Onvoldoende regulasies oor handreinigers in SA

Handreiniger (Foto: Maroela Media)

Suid-Afrika het ʼn hoogs problematiese mark vir handreinigers, omdat regulering van dié produk vrywillig is en baie maatskappye daarom nie aan die veiligheidstandaarde voldoen nie.

Navorsing wat tans gedoen word by deur die Universiteit van Pretoria onder leiding van dr. Willeke de Bruin ondersoek die langtermyn effekte van handreinigers op verbruikers, asook die gebrekkige regulasie oor dié produkte.

De Bruin sê sy het oor die onderwerp begin wonder toe sy eendag in ʼn winkel was en moes kies uit sowat 30 verskillende handreinigers op die rak. Aangesien sy toe reeds baie opgelees het oor handreinigers, kon sy ʼn ingeligte besluit maak, maar die deursnee verbruiker het waarskynlik nie dieselfde kennis nie.

Dr. Willeke de Bruin (Foto: Verskaf)

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) moet ʼn handreiniger verkieslik bestaan uit slegs vier bestanddele – alkohol (ten minste 70%), water as verdunner, gliserol vir bevogtiging en waterstofperoksied wat verhoed dat bakterieë vorm. Daar moet sover moontlik geen kleurmiddels, geurmiddels of parfuum ingesluit word nie.

De Bruin sê dat daar nog nie genoeg navorsing gedoen is om te weet watter effek ʼn verskeidenheid ekstra bestanddele op die effektiwiteit van die produk sal hê nie, en daarom is dit beter om ʼn handreiniger te gebruik wat slegs dié vier bestanddele bevat.

Volgens De Bruin is dit uiters belangrik vir handreiniger om 70% tot 80% alkohol in die vorm van etanol of isopropielalkohol te bevat.

“Ten opsigte van die verbruiker word daar nie genoeg klem gelê op die alkoholinhoud nie. Ons weet ons moet handreinigers gebruik, maar baie mense weet nie dit is oneffektief sonder die 70% alkohol nie. As die handreiniger minder as 60% alkohol bevat kan jy dit net sowel nie gebruik nie,” sê sy.

In die navorsing word daar gekyk na 60 produkte van verskillende winkels in die formele en informele mark. Terwyl die meerderheid van die produkte voldoen het aan die peil van 70% alkohol, was daar sekeres wat tot so min as 53% alkohol bevat het, al staan daarop dat dit 70% alkohol bevat.

“Dit skep ʼn valse indruk van veiligheid by die verbruiker, want jy dink jy koop iets wat jou gaan veilig hou en beskerm, maar dit dien eintlik nie sy doel nie en is totaal oneffektief.”

De Bruin beklemtoon dat seep en water die beste manier is om jou hande skoon te maak.

Sy sê ʼn groot rede vir kommer is dat Suid-Afrikaanse handreinigers nie gereguleer word nie. Daarom kan enigeen dit maak en verkoop as die winkel dit toelaat, en die verbruiker weet dan nie of dit voldoende beskerming bied nie.

Waarvoor om versigtig te wees

Van die gevare wat ongereguleerde handreinigers inhou, is dat dit metanol kan bevat, wat skadelik kan wees as dit oor ʼn lang tyd gereeld gebruik word.

“Metanol kan toksies wees en kan selfs in ernstige gevalle tot sterftes lei, soos wanneer dit gedrink word. Wanneer dit bykomende bestanddele bevat, kan dit ook meer vir ʼn kind soos koeldrank lyk en kinders kan dit per ongeluk drink.”

Nog ʼn gevaar waarvan talle mense nie weet nie is dat alkohol kan ontplof as dit in ʼn warm plek gelaat word en daarom moet dit liefs nie in ʼn motor gelaat word nie.

Handreinigingstasies (Foto: Maroela Media)

Die alkohol in handreinigers kan ook skadelik wees as dit in iemand se oë beland. De Bruin sê ouers moet bedag wees daarop dat spuitbottels met handreiniger in winkels gereeld op ooghoogte vir kinders kan wees en só in hul oë in kan spuit.

Wees ook versigtig daarvoor om handreiniger oor ʼn lang tydperk te gebruik sonder enige bevogtiger, want droë hande kraak en die krake kan weer plek maak vir ander mikro-organismes om te ontwikkel.

Hoe kan verbruikers veilige besluite neem?

De Bruin sê hoewel daar baie min produkte is wat reguleer word, is daar wel ʼn paar wat aan die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) se standaard voldoen. Daarom moedig sy mense aan om reinigers te koop met die SABS se handelsmerk op.

“Verbruikers kan begin deur die etiket te lees en seker te maak die produk bevat minstens 70% alkohol. Die naam en die adres van die maatskappy moet daarop wees, daar moet aanwysings op wees en dit moet ʼn bondelkode op hê.”

Indien die winkel waarheen jy gaan nie ʼn etiket op sy bottel handreiniger het nie, sê De Bruin jy as verbruiker het die reg om ʼn etiket aan te vra, om seker te maak jy word beskerm. Indien hulle nie ʼn etiket kan voorsien nie, mag die winkel se bestuur jou nie daarvan weerhou om jou eie reiniger te gebruik nie.

Rede vir kommer

De Bruin sê daar is beslis rede vir kommer oor regulasies in die Suid-Afrikaanse mark vir handreinigers.

“Die verpakking het nie altyd al die inligting op het nie, omdat daar nie altyd genoegsame alkohol in is nie en omdat die meerderheid reinigers ʼn klomp ander bestanddele bevat en ons weet nog nie hoe dit die effektiwiteit van die produk beïnvloed nie. Dit gebeur alles omdat die produkte nie reguleer word nie.

“Vir ʼn land soos Suid-Afrika, en baie ander lande in die wêreld waar handreinigers nie reguleer word nie, is dit kommerwekkend want jy as verbruiker is geregtig op ʼn produk wat kan sê wat dit doen en wat dit bevat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Misky ·

Ek was so tyd terug by ‘n bekende kettingwinkel gewees en oudergewoonte spuit hulle jou hande as jy ingaan. Nie lank daarna nie het my hande begin jeuk en toe vreeslik gebrand. Sò erg, dat ek moes uitgaan badkamer toe en my hande gaan was. Ek sidder om te dink wat sommiges in daai reiniger gooi om kostes te bespaar. En sê nou nee, dan weier hulle dat jy ingaan

Anoniem ·

Dra jou eie klein botteltjie “wat ookal” by jou en spuit jou hande voor die deurwag, hulle het in ieder geval geen cooking clue wat aangaan nie.

Louise ·

Myne hande het al begin “flake” en is baie seer a.g.v. al die handreinigers by winkels en toe hulle eendag weier dat ek kan ingaan vra ek “of alle produkte op die rakke ge-sanitize is” kon hulle my nie antwoord nie, so ek gaan maar na die winkels toe waar hulle jou toelaat om self te sanitize op “own risk”

Vanessa ·

Ek is bly Maroela koerant het die berig geplaas. Ek het sanitizers gekoop wat juis lekker ruik. Gelukkig het ek darem nog nie covid opgetel nie (dank die liewe Vader) . Ek sal nou maar eerder let op die inhoud van die reinigers en nie die reuk nie.

Ou Baardbek ·

Moet tog asseblief nie alles glo wat u hierbo lees nie!! Sommige sogenaamde “ingeligte/belese” persone gee voor dat hulle deskundige kennis het oor onderwerpe waarvan hulle nog net GELEES het. ‘n “Doktors graad” beteken nie noodwendig deskundige kennis oor ALLA sake nie.

SwartBees ·

Ek skiet nie die sanitizer gebruik af nie, My vrou se hande is verniel, vol barste en velle wat afdop agv die santizer. Ek huil letterlik voor ek kom. My vraag is dus as ek mall toe gaan met my masker op sy plek, wet wipes in my sak en santize by die ingang, hoekom dan by elke winkel hulle weird konkoksies op my hande spuit? Ek is nie n wetenskaplikke nie maar my verstand sê vir my dat om n klomp chemicals deur te meng n reaksie moet laat gebeur.

Oom Hennie Pennie ·

Die beste is koop ‘n pak WET WIPES {Die soort wat moeders vir babas gebruik} en hou dit by jou. Voor jy ingaan vee jy jou hande af met 2 of 3. My vrou doen dit en het niemand ons nog gestop of gepla nie.

Anoniem ·

Ek gebruik my eie wetwipes. Indien ek die ‘pedaal-tipe sanitizer moet gebruik, staan ek eenkant en sorg ek dat die vloeistof op die vloer uitspuit.

Rosslyn ·

My hande word rooi en kraak letterlik so erg dat dit bloei van 99% gewone huishoudelike skoonmaakmiddels, newwermind sanitizer! Selfs deur dun rubberhandskoene, om winkels toe te gaan is vir my ‘n nagmerrie! Die wagte by die deur wil net nie verstaan en naderhand eindig die geveg, dat ek uitloop en glad nie weer by daardie winkel groep koop. Ek hoop ‘n paar supermark bestuurders lees die berig en kommentaar.
As daar een mens het wat rede om #G@tvol Covid-19 te sê is dit ek!

Eend Bessinger ·

Allergies? Probleme? Kry ‘n sproeibottel en meng 10% suurlemoensap in water. Vat dit saam. Hulle mag nie weier dat jy jou eie gebruik nie. Ek doen dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.