40%-afname in renosterstropery in Krugerwildtuin

Renosters in die Krugerwildtuin. (Foto: Argieffoto/Maroela Media)

Die meedoënlose stryd teen renosterstropery in die Krugerwildtuin en ander nasionale parke in die Suid-Afrika het verlede jaar vrugte afgewerp met 40% minder stropingsgevalle in dié parke as ʼn jaar gelede.

Terwyl nasionale parke skynbaar veiliger word vir dié diere, is renosters in provinsiale parke al hoe meer in stropers se visier.

Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en die omgewing, het vandeesweek die jongste syfers oor renosterstropery in die land bekend gemaak.

Luidens die departement se statistieke is 448 renosters verlede jaar landwyd land gestroop. Dit is drie minder (451) as in 2021.

Al die voorvalle van stropery waar ʼn renoster doodgemaak is – altesame 124 – het in die Krugerwildtuin plaasgevind. Dit is aansienlik minder as die 209 gevalle wat in 2021 aangeteken is.

Geen renosters is in ander nasionale parke in die land doodgemaak nie, maar diere in sommige private reservate is wel gestroop.

Volgens Creecy het 86 van die 448 stropingsgevalle op reservate in private besit plaasgevind.

“Die bestendige afname in renosterstropery in nasionale parke hou verband met ons voortgesette pogings om stropery hok te slaan,” sê sy.

“Die jongste statistieke wys dat samewerking tussen bewaringsowerhede, die polisie en internasionale agentskappe inderdaad werk.”

Die prentjie is elders in die land nie so rooskleurig nie. Volgens die departement gaan KwaZulu-Natal se provinsiale parke nou gebuk onder ʼn vlaag van renosterstropery.

Altesame 244 renosters is verlede jaar in hierdie provinsie vir hul horings gestroop. Die meeste diere, altesame 228, is in provinsiale parke gestroop en 16 in private reservate.

“Die Hluhluwe iMfolozi-park het veral onder stropers deurgeloop en is gereeld geteiken,” sê Creecy.

“Ons glo wel dat as provinsiale owerhede in KwaZulu-Natal ons model volg, hulle renosterstropery in hul provinsiale parke aansienlik sal kan stuit voordat dit te laat is.”

Soveel renosters is in 2022 in Suid-Afrika gestroop.

Creecy voer aan dat benewens die suksesse wat in die land se nasionale parke bereik is, is daar ook groot vordering gemaak in die getal mense wat verlede jaar in hegtenis geneem is vir hulle beweerde betrokkenheid by renosterstropery.

Altesame 132 inhegtenisnemings is verlede jaar gedoen. Hiervan was 60 in Limpopo, 23 in Mpumalanga en 49 in KwaZulu-Natal.

Internasionale samewerking met ander wetstoepassingsowerhede het ook daartoe gelei dat 26 vermeende renosterhoringsmokkelaars in hegtenis geneem is en ʼn verdere 13 vir beweerde geldwassery en omkopery van veldwagters.

In ʼn poging om die stropery in KwaZulu-Natal te bekamp, is spesiale ingrypingsmaatreëls in samewerking met die departement, bewaringsgroepe en die polisie van stapel gestuur. Dit het reeds gelei tot die inhegtenisneming van vier vermeende sleutelsindikaatlede wat KwaZulu-Natal spesifiek geteiken het. Die samewerking word vanjaar voortgesit.

Die departement, in samewerking met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het verlede jaar ook ʼn omgewingswerkgroep op die been gebring om nouer samewerking tussen provinsies te verseker en te help om reeksoortreders wat in Suid-Afrika rondbeweeg aan te keer.

As deel van die volgehoue pogings om die voortbestaan van die renosterspesie te verseker, is SANParke reeds besig om veilige habitatte regoor Suid-Afrika te identifiseer waar nuwe renostergemeenskappe gevestig kan word.

Soveel renosters is gestroop:

Provinsies en nasionale parke202020212022
SANParke247209124
Gauteng222
Limpopo183825
Mpumalanga133921
Noordwes193224
Oos-Kaap000
Vrystaat1244
Noord-Kaap114
KwaZulu-Natal93102244
Wes-Kaap040
Totaal394451448

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kosie ·

Daar is nie meer Renosters om te stroop nie dit is hoekom dit met 40% af is, as die paar wat daar nou oor is geskiet word deur die geldgurige nasie dan maak dit nie n groot impak op die pefsentasie nie.

Di ·

Onthoring van alle renosters is die enigste oplossing om hierdie diere te red van stropery. Ja, dis nie voordelig vir die diere nie maar die enigste oplossing om die stropings te voorkom. Die spul betrokke by stropings sal nooit ophou alvorens daar daar niks meer oor is nie. Sien daar is baie privaat wildreservate wat reeds begin het om hulle renosters te onthoring om hulle te red van hierdie gemors

Vonny ·

Jaaaa die nuwe SA.
ALLES TEN GRONDE…LETTERLIK ALLES!!!!@@

Grassie ·

Feitlik al die renosters in die suide van die Krugerwildtuin is reeds onthoring. Ek het een groepie van vyf dikwels in ‘n sekere gebied gesien. Vier was onthoring. Ek het die groepie ongeveer ‘n maand gelede weer raakgeloop en die een met die horing was weg. Ek is dankbaar dat die wildtuinbestuur die diere onthoring, ek glo dit kos baie geld maar dit is ‘n hartseer ondervinding om daardie pragtige, trotse diere sonder hul kenmerkende horings te sien.

Truman Burbank ·

En n 60% toename in moord gee dit die perfekte balans

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.