Ontvoerde baba ongedeerd gevind

(Argieffoto)

ʼn Babaseuntjie wat tien dae gelede in Jozini in KwaZulu-Natal ontvoer is, is ongedeerd opgespoor.

Die vier dae oue baba is op 10 Augustus by ʼn bushalte in die omgewing van Maphanya ontvoer. Die polisie het vroeër gesê die ma is uit die hospitaal ontslaan nadat sy enkele dae tevore gekraam het en ʼn vrou het aangebied om die baba vir haar te dra.

Hulle het by die hospitaal ʼn bus gehaal en toe hulle by die Mamlambo-bushalte afklim, het die vrou met die kind verdwyn terwyl sy ma geëet het.

ʼn Silwergrys voertuig het glo die vrou en die baba opgelaai en hulle het weggery.

Die polisie het Donderdag ʼn deurbraak in die saak gemaak en inligting opgevolg dat die seuntjie moontlik in Ermelo, Mpumalanga, saam met die vermeende ontvoerder is.

Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, sê die Jozini-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe het die verdagte by ʼn kliniek op Ermelo aangekeer waar sy glo ʼn inenting vir die seuntjie wou laat doen.

Die seuntjie was ongedeerd en is reeds met sy ma herenig.

Die 32-jarige vrou wat in hegtenis geneem is, sal na verwagting Vrydag in die Ubombo-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Louise ·

Baie bly babatjie is veilig by sy ma.
Maar hoeveel keer moet daar nog gese word. MOENIE laat vreemde mense jou baba kyk nie.

Mieke ·

Ek dink hierdie soort misdaad is die heel ergste wat iemand kan oorkom! Die ontsettende emosionele stres, bekommernis en hartseer wat so iemand moet deurmaak is onbeskryflik . Sulke kriminele behoort eintlik lewenslank te sit want hulle is dan self bereid om iemand anders se hele lewe te ruïneer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.