Onteiening sonder vergoeding ‘krimineel’

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. (Foto: Morné Prinsloo)

Onteiening sonder vergoeding kan as krimineel geklassifiseer word en kom neer op magsmisbruik en beslaglegging van bates.

So het Piet le Roux, hoof van Sakeliga, Dinsdag namens dié organisasie aangevoer voor die ad hoc-komitee oor die wysiging van artikel 25 om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik. Die organisasie is na afloop van die voorlegging mondelinge deur lede van die EFF aangeval.

Sakeliga se geskrewe voorlegging het insette van die deurwinterde grondwetkenners proff. Koos Malan en Hennie Strydom as hoofouteurs ingesluit.

Le Roux het namens Sakeliga betoog ’n grondwet moet die land se bevolking beskerm teen magsmisbruik in die uitoefening van staatsmag. Waar dit nie gebeur nie, voldoen ’n grondwet nie aan die eise van grondwetlikheid nie en is die grondwet in sigself ongrondwetlik.

Aan die hand van daardie definisie het Le Roux aangevoer onteiening sonder vergoeding oorskry die grense na magsmisbruik. Hy het trouens aangevoer kriminaliteit kan aangevoer word, en dat onteiening sonder vergoeding neerkom op beslaglegging van bates.

Hy het ook gesê waar die term “onteiening sonder vergoeding” tans die modefrase is, beteken dit eintlik konfiskering van eiendom, omdat die algemeen en internasionaal aanvaarde norm is dat daar by onteiening markwaarde uitbetaal word. Dikwels sal ’n bykomende uitbetaling geskied as regsremedie en vergoeding vir die ongemak en ontwrigting wat onteiening vir die onteiende beteken.

Waar die skakel tussen onteiening en hierdie vlak van vergoeding, en dus tussen waarde en vergoeding, gebreek word, verval die vereiste in die huidige artikel 25(3) van die Grondwet, is Sakeliga se voorlegging.

In so ’n geval meen Sakeliga enige grondwetlike verandering – onafhanklik van hoe dit verpak word – tas die konsep van grondwetlikheid aan en kan nooit aanvaar word deur enigeen wat tot die konsep van grondwetlikheid onderskryf nie, al word dit ook met die vereiste meerderheid deur die parlement aanvaar.

Sakeliga betoog voorts dat dit beter sal wees indien die fokus eerder val op die oordra van titelaktes aan diegene wat tans vruggebruik, eerder as eienaarskap van grond het.

Le Roux het afgesluit met die mening dat geen grondwet wat sy sout werd is, konfiskering van eiendom kan toelaat nie.

Die ANC-LP Sibusiso Gumede het vir Le Roux gevra of dit Sakeliga se mening is dat die Grondwet in sy huidige vorm nie aan grondwetlikheid voldoen nie, en of dit net die huidige voorgestelde grondwetlike verandering is wat nie daaraan voldoen nie.

Le Roux het versigtig geantwoord en sy woorde gekies – dat ’n grondwet aan neergelegde vereistes moet voldoen om werklik ’n grondwet te wees, en dat dit nie in hierdie geval Sakeliga se voorlegging is dat die Grondwet as sodanig ongrondwetlik is nie.

Floyd Shivambu. Foto: ANA

Die EFF-hoofsweep, Floyd Shivambu, het rooi gesien en Le Roux gevra of Sakeliga ’n bindende demokratiese meerderheidsbesluit van die parlement sal verontagsaam, en of Sakeliga ontken dat kolonialisme neergekom het op konfiskering.

Hierby het die EFF-LP dr. Mbuyiseni Ndlozi bygevoeg of Sakeliga sou saamstem dat, as kolonialisme neergekom het op konfiskasie, dit slegs reggestel kan word deur konfiskasie. Hy

wou ook sommer weet wat is die rasprofiel van Sakeliga se lidmaatskap.

Ndlozi het bygevoeg dat Sakeliga nie moet wees soos oudpres. Donald Trump van die VSA, wat geweier het om demokratiese uitslae te aanvaar nie.

Le Roux het met betrekking tot Shivambu se vraag oor die aanvaarding van ’n grondwetwysiging deur die vereiste parlementêre meerderheid gesê geen wysiging wat die konsep van grondwetlikheid aantas, kan deur die aktiewe burgery aanvaar word nie – selfs nie sou die vereiste parlementêre meerderheid besluit dat die EFF nie mag bestaan nie.

Hy het nie kommentaar gelewer op die insette oor kolonialisme en konfiskering nie, en het nie Ndlozi se vraag oor die rasprofiel van Sakeliga beantwoord nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Misky ·

Hoekom loop Shivambu nog vry rond in sy rooi pak en nie sy oranje overall al aan nie??? Hoort nie daar nie

Persheks Adri ·

Net om ons verder te irriteer en ons siele te versondig Misky die hele rooi span eish

Ian ·

Dit is die tipiese misleidingstaktiek van die EFF. Verdraai die punt net effens. Hy het nie gesê die grondwet is onkonstitusioneel nie; net dat die verandering sou wees.

Jaco ·

Vrese oor onteiening sonder vergoeding noem net landbougrond. Maar wat van stedelike grond? Ek besit 2 huise in stedelike gebied, so 25km van mekaar af. Gaan albei onteien word net omdat ek wit is, of gaan net 1 onteien word met die argument van “jy het klaar 1,so dis onregverdig om 2 te hê”. Niemand kan my vraag beantwoord nie, behalwe die ANC en die EFF, maar eks te bang om hulle direk te vra, want dan weet hulle wie ek is en sit my naam eerste op die lys vir die dag wanneer onteiening sonder vergoeding begin.

Mariana ·

EFF sal als plooi om hul doel te bereik. Daai klomp het nog nooit vir iets in hul lewens gewerk nie. Hulle kry als verniet en lewe soos konings. En kyk net hoe lekker lewe hul as gevolg van die kolonialisme. Oppertuniste dis wat hulle is

Persheks Adri ·

Kan iemand nie die EFF’ers onteien nie asb? Hel hulle maak moeg en is bekotsingswaardig pffft

Werner ·

Wanneer hulle artikel 25 verander kan hulle alles vat. Lanbou grond huis in die dorp geld in die bank en onderbroek aan die bas.Dit het nie sakekamer gepla toe hulle gedog het dis net lanbou grond nie nou sing hulle n ander deuntjie.

Jaco ·

Waar gaan al onteiende mense bly? Gaan hulle die grond wat van hulle onteien is huur?

Nico ·

Natuurlik sal Shivambo rooi sien hy dra dan ‘n rooi oorpak.

Ria ·

Rasprofiel se dinges. Sakeliga is wit, veg vir regverdige behandeling vir wit. Hoe maklik is dit nie om wette (grondwet nogal) te verander om jou te pas nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.