Onwettige myners in Rustenburg vasgevat

(Foto: Verskaf)

Onwettige mynbedrywighede in Rustenburg is Donderdag tot ʼn halt geroep nadat ʼn multidissiplinêre span van die Valke en die lugmag op ʼn sindikaat toegesak het.

Die uitgebreide operasie spruit uit maande lange inligting wat ingesamel is oor die onwettige mynaktiwiteite wat glo geruime tyd reeds amptelike mynwerk in die gebied kniehalter.

Dié onwettige aktiwiteite word na bewering deur ʼn sindikaat gefasiliteer waarin talle rolspelers voordeel uit die georganiseerde misdaadnetwerk trek.

Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke, sê die span het in verskeie helikopters op die Batlhako-myn toegesak en lede van die sindikaat aangekeer.

“Twee hooflede van die sindikaat is in hegtenis geneem, terwyl drie verdagtes gewond is. Dié het na bewering probeer om inhegtenisneming te ontduik deur van die toneel te vlug. Dit het in ʼn jaagtog ontaard waartydens ʼn skietgeveg uitgebreek en die verdagtes gewond is.”

Volgens Rikhotso het die span op ongeveer 3 000 ton chroom beslag gelê. Die chroom het ʼn geskatte waarde van sowat R2,5 miljoen.

“Daar is ook op vier vragmotors, drie masjiengrawe, twee dieseltenks, twee voertuie en ʼn vuurwapen beslag gelê.”

Die twee sindikaatlede sal Vrydag in die Mogwase-landdroshof verskyn, waar hulle teregstaan op aanklagte van onwettige mynbedrywighede.

Drie beseerde verdagtes is aan die plaaslike polisie uitgelewer.

Genl.maj. Patrick Mbotho, provinsiale hoof van die Valke, het ʼn streng waarskuwing aan alle onwettige mynsindikate gerig dat hulle misdadige aktiwiteite moet stopsit.

“Mynbou dra die meeste by tot die plaaslike ekonomie, daarom is dit die moeite werd om dit te beskerm. Wees gewaarsku.”

DA ook op oorlogspad

Die DA-raadslid in die Mogale City-munisipaliteit aan die Wes-Rand – wat aan Noordwes grens – is ook op die oorlogspad om onwettige mynbedrywighede hok te slaan.

Tyrone Gray het vandeesweek ʼn petisie van stapel gestuur wat vra vir die dringende ingryping deur die nasionale en provinsiale regering om onwettige mynbou deur die sogenaamde Zama-Zamas stop te sit.

Volgens Gray moet die munisipaliteit verwoestende gevolge die hoof bied weens dié onwettige bedrywighede. Die munisipaliteit is destyds as ʼn myndorp gevestig.

“Onwettige mynaktiwiteite het reeds skade aan die water-, elektriese en padinfrastruktuur tot gevolg gehad,” sê hy.

“Boonop het dit sinkgate veroorsaak wat paaie laat ineenstort – dit is ʼn groot risiko vir die lewens van inwoners.

“Daar is ook ʼn misdaadsindikaat betrokke wat kos, alkohol, dwelms en selfs vroue aan die Zama-Zamas verskaf. Voorvalle van geweld weens turfoorloë tussen die myners het ook al plaasgevind.”

Die DA dring nou daarop aan dat owerhede ingryp deur onder meer die munisipaliteit tot rampgebied te verklaar ten einde verdere verwoesting te voorkom.

“Die DA sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat wet en orde seëvier en dat die veiligheid van inwoners en die infrastruktuur van die munisipaliteit ʼn sleutelprioriteit bly,” sê Gray.

  • Lede van die publiek kan die petisie hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Die probleem in sa is elkeen doen net wat hy wil en die ruggraatlose regering laat dit toe.

Pietertjie ·

Volgens mý berekening is 3000 ton chroom nader aan R38miljoen werd.

Prikkie ·

“Mynbou dra die meeste by tot die plaaslike ekonomie, daarom is dit die moeite werd om dit te beskerm.”

Boerdery dra ook by tot die plaaslike ekonomie en voedselsekerheid. So kan ons die boere ook so goed beskerm soos die myne?

SjN ·

Stel vas wie die kopers is, solank daar n afsetgebied is sal dit nie stop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.