Oorsaak van taverne-tragedie ondersoek

Die polisie is al vroegoggend op die toneel. (Foto: Jurie Blignaut/Twitter)

Die polisie se bestuur het die ontplooiing van maksimum hulpbronne gelas, terwyl die polisie die omstandighede rakende die dood van 21 tieners by ’n plaaslike taverne in Scenery Park, Oos-Londen, ondersoek.

Die tieners is Sondag omstreeks 04:00 dood in die taverne aangetref en die oorsaak van hul dood is nog nie bekend nie. ’n Geregtelike doodsondersoek na die dood van die jong mense is geopen.

Genl. Bheki Cele, minister van polisie en genl. Fannie Masemola, die nasionale kommissaris van die polisie, het Sondagmiddag ’n hoëvlak-afvaardiging van misdaadtoneelkundiges en bomopruimingstegnici van die nasionale hoofkwartier gelei om die Oos-Kaapse misdaadtoneelondersoekspanne te help met die ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig die polisie het met hul aankoms by die taverne op 17 liggame afgekom. Daar is later vasgestel dat nog twee by ’n plaaslike kliniek oorlede is. Een het ook omgekom op pad na die hospitaal en ’n ander is later in die hospitaal oorlede. Dit bring die dodetal op 21 te staan.

Nege van die 21 jong mense wat gesterf het, is vroue en 12 is mans.

Volgens kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het Cele met plaaslike inwoners en ouers van die oorledenes gesels by die plaaslike lykshuis waar die proses om die slagoffers te identifiseer aan die gang was.

Cele het ’n beroep op inwoners en geraakte gesinne gedoen om polisieondersoeke toe te laat om ongehinderd te ontwikkel.

“Ons het ’n ervare span wat die provinsiale span aanvul om te verseker dat ons tot die kern kom van wat tot die dood van hierdie jong mense gelei het. Ons betrek ook ander belanghebbendes om kwessies van voldoening aan drankwetgewing te ondersoek,” het Cele gesê.

Xola Pakati, die burgemeester van Oos-Londen, het die voorval gelykgestel aan ’n bloedbad.

“Dit is die ergste tragedie wat die stad nóg getref het,” sê Pakati.

Enigiemand met meer inligting oor die voorval kan Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Maritza ·

As jy die eerste berig lees was hulle tussen 18 – 20 jaar.

AmY ·

Ondersoek?
My bevinding: DIE KROEG WAS OORVOL VAN ‘N KLOMP MINDERJARIGES WIE SE DRANKIES DALK ‘GEDOKTER IS.’
Nou net om uit te vind wat in hulle drankies (natuurlik alkohol) gegooi is.

Delia ·

Baie van ons leef baie beskermend. Die wêreld daar buite is woes. So jammer vir kinders wat nie goeie rolmodelle het nie en nie geliefd en gekoester voel nie. Kinders wat dan liefde soek op ander plekke..

SjN ·

Tragies, Minderjariges hoort in elk geval nie op so plek nie, Hou eienaar en bestuur verantwoordelik, waar was toegangsbeheer ens.

Miskruier ·

Ook in n tavern, dis al wat hul doen.Hul werk nie, dus is hul nie moeg nie.Ek bly naby n swart woonbuurt. Hoe n mens daar kan slaap en studeer weet nugter.

Marius ·

Hierdie is baie tragies , maar dit is seker wat gebeur as mense in die land maak net soos hulle wil en geen respek het vir ander se lewe nie. Baie sterkte aan die families .

Miena ·

Net my 10c – onthou julle toe ons jonk was het sommige van ons vir ons ouers gese “ek gaan by Jan / Piet/ Sarie kuier en oorslaap” en dan het Jan / Piet / Sarie dieselfde vir hulle ouers gese… DUS is geen maat by geen een se huis gekuier en oor-geslaap nie maar wel almal erens op n ander plek gaan kuier… Wie van ons het dit gedoen en hoeveel kere? En ja – daar was nagevolge wanneer mens uitgevang was. Ek wonder egter of dit dalk in hierdie situasie of met deesdae se jong mense ook so gaan van oor-en-weer-kuier en dan is hulle eintlik nerens nie – behalwe net in die moeilikheid op die ou end?? Op die end- dis jammer dat sulke jong kinders so vroeg moes sterf.

minniemuis ·

Miena lyk my vandag doen hulle dit met die ouers se toestemmimg. News24 het n onderhoud met die 14 jarige meisie en die ouers se as sy oggend ure in kom dan klop sy altyd dan weet hulle sy is tuis so die meisiekind kuier gereeld tot in die oggend ure. dis tragies soveel jong lewens

Hompie ke Dompie ·

Ja ek was ook te jonk vir ‘n kroeg toe ek die eerste keer, en nog baie kere daarna gaan suip het. Net ‘n wonderwerk dat ek my jong lewe oorleef het. My ouers was tuis, en het nie geweet dat ek daar was nie.

Francois ·

Net weer n bewys dat wet en orde nie meer toegepas word in SA nie – daar sal wel n hoëvlak ondersoek wees maar eers moet mense sterf of “iets erg of groot” moet plaasvind. Voorkoming is te veel gevra of is harde werk want dan moet op skuldiges se tone getrap word of jy word met die dood gedreig. Dranklisensies en die drankraaad beteken niks meer nie – waar is die dae toe kuierplekke 24:00 moes toemaak – nou gaan jongmense eers 22:00 uit om te gaan kuier met pa se oop kredietkaart. Mens hoor gereeld dat wetstoepassers anderkant toe kyk. Jongmense sonder brieke lê gereeld uitgepass op die sypaadjies buite die plekke wanneer die son opkom. Maar deesdae is “alles mos maar aanvaarbaar” en die nuwe norm.

miche ·

Kon dit dalk wees dat die kinders hul eie konkoksie-drank ingesmokkel het?
Een ouer het sy 14 jarige dogter se lyk gister gaan uitken.
En sy was (volgens News24) nie die jongste nie.

Irene ·

Daar is baie ouers wat glad nie bekommerd is oor n kind wat uitgaan, van hulle weet nie eers waar hulle kinders hul bevind nie en hoe laat hulle terugkom, sou hulle terugkom.

Perdeby ·

Nege van die 20 jong mense wat gesterf het, is vroue en 12 is mans. Julle bedoel seker kinders! Ouderdom tussen 13 en 17 wow! en ek glo dit is drugs gewees, want as dit gif was sou hulle simptome van maagkrampe gehad het. Wonder wat gaan met die eienaar gebeur ” wat nie daar was nie”, want hy bly verantwoordelik wat daar gebeur het.

Hannelize ·

Jammer dit is nie ‘n tragedie nie. MAAR massamoord!! Seker daarvan die kinders is vergiftig met ‘n konkosie wat homemade is. Hoop die moordenaar/s word gevang.
Sterkte aan elke persoon wie geraak word hier deur.

Gerhardus ·

21 Tieners, “nege vroue en 12 mans”? Nee, 9 meisies en 12 seuns! Hulle is nié volwasse mans en vroue nie. Wat het hulle by ‘n taverne gesoek? Waar was hulle ouers? Wie het hulle daar toegelaat? Gaan die eienaar/es vervolg word?

Francois ·

Die polisie ken elke taverne, smokkelhuis, dwelm perseel, bende leiers se woonplekke in hulle areas, en hulle weet wat daar aangaan is baie maal onwettig, maar hulle kyk ander pad vir geld.

Herman ·

Ek is nou heeltemal verward. Een oomblik lees ek van kinders tussen die ouderdom van 13 en 17 wat in ‘n sjebeen uithang… Dan weer word daar na dieselfde oorledenes verwys as mans en vrouens… Ek lees ook baie van “skoliere” wat al 25 jaar oud is en nog op die skoolbanke sit…

Kneh Mokenah ·

Ek lees op ‘n ander nuuskanaal die beskrywing van ‘n ooggetuie. Volgens haar was die plek oor vol en is van die mense gevra om uit te gaan. Hulle het nie gehoor gegee nie en nog mense het probeer inkom. “n Sekuriteitswag het toe die deur toegemaak en een of ander gas op die mense binne gespuit. Ek weet nie hoe waar dit is nie, gee maar net deur wat ek gelees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.