Onwettige sigarette kos SA miljarde

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Suid-Afrika verloor jaarliks miljoene rande weens die verkoop van onwettige sigarette.

Trouens, luidens ʼn onlangse studie deur die Universiteit van Kaapstad het dít Suid-Afrika sedert 2010 altesame R100 miljard gekos.

Die studie is gelei deur dr. Nicole Vellios en prof. Corné van Walbeek. Hul bevindings is onlangs in die BMJ Open Based-joernaal gepubliseer. Die navorsing is deur die Bill & Melinda Gates-stigting deur middel van die African Capacity Building Foundation gefinansier.

Vellios, wat verbonde is aan die universiteit se navorsingseenheid oor die ekonomie van aksynspligtige produkte (Reep), sê in 2022 het die regering R17,6 miljard aan aksyns- en BTW-inkomste weens die verkoop van onwettige sigarette verloor.

Volgens haar sou dié bykomende inkomste ʼn verdere 1% bygedra het tot die totale inkomste van die land.

“As ons na ʼn langer tydperk kyk – vanaf 2002 tot 2022 – is die totale aksynsinkomste [wat verlore gaan] R119 miljard.”

Volgens Vellios se navorsing het die regering sedert 2010 ʼn duidelike afname in inkomste weens die sluikhandel in sigarette ondervind. In dié jaar het die onwettige mark in sigarette veral begin toeneem.

“Ons het geskat dat die onwettige mark in 2009 5% van die algehele mark uitgemaak het. In 2021 het dié syfer tot 60% gestyg.”

In die daaropvolgende jaar het onwettige sigarette 58% van die algehele mark verteenwoordig.

Vellios en Van Walbeek het gekyk na die verskil in die hoeveelheid sigarette wat self as verkoop aangemeld is, en die hoeveelheid wat wettig aangekoop is. Hulle het verder in berekening gebring dat sommige rokers dalk sou ophou rook of minder rook namate die prys van sigarette gestyg het.

Hieruit het Van Walbeek opgemerk dat hoë aksynsbelasting minder doeltreffend is in ʼn mark wat so ʼn uitermatig hoë persentasie van onwettige sigarette bevat.

ʼn Groot onwettige mark skep ook verdere probleme, nie net omdat dit vir rokers goedkoper is nie, maar ook omdat dit jonger rokers lok.

“Dit is dus van kritieke belang om die  beskikbaarheid van onwettige sigarette te verminder,” het Van Walbeek gesê.

Hoewel dit maklik is om ʼn pakkie onwettige sigarette uit te ken, meen Vellios en Van Walbeek dat die regering nie genoeg doen om wetgewing hieroor af te dwing nie.

Hulle het spesifiek verwys na Suid-Afrika wat nog nie sy protokol om die onwettige handel in tabakprodukte uit te wis, bekragtig het nie.

Dié protokol is ʼn internasionale verdrag wat daarop gemik is om alle vorme van onwettige handel in tabakprodukte uit te roei.

Lande wat hulle daartoe verbind, onderneem onder meer om lisensievereistes en ʼn nasporingstelsel vir alle tabakprodukte in te stel.

“Indien die SAID nie die vloei van takbakprodukte van die begin tot einde deur die produksie- en verskaffingsnetwerk kan nagaan nie, sal hy voortgaan om inkomste te verloor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Amelia ·

Dink daar word genoeg belasting betaal op kos ens as dit mog aangewend word soos dit moet isdit seker aander saak so los maar die goekoper sigrette sonder die belasting en aksyn geld

Lulu ·

Die 1% sou ook maar net ingesluk geword het deur korrupsie. Sou nie verskil gemaak het ons ekonomie nie.

koos10 ·

Tydens COVID het die regering dit duidelik gemaak dat hulle nie die belasting nodig het nie.
Jaar na jaar verhoog belasting dan ook op sigarette. Dit is mos om te vra vir ‘n onwettige mark, met nog hoë persone in die regering wat moontlik betrokke kan wees, en ‘n totale wanfunksionele grens en beheer, sal die uiteinde mos altyd dieselfde wees. Ek, wat terloops 2 jaar terug opgehou het, het tydens COVID weer en weer gewaarsku oor die feit dat onwettige sigarette na die pandemie meer sal gekoop word omdat die verbod op verkope, mense na onwettige “brands” gedryf het, en hulle het gewoond geraak daaraan, is mos net af gelag. Nou lag ek maar.

Jaco ·

Daai 1% sal niks verskil gemaak het nie. Dit sou ook net weg geraak het

Steyn ·

Was daar nie ‘n minister se seun of of familie betrokke by onwettige siggarette smokkel nie?

Jakkie ·

Haal die onnodige belasting van sigarette af, sodat daar ‘n laer prys verskil is tussen wettig en onwettige sigarette. Die A en C het hierdie deur oop gemaak met Covid, so moennie huil nie.

KB ·

En DRANK (ALKOHOL!)?
Klim tog van julle alewige rook-karretjie af!
Drank foeter ander se lewens op, dit ruïneer individue, maar veral ook gesinne/families/kinders/padgebruikers…onskuldiges se lewens!
Kan julle ou hamertjies nie asb. op ʼn ander aambeeld begin tik nie? Julle raak vervelig!

Cassie Carstens ·

Koos10, tydens die Covid pandemie het mev Zuma die pad oopgemaak vir haar seun om die onwettige smokkelary te bedryf. Nou gaan dit te lekker. Steeds deel van staatskaping.

Star ·

Teenoor wettig se pryse, koop ek eerder onwettige sigarette. Monkey see monkey do. Soos A en C.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.