Ontvoerde vrou veilig gevind

(Argieffoto: Hans Braxmeier/pixabay)

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, die polisiekommissaris in Mpumalanga, versoek die vinnige inhegtenisneming van twee verdagtes ná ʼn jong vrou ontvoer is.

“Die 21-jarige vrou is Maandagaand naby ʼn gimnasium by Schoemansdal-plaza in Nkomazi ontvoer,” sê brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie. “Sy het vir ʼn taxi gestaan en wag toe twee mans haar oorval het. Hulle het haar in Tonga laat gaan voor hulle met haar selfoon gevlug het.”

Die vrou het omstreeks 18:15 vir ʼn taxi staan en wag om haar huis toe te neem in Driekoppies. “ʼn Groen Toyota Corolla het onverwags by haar stilgehou en twee mans het ʼn vuurwapen op haar gerig. Hulle het haar beveel om in die motor te klim.”

Die man wat die motor bestuur het, het haar gedwing om haar familie te kontak en ʼn losprys van R10 000 te eis vir haar vryheid.

“Ná verskeie pogings om die geld te kry onsuksesvol was, insluitend om te kyk na die beskikbaarheid van geld op haar bank-app op haar selfoon, het die verdagtes besluit om haar te laat gaan.”

Die verdagtes het haar toegelaat om ʼn oproep te maak voor hulle haar laat gaan het, sodat sy haar familie in kennis kon stel waar om haar te vind. “Die verdagtes het daarna die SIM-kaart uit haar selfoon gehaal, maar met die toestel gevlug.”

Die familie het haar lewend gevind met verskeie kneusplekke waar die mans haar aangerand het. Haar hande was met kabelbinders vasgebind.

“Die voorval is by die polisie in Schoemansdal aangemeld en ʼn saak van ontvoering is aanhangig gemaak. ʼn Soektog na die verdagtes is dadelik van stapel gestuur. Die slagoffer kon letters in die nommerplaat onthou en die ondersoekspan versoek die publiek om op die uitkyk te wees vir ʼn groen ou Toyota Corolla met ʼn Mpumalanga-nommerplaat wat die letters ‘KC’ bevat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JM ·

Iets sal baie vinnig moet gebeur om die anargie in die land vas te vat. Dit neem skrikwekkende afmetings aan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.