‘Ontvoerde’ kind teruggevind

(Foto: Rusa/Facebook)

ʼn 16-jarige meisie wat vermoedelik in in KwaDabeka, noordwes van Durban in KwaZulu-Natal, ontvoer is, is Woensdag gevind.

Beamptes van Reaction Unit South Africa (Rusa) en polisiebeamptes van Verulam het ʼn soektog na die tiener van stapel gestuur toe die pa, van Amanzimtoti, onder die indruk geplaas is dat sy Dinsdagmiddag deur ʼn sindikaat ontvoer is.

“Die man het verduidelik dat hy deur drie mans in ʼn silwerkleurige Ford Ranger-bakkie met ʼn NPS-nommerplaat gedwing is,” het Rusa in ʼn verklaring gesê. “Hulle het met hom na Folweni gery waar hy R10 000 uit sy bankrekening onttrek het. Hy het ʼn balans van R4 000 in sy rekening oorgehad. Die ontvoerders was glo van plan om dit vandag te onttrek ná hy sy daaglikse limiet bereik het.”

Die man is vanoggend weer in die bakkie gedwing en na Capitec-bank in Wickstraat geneem. “Twee mans het hom na die ingang van die bank vergesel. Hulle was gewapen. Hulle het hom onder die indruk geplaas dat hulle sy dogter, wat saam met haar ouma in KwaDabeka woon, ontvoer het.”

Hy is gedwing om die bank te betree en die res van die geld uit sy rekening te onttrek. “Die verdagtes het hom daaraan herinner om nie aandag op homself te vestig nie en hulle het buite gewag.”

Die slagoffer het egter die bank se werknemers van die ontvoering in kennis gestel en hulle het die saak by Verulam-polisie aangemeld.

“Die verdagtes het besef dat die man bystand gevra het toe hulle van die bank wegstap. Polisiebeamptes wat op die oproep reageer het, het bystand van reaksiebeamptes versoek om die verdagtes aan te keer.”

Reaksiebeamptes en polisiebeamptes het op die silwerkleurige Ford Ranger-bakkie toegeslaan en die bestuurder in hegtenis geneem. “ʼn Grootskaalse soektog is van stapel gestuur na sy twee medepligtiges. Niemand is egter in hegtenis geneem nie.”

Die man het geglo sy dogter moet in die omgewing wees, aangesien die vermeende ontvoerders hom oortuig het dat hulle reeds die tiener ontvoer het.

“Ná ʼn uitgebreide soektog van Verulam-middestad het wetstoepassers saam met die man na KwaDabeka gegaan in ʼn poging om die tiener te vind. Met hul aankoms het die ouma laat weet die dogter is vanoggend oudergewoonte skool toe.”

Die beamptes is skool toe en het die dogter opgespoor – uit vrees dat die voortvlugtige verdagtes haar tog sou ontvoer.

“Die dogter het aan beamptes gesê sy het Dinsdagaand ʼn telefoonoproep van haar pa se selfoon gekry. ʼn Onbekende man het haar laat weet dat haar pa ontvoer is en indien hy versuim om aan hul opdrag te voldoen, dat hulle haar ook sal ontvoer. Sy het haar ouma in kennis gestel van die oproep.”

Die verdagte wat in hegtenis geneem is, staan tereg op aanklag van ontvoering en gewapende roof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.