Onthoring van renosters die geheim

‘n Onthoring van ‘n renoster (Foto: Foto’s: Justin Sullivan)

Volgehoue pogings om renosterstropery in die Krugerwildtuin en die Groter Kruger-gebied ʼn nekslag toe te dien, werp uiteindelik vrugte af, met die wildtuin wat in Desember nie ʼn enkele geval van renosterstropery aangemeld het nie. Renosterstropery in die Groter Kruger-gebied het ook na raming met 95% die afgelope vier jaar afgeneem.

Rolspelers met wie Maroela Media gesels het, is vas oortuig dat die onthoring van renosters, saam met die aanwend van tegnologie en gemeenskapsbetrokkenheid die deurslag vir die afname in stropery gee.

“Die onthoring van renosters, wat saam met ander metodes en veiligheidsmaatreëls geïmplementeer word, is ʼn wenresep in die bekamping van renosterstropery,” sê dr. Ben Muller, ʼn veearts van Wildscapes-veeartsenykundige en bewaringsdienste in Hoedspruit, Limpopo. Muller en sy vennoot, dr. Joel Alves, onthoring self renosters in die Groter Kruger-gebied.

Die renoster voel geen pyn tydens die onthoring nie (Foto: Foto’s: Justin Sullivan)

Die onthoring van renosters het die afgelope tien jaar ʼn algemene verskynsel in Suid-Afrika geword namate die aantal stropingsaktiwiteite toegeneem het.

“Hoewel dit ʼn dramatiese maatreël is, is dit ʼn vinnige, pynlose prosedure wat al talle renosters se lewens al gered het,” sê Muller.

ʼn Horing neem sowat drie jaar om weer terug te groei.

Volgens Muller sal stropers twee keer dink voordat hulle ʼn renoster sonder ʼn horing stroop, omdat die klein stukkie horing nie vir hulle van waarde is nie.

“Die stropers soek ʼn heel horing. Hulle sal nie die moeite doen om hul eie lewe in gevaar te stel of in hegtenis geneem te word net vir ʼn stompie nie.”

Volgens Sharon Haussmann, uitvoerende hoof van die Groter Kruger Omgewingsbeskermingsforum (GKEPF), word daar tans intensiewe navorsing gedoen om te bepaal of onthoring ʼn impak op die renoster se welstand het.

“Sover blyk dit asof onthoring die renoster op geen manier beïnvloed nie,” sê Haussman.

Kyk hier hoe Muller die onthoringsproses verduidelik:

Tegnologie, gemeenskappe aangewend

Onthoring van renosters is die groot geheim agter die afname in renosterstropery (Foto: Foto’s: Justin Sullivan)

Die departement van bosbou, visserye en omgewing het in Februarie bekendgemaak die wildtuin en ander nasionale parke het in 2022 40% minder renosterstropingsgevalle gehad. Altesaam 124 voorvalle van stropery is verlede jaar in die wildtuin aangemeld, aansienlik minder as die 209 gevalle wat in 2021 aangeteken is.

Die Groter Kruger-gebied het teenstroopeenhede (met uitsonderlike vaardighede en gevorderde tegnologie) wat dag en nag op die grond ontplooi is om gebiede wat ʼn risiko vir stroping inhou, te patrolleer. Dié eenhede werk nou saam met intelligensie-eenhede wat inligting oor stropers ontvang nog voordat die stropers op ʼn gebied gaan toeslaan.

Saam met die grondspanne word lugondersteuning ingespan om die stropers vas te trek. Opgeleide honde speel ook ʼn kardinale rol om stropers uit te snuffel en te help vastrek en die wildtuin het oral kameras – wat enige beweging wat nie dié van diere is nie optel.

Jana Meyer van Hope for Wildlife-helikopterdienste (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Jana Meyer van Hope for Wildlife-helikopterdienste werk noukeurig saam met die teenstroopeenhede se grondspanne en sê hulle is afhanklik van mekaar se ondersteuning.

“Die grondspanne sal die helikopter in ʼn area inpraat. Die grondspanne dra omgedopte hoede op hul koppe, met ʼn helder oranje merk bo-op sodat ek hulle met die eerste oogopslag kan sien. Hulle sal soms ook ʼn wit lap in die lug hou vir identifikasie,” vertel Meyer.

Volgens Haussmann het die finansiële inspuitings van private landeienaars, oorsese vennote en ondernemings ook teenstropingseenhede ʼn hupstoot gegee.

Tinyiko Golele, streekswagter in die suide van die Krugerwildtuin (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Tinyiko Golele, streekswagter in die suide van die Krugerwildtuin, sê die wildtuin het ʼn proaktiewe veiligheidsplan wat saam met die polisie, die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en die omliggende gemeenskappe uitgevoer word om renosterstropery hok te slaan.

Volgens Golele word risiko-areas met behulp van misdaadintelligensie geïdentifiseer om vas te stel wat stropers se nuwe neigings is, waar hulle moontlik kan toeslaan en waar die wildtuin ekstra hulpbronne kan kanaliseer. Veldwagters word dan in daardie areas ontplooi om te patrolleer.

“Soms word veldwagters ook op geheime operasies in hierdie areas ontplooi, wanneer hulle tot twee weke in die veld uitkamp en die area monitor,” vertel Golele.

Golele sal veldwagters se fisieke en geestelike gereedheid vooraf bepaal.

“Ons werk is uitdagend en gevaarlik, nie oor die diere wat ons kan teëkom nie, maar die mense wat van buite af die wildtuin binnedring. Ons het al veldwagters in skietvoorvalle met stropers verloor.”

Die wildtuin het ook ʼn goeie verhouding met die gemeenskappe op die westelike grens van die wildtuin en werk saam om stropers aan te keer.

“Lede in die gemeenskap help ons om die grens te patrolleer en op die uitkyk te wees vir verdagte aktiwiteite.

“Ons hou ook gereelde samesprekings met tradisionele leiers in die gemeenskap om hulle te motiveer om nie onwettige diereprodukte te koop nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.