‘Oorlog moet end kry,’ sê Ramaphosa aan Poetin

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die samesprekings met Rusland. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het aan pres. Wladimir Poetin gesê dat sy oorlog teen Oekraïne moet end kry.

“Hierdie konflik moet besleg word… deur onderhandelinge en deur diplomatieke middele,” het Ramaphosa Saterdag ná samesprekings met die Russiese president in Sint Petersburg gesê.

Ramaphosa het gedurende sy en sy Afrika-bondgenote se besoek aan Rusland gesê dat dié afvaardiging graag “sal wil hê dat hierdie oorlog beëindig word”.

Die afvaardiging – bestaande uit topamptenare van Suid-Afrika, Senegal, die Comore, Zambië, Uganda, Egipte en die Republiek van die Kongo – het tydens hul besoek tien beginsels voorgehou wat moontlik vrede tussen Rusland en Oekraïne kan bewerkstellig.

Pres. Cyril Ramaphosa en pres. Wladimir Poetin skud blad. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die Kremlin het egter gesê die beginsels is “baie moeilik om te implementeer”. Dít nadat pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne herhaaldelik vir die Afrika-vredesending gesê het dat die uitkoms van vredesgesprekke skraal is.

Die tien beginsels sluit onder meer in die erkenning van lande se soewereiniteit, onbelemmerde graanuitvoer deur die Swart See en die terugstuur van krygsgevangenes en kinders na hul lande van herkoms.

“Enige inisiatief is baie moeilik om te implementeer,” het Dmitri Peskov, woordvoerder van die Kremlin, Saterdag gesê. “Maar president Poetin het belangstelling getoon om dit te oorweeg.”

Sergei Lavrov, Rusland se minister van buitelandse sake, het gesê die plan is “nie op papier geformuleer nie”.

Die samesprekings in Rusland. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Poetin self het egter die afvaardiging geloof vir hul “gebalanseerde” benadering en gesê hy is “ontvanklik vir  konstruktiewe dialoog met almal wat vrede wil implementeer gebaseer op die beginsels van geregtigheid en respek vir die partye se wettige belange”.

Moskou het dit in die verlede al duidelik gestel dat enige onderhandelinge “nuwe territoriale realiteite” in ag sal moet neem.

Zelenski het egter tydens sy samesprekings met Ramaphosa sy standpunt herhaal dat Oekraïne eers sy besette gebiede sal moet teruggekry om vrede te bewerkstellig.

Poetin ontken oorlog kan in Afrika gevoel word

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Ramaphosa het voor sy formele samesprekings met Poetin gesê dat die oorlog tussen Rusland en Oekraïne ’n negatiewe impak het, nie op die Afrika-kontinent nie, maar ook op baie ander lande reg oor die wêreld.

Poetin het egter gesê “die krisis in die globale voedselmark is geensins ’n gevolg” van die Oekraïne-konflik nie.

Rusland beskuldig die Weste daarvan dat hulle sy uitvoer van kunsmis verhoed en dreig nou om aan ’n ooreenkoms – wat op 17 Julie verval – te onttrek. Die ooreenkoms maak noodsaaklike Oekraïense graanuitvoer deur die Swart See nog moontlik.

“Ons glo nie dat verskeping van Oekraïense graanvoorrade die probleme van armoede en honger kan oplos nie,” het Poetin tydens die vergadering gesê.

Zelenski het die Afrika-leiers gevra om Rusland te vra om Oekraïne se politieke gevangenes vry te laat.

“Ons is gereed om hierdie proses voort te sit,” het Poetin egter Saterdag met verwysing na dié krygsgevangenes gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

anko ·

Het nog nie van tegnologie gehoor nie, zoom vergadering sou baie goedkoper gewees het. R soek net nog ‘n stempel in sy paspoort. Twyfel of die beraad suksesvol was. P het lank terug probeer onderhandel met Z. Dit het nie gewerk nie

annie ·

Afrika het aanhoudend oorloë aan die gang en het nie raat met die huidige in die ooste nie maar wil nou betrokke raak by die langdurige ingewikkelde kwessie in die Ukraïene. Afrika soeel gewoonlik na alle kante toe vir ‘n goeie in en hoop nou om van beide Rusland en die Uiraïene omkoopgeskenke te ontvang. Eintlik baat dit Afrika dat dié speletjie aanhou. SA sal nou net slimmer moet speel om voordeel te trek omdat die DA nou kruip by Biden en skinderstories gebruik in die hoop op ondersteuning vir sy Republiekie in Kaapland gebou volgens die Zelenskyy-sirkus.

Roek ·

Staak dit onmiddelik of ek stuur vier van my kabinetslede om julle in ses maande bankrot te maak !!

Republikein in die Wes Kaap ·

Binne drie maande sal Oos Europa besef hulle het baie om voor dankbaar te wees.

Papsak ·

Ag asb wie dink Ramaphosa is hy nou eindlik Putin lag hom af hulle gaan nie na hom luister nie hy kon net bel maar nee wil intelegent lyk moet vlieg hoop Putin jaag hulle weg

Geert ·

Ai tog mens kan hulle amper jammer kry, alweer hulle naam met n plank geslaan.

Blikkies ·

Wie en wat is die ekselens nou in die Rus se oë…dit lyk eerder of die ekselens en sy ander ekselense vir Zelensky en Putin geïrriteer het. Plaas hy ophou om homself slim te hou en die gemors in Suid-Afrika regmaak.

anko ·

Afrika moet ophou bedel en begin werk. Grane groei slegs indien dit geplant word. Ek praat nie van ons boere wat onder moeilike omstandighede kos op die tafel sit nie. Hulle moet almal medaljes kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.