Onteiening sterf stille dood in parlement

Volgens kenners het dié wetgewing nou ʼn doodloopstraat bereik nadat die EFF nie eens vir die parlementêre vergadering hiervoor opgedaag het nie. (Foto: Maroela Media)

Talle kenners is dit eens dat ʼn wysiging van artikel 25 van die Grondwet – wat onteiening sonder vergoeding sal moontlik maak – nie ʼn oplossing vir grondhervorming is nie. Dit blyk nou boonop bloot goedkoop politiekery van die ANC te gewees het om stemme te werf.

Die kwessie is opnuut op die spits gedryf nadat die ANC se planne hiervoor verlede week in die hek geduik het. Die ANC het klaarblyklik op die steun van die EFF staatgemaak om die voorstel deur te voer, maar die rooi barette het nie eens vir die parlementêre vergadering daaroor opgedaag nie.

Paul Mashatile, tesourier-generaal van die ANC, het daarna aan Bloomberg gesê die ANC sal moontlik sy plan moet skrap om die Grondwet te wysig om dit makliker vir die regering te maak om grond te onteien sonder om daarvoor te betaal.

Kenners het aan Maroela Media gesê die departement van landbou en grondhervorming moet nou eers sy eie huis in orde kry ten einde grondhervorming te bespoedig.

Politieke klug

Theo Venter, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die wetgewing het ʼn doodloopstraat bereik en selfs die ANC se pogings om die EFF met sekere wysigings te probeer paai, het misluk.

Van die voorstelle was om die afsnydatum vir grondeise van 1913 tot 1800 te verander, asook om tradisionele grond van die proses uit te sluit.

Venter sê die proses het die land geen stap verder gebring as toe Enoch Godongwana, nou minister van finansies, destyds die omstrede aankondiging oor die voorstel gedoen het nie.

Hy meen dit was uit die staanspoor die ANC se plan om deur te druk met die proses en dan te sê ten spyte van sy beste pogings, kon hy nie genoeg steun vir die wysigings kry nie.

“Dit was ʼn wilde gejaag na wind.”

Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê daar is talle senior ANC-lede wat self meen ʼn wysiging aan die Grondwet gaan nie die huidige stand van sake rakende grondhervorming verander nie.

“Die staat is eintlik besig om ʼn politieke klugspul van grondhervorming te maak.

“Die ANC en die EFF sit ook nie om dieselfde vuur wat dit betref nie en dan het jy reeds ʼn situasie waar dit nie verder gevoer kan word nie.”

Van der Rheede sê die voorgestelde wysigingsproses was ʼn geweldige finansiële vermorsing, terwyl mense se emosies onnodig opgejaag is. “Intern is dit in die ANC gebruik om faksies teenoor mekaar op te stel. Die Zuma-faksie het dit destyds na die tafel gebring om dit vir die Ramaphosa-faksie bitter moeilik te maak om te oorleef.

“Die ANC self gebruik dit om sy politieke aansien te probeer herwin en aan mense die idee voor te hou dat hulle links en regs grond gaan kry en grond sonder vergoeding onteien gaan word. Dit is hartseer.”

Venter meen ook dit wat die regering met die beoogde wysiging wou regkry, kan hy reeds binne bestaande wetgewing doen. “Die probleem was nog altyd swak bestuur; nie regsprosesse wat dit moontlik maak nie.”

Ruk departement reg

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, glo ook grondhervorming kan suksesvol plaasvind sonder ʼn wysiging van die Grondwet. Enige onteiening sonder vergoeding is boonop vir die party onaanvaarbaar.

Daar moet ontslae geraak word van korrupte amptenare in die departement en hulle moet deur bevoegde mense vervang word. Die miljoene hektaar grond wat reeds in staatsbesit is, kan volgens die VF Plus gebruik word vir die herverdeling van grond.

Volgens Groenewald moet daar ook ʼn keuringsproses vir begunstigdes wees, terwyl die proses van gewillige koper, gewillige verkoper deurlopend moet geld.

“As jy net die basiese stappe volg, kan jy behoorlike grondhervorming hê.”

Daar is volgens Venter uit die staanspoor gevra dat die grondhervormingsproses reggeruk word en dat dit alreeds talle van die probleme met die proses gaan oplos.

Ook Van der Rheede stem saam dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sy sake in orde moet kry.

“Dié departement kan egter nie eens ʼn ordentlike verslag gee oor wie watter grond het nie. Hy kan ook nie behoorlik verslag doen oor wie huurgeld betaal vir grond wat teen miljarde rande vir grondhervorming bekom is nie.”

Venter sê die EFF se standpunt is boonop nasionalisering of niks. Die party het ook nooit enige aanduiding gegee dat hy afstand gaan doen van sy radikale posisie van nasionalisering nie. Die ANC wou egter ook nie van sy standpunt afwyk nie.

“Onteiening sonder vergoeding het ʼn stadige dood in die parlement gesterf, maar in die politiek en tydens die verkiesing, sal ons dit nog hoor.”

Probleem lê nie by te min grond

Van der Rheede sê die behoefte is boonop nie soseer oor landbougrond nie, maar eerder grond vir behuising. Plakkerskampe wat naby stede opgerig word, is tekenend hiervan.

Wat die EFF betref, sê Van der Rheede dit is ironies dat lede van die EFF, wat vra vir nasionalisering, plase of huise het wat in hul eie name geregistreer is.

“Hoe laag wil jy daal? Jy gun jouself eienaarskap en verryk jouself in die proses – want dis net deur eienaarskap dat jy welvaart kan skep – maar jou ontsê dit vir die res van jou mense.”

Hy sê miljoene hektaar vrugbare grond lê onbenut in die voormalige tuislande en kan byvoorbeeld nie gebruik word om produksielenings te bekom nie. “Grond is nie die probleem nie; dit is die gebrek aan behoorlike administrasie.”

Van der Rheede sê suksesvolle swart en bruin boere word aan bande gelê omdat hulle nie eienaarskap van die grond kry wat hulle bewerk nie.

“Die departement moet dit moontlik maak.”

Hy sê die proses moet in die hande van kommersiële landbou gelaat word en dat suksesvolle boere ander boere help ontwikkel.

“Dit is uiteindelik nie grond wat kos produseer nie; dit is kundigheid wat kos produseer.”

Groenewald bestempel die pogings om die Grondwet te wysiging as deel van die ANC se “misleidingstaktiek”.

“Dit gaan nie oor te min grond nie; dit gaan oor geld. Grondhervorming moet fokus op voedselsekerheid en moet volhoubaar wees.”

Die regerende party moet ophou om mense te mislei dat onteiening sonder vergoeding die grondhervormingsproses vinniger gaan laat gebeur, sê Groenewald.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Groen Ghoen ·

Kyk gerus ‘n keer deeglik na wat die Nederlanders vermag met hul plat en ongenaakbare stukkie van die aarde: Sover bekend, is Nederland die land wat in geldwaarde bereken die tweede meeste varsprodukte produseer en dit uitvoer. Grond is vir hulle bloot ‘n waardevolle groeimedium. Dan ook het die Nederlanders orals ‘n betrokkenheid by die produksie van groentesaad (ook hier in ons soms droewe ou landjie). Watter land is die grootste globale blomprodusent? Reg geraai…. dit is die Huis van Oranje se mense….

groenboer ·

En nog ‘n land, miskien meer vergelykbaar met SA wat klimaat betref, met min grond of water maar soliede landbouproduksie: Israel.

Natuurlik, in beide hierdie lande het hulle wel ‘n heel belangrike bestanddeel vir sukses, naamlik werksetiek.

Pieter ·

Blykbaar het die IMF ook in die ANC se slaai kom krap rakende hierdie saak. Die ANC leen so baie geld by die IMF dat hulle hul baasskap oor die land verloor het. Hulle is net base van een groot rioolplaas.

Perdeby ·

Shame en nou kan hulle ook niks doen nie, want die geld is klaar! ha ha hah ha

Tiptol ·

En my kommentaar is nie geplaas nie. Kan nie sien hoekom nie.

Jackie ·

En dan is daar nog mense wat meen gebed werk nie. Ek weet nie hoe dit werk nie, maar dit werk beslis. Die Here weet wat ons nodig het. Amptenare wat nie omkoopgeld aanvaar of betaal nie.

JohanR ·

October of Febuarie stem ons. Op die stem brief gaan ANC verby. Hulle sal skrik met 35%!

KhoiKhoi ·

Hoop die uitspraak is Oktober.
Hulle het nie geld nie en hul kieserslyste is deurmekaar!
Bid asb!

annie ·

En julle glo dit? Ace en Malema en die res van die boksemdais al nie gaan lê nie. Die ANC weet dit en sal net hul hande in onskuld was as plase beset word… want die mense is honger vir grond . Moenie gerus raak nie. SA was nog nooit die Paradys nie.

Vlam14 ·

Ja nee, die saadjie is geplant, hoekom sal hulle nie ons grond vat nie, aan hulle is dan ‘n belofte gemaak dat hulle ons grond sal kry, ons huise, ons pensioene, ons beleggings. Ek hoop ek kan ook my kleim gaan afsteek, ek is mos ook ‘n boorling van Afrika.

koos10 ·

Wag net tot die volgende nasional verkiesing, dan staan hierdie gedagte weer uit die dood uit op. Net soos die plan vir die basiese inkomste toelaag. Oor ‘n paar maande is dit verkiesing.
Die verkiesings beloftes word bykans nooit nagekom nie, en ek dink ons is nie ver van ‘n punt af waar kiesers nie meer belieg kan word nie.
De Ruiter van Eskom het dit nou die dag mooi gestel: “Die ANC het die mense gratis krag belowe, nie Eskom nie.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.