dus sy status as bevoordeelde handelsvennoot kwyt wees met gevolglike reuseverliese op Suid-Afrikaanse uitvoere na die VSA en duurder pryse op invoere van die VSA.

Vergelykbare slegte handelsgevolge kan geld vir ander belangrike handelsvennote soos Nederland, België, Luxemburg, Duitsland, Oostenryk, Brittanje, Frankryk, Spanje, Italië, Griekeland, Swede, Denemarke, Finland, Switserland, Kuba, Argentinië, China, Suid-Korea, Nigerië, Senegal, Mauritius en Zimbabwe, luidens die departement van handel en nywerheid se voorlegging.

Dit gaan ook nie help om te probeer om ʼn handelsooreenkoms net te kanselleer nie. Alle handelsooreenkomste waarby Suid-Afrika betrokke is, het ʼn sogenaamde “oorlewingsperiode” van tussen 10 en 25 jaar. Dit is wesenlik die kennistydperk wat gegee moet word voor die ooreenkoms in praktyk mag verval, en gedurende daardie “oorlewingsperiode” geld die bepalings van die ooreenkoms steeds, selfs al is dit opgesê.

Floyd Shivambu

Floyd Shivambu, EFF-LP, het gesê die departement van handel en nywerheid oorspeel die probleem, want die Grondwet troef alle wetgewing, en alle internasionale ooreenkomste wat Suid-Afrika sluit, moet aan die Grondwet voldoen om wettig, bindend en geldig te wees.

Die amptenare het egter geantwoord hoewel Shivambu korrek is oor die oppergesag van die Grondwet, verval handelsooreenkomste nie bloot wanneer ʼn land sy grondwet wysig nie.

Die parlementslede het die voorlegging nie aanvaar of verwerp nie, maar dit sal gewis ʼn belangrike rol speel wanneer die verandering van die Grondwet aan die einde van die ad hoc-komitee se proses ter sprake kom.

Die volgende stap is nou die publikasie van elke party se voorstel oor hoe die Grondwet verander moet word. Die voorstelle sal eersdaags bekendgemaak word. Hoewel enige party in die parlement ʼn voorlegging kan maak, sal die klem eerstens val op die voorstelle van die land se vyf grootste partye, wat almal op die ad hoc-komitee verteenwoordig word.

Drie van die vyf partye is teen enige verandering van die Grondwet en sal dus teen enige voorstelle ter verandering van die Grondwet stem. Hulle is die DA, IVP en VF Plus.

Argieffoto (Foto: goumbik/Pixabay)

Wat die DA betref, is dit baie duidelik dat hulle die geldigheid van enige wysiging van eiendomsreg in die hof sal bestry – op substantiewe én prosesgronde. Vir hulle is die voorlegging oor internasionale handelsooreenkomste dus ʼn pyl in die koker, want as die uiteindelike voorstel ter Grondwetwysiging dit nie reflekteer nie, sal dit die DA se regsargument versterk.

Alle oë sal wees op die ANC-voorstelle as rigtingaanduidend, want aangesien die ANC ʼn volstrekte meerderheid in die komitee het, sal dit die ANC-lede in die komitee wees wat bepaal watter bewoording vir die grondwetlike verandering na die Nasionale Vergadering gestuur sal word vir oorweging. Dit is waar van elke portefeuljekomitee van die parlement, maar dit maak nie ander partye se insette nutteloos nie, want die ANC laat hom redelik dikwels oortuig dat ʼn ander party se voorstel meriete het.

Tot dusver het die ANC nog absoluut geen aanduiding gegee oor watter bewoording ter verandering van die Grondwet hy gaan voorstel nie. ANC-LP’s in die komitee is duidelik daaroor dat hulle wel ʼn wysiging van art. 25 sal voorstel, maar gee geen aanduiding of die voorstel ingrypend of klein sal wees, of wat die voorstel se inhoud sal wees nie.

Terugvoer van ANC-bronne is trouens dat daar nie eenstemmigheid in die party is oor wat die aard van die bewoording moet wees nie. In elk geval word die ANC se posisie verswak daardeur dat enige uiteindelike voorstel deur die komitee nie noodwendig genoegsame steun in die Nasionale Vergadering sal kry om dit te laat slaag nie, want hoewel die voorstel met ʼn gewone meerderheid (soos wat die ANC het) deur die komitee aanvaar kan word, kan die Grondwet slegs gewysig word deur ʼn tweederde-meerderheid in die Nasionale Vergadering (wat die ANC nie het nie).

In praktyk gaan die ANC die steun van die EFF in die Nasionale Vergadering nodig hê om enige Grondwetwysiging aanvaar te kry, so as hul voorstel te gematig is vir die EFF se smaak gaan die ANC-leierskap die skadelike verleentheid oorkom dat hulle nie uitvoer gegee het aan die besluit van die vorige ANC-konferensie om art. 25 te wysig nie. Dit sal groot probleme vir die huidige ANC-leierskap veroorsaak tydens die regerende party se nasionale algemene raad in die middel van aanstaande jaar, en sal die verwagte poging om ʼn mosie van wantroue in pres. Cyril Ramaphosa se leierskap aanvaar te kry, se kanse op welslae versterk.

Die EFF se voorstel vir die wysiging van die Grondwet sal na verwagting onteiening sonder vergoeding so maklik en algemeen moontlik maak. Die EFF se amptelike beleid is in elk geval dat alle grond aan die staat moet behoort en dan tydelik toegewys word aan boere om daarop te boer, maar dit is moontlik dat die EFF vir die doel van die huidige proses daardie beleidspunt sal moet uitlaat, want die ANC ondersteun nie staatseienaarskap van alle grond nie. Die EFF het ANC-steun nodig om soveel moontlik van die EFF-voorstel deur die parlement aanvaar te kry.

Van die EFF se kant het Shivambu dit reeds in die parlement duidelik gemaak dat die EFF nie die ANC-voorstel sal steun as die EFF meen dis nie ingrypend genoeg nie.

Ondanks Shivambu se woorde is daar tans sterk aanduidings dat die EFF inskiklik sal wees om die ANC-voorstel redelik ter wille te wees, want die EFF sal nie aan die ANC die ammunisie wil gee van ʼn bewering dat die EFF se weerhouding van steun die Grondwet se wysiging onmoontlik maak nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Werner ·

Die massas is al so opgesteek dat ANC nie n keuse het as om saam met EFF te gaan nie anders gaan ons met onwettige grondbesettings tedoen kry wat die regering nie gaan keer nie hulle het nie die wil of veiligheidsmagte om dit te doen nie so anargie is ons voorland

HPV ·

Werner, die land is al lankal in ‘n anargie vasgevang. Sou hulle voortgaan met die dom idee van onteiening sal alle beleggings en lenings aan die land opdroog, soos in heeltemal opdroog, duisende meer mense gaan hul werk verloor, besighede gaan in honderde sluit met grootste uittog van produktiewe mense in die geskiedenis. Baie mense het alreeds hul spaargeld oorsee geneem of geskuif, die wat nie paspoorte het, doen aansoek vir paspoorte want julle gaan dit nodig kry. Daar is reeds ‘n ooraanbod van woonhuise en meenthuise, die rede is voor die handliggend.

Frik ·

Die land stuur af op ‘n staatsgreep. Daarna sal war lords in beheer wees. Dit sal dan te laat wees vir afstigting.

Gollie ·

Hulle kan ma kom vat, moet net nie dink ek gaan die bank aanhou betaal nie. Die bank moet maar die geld by die eff kry

André-Chris ·

Redelikheid het nog nooit by die mense geseëvier nie, so waarom sal dit nou, wat moet gebeur sal gebeur, maar hul ideologie sal die wa deur die drif trek.

stem ·

die anc en eff dink net aan vandag en al die geld en natuurlik land ook, niks verder as wat hul hare lank is

Judge Dredd ·

Miljoene of miljarde?

Miljoene is sekerlik onderskatting van moontlike verliese?

André-Chris ·

En per Me Lindiwe Sisulu gaan watersekerheid, of dan liewer die katestrofe om dit te keer, oor die volgende 10 jaar by R900 biljoen kos, dan wag die NGV oor ‘n paar jaar wat miljarde gaan kos ook vir ons. Natuurlik sal daar periodiek reddingsboeie aan die staatsentiteite gegee word.
Sommer so voortydig op al die geskenke: “Tjeers, da gaat hy, laat hy val wa hy wil!”

Sê-maar-net ·

Die Siener, Niklaas van Rensburg het dit ‘n eeu gelede alreeds voorspel: Julle gaan ALLES verloor. Maar hy het ook gesê dat as die volk hom verootmoedig en afstand doen van sy materialisme, sedeloosheid en om afgode te dien, sal Hy ons volk te hulp snel en ons sal die mees geseënde nasie op aarde word. Siener het nog niks voorspel wat nie uiteindelik bewaarheid is nie. Dit sluit die Anglo-Boere-oorlog, die Rebellie, die Groot griep, Die Twee Wêreldoorloë, die 9/11-gebeure in Amerika en talle ander rampe in. Selfs die bou van die Voortrekkermonument en die ossewatrek van 1938 as feesviering.

Leon ·

Die ANC, EFF en BLF gaan so droogmaak dat daar ‘n massamoord van blankes in die Johannesburg omgewing gaan plaasvind. Ook voorspel deur Siener. Dit sal die kersie op die koek wees vir Suid Afrika se vernietiging. Dit sal die doodskis toemaak en Suid Afrika toemaak. Soos hulle sê: Watch this space”.

Bert ·

Niks sal hulle keer nie.
Kyk wat reeds als tot niks gereduseer is en hulle voel nie eers minderwaardig of skaam daaroor nie, bedink net weer iets nuuts om op te foeter.

Kiskar ·

Nee wat….ek maak maar vir my skatte in die hemel bymekaar waar mot, roes en diewe dit nie in die hande kan kry nie :-)

My Opinie ·

Dis in elk geval belaglik om onteiening in n land se grondwet in te skryf.
Hoe kan n ekonomie floreer met onsekerheid rondom besitreg?
Absoluut belaglik.

vermeende ·

Grondonteiening gaan die regering nie n duit kos nie, bloot omdat die regering nie vir sy inkomste werk nie. Dit gaan die publiek en veral die belasting betaler baie geld kos en ook geleenthede. Baie werke sal tot nuut gaan maar geen minister se pos sal gesluit word nie, die kabunet sal ook nie kleiner gemaak word nie.
Soos Cyril die padda as voorbeeld gebruik het, o moet ons net besef, dis nie die ANC wat die water warmer maak nie, dis ons in ons verset.
Ons moet die leiding neem en self die tempratuur drasties opskuif. Hierdie land moet tuimel en klaar kry sodat ons weer voor kan begin en bou terwyl ons nog jonk genoeg is en die kennis het.

Judge Dredd ·

Hoor wat jy se.
Ongelukkig as ons eerste “die hitte” opskuif dan is die hele wereld weer teen ons.
Ons enigste opsie is om hierdie speletjies te speel, die ANC se aandade op elke manier te blok/uitwys/frustreer en te hoop hul oorspeel hul hand.
Slegs dan kan ons begin daadwerklik optree.
Daar is buitendien nog te veel “Afrikaners” wat gewillige(samewerkende) meelopers van ANC plannetjies is.

DEWALD ·

So bakly hulle oor grond. Terwyl die boere wie die grond besit boer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.