Die oorskot van Petro Nel (58), voormalige adjunkleier van die DA in Noordwes, wat op 8 Oktober 2015 in Nepal vermis geraak het, is meer as ʼn jaar ná haar verdwyning moontlik gevind.
Maroela Media het vroeër berig Nel was met vakansie in Nepal toe die ligte vliegtuig waarin sy ʼn passasier was oor die Himalajas in Nepal verdwyn het. Nel en ʼn Russiese vlieënier was die enigste insittendes in die vliegtuig toe dit vermis geraak het. ʼn Grootskaalse soektog is van stapel gestuur, maar dit is later afgelas nadat niks gevind kon word nie.
Chris Hattingh, DA-LP en voormalige DA-leier in Noordwes, het Sondag aan Maroela Media gesê ʼn vliegtuig het vyf weke gelede uit die lug wrakstukke van ʼn ligte vliegtuig in ʼn diep kloof in die Kaski-distrik in Nepal waargeneem en uit die lug foto’s geneem.
ʼn Reddingspan is Sondagoggend na die toneel terug waar hulle menslike beendere tussen die wrakstukke van die vliegtuig gekry het. Die menslike oorskot is vir forensiese toetse gestuur om te bepaal of dit wel Nel en die vlieënier se oorskot is.
Volgens Hattingh is dit duidelik dat die vliegtuig uitgebrand het, maar hulle kan nie bevestig hoe die ongeluk plaasgevind het nie.
Nel se twee seuns, Johnny en Juan, en haar man, JC, het kort ná haar verdwyning verlede jaar na Nepal gereis om deel van die soektog te wees. Nadat die soektog afgelas is, het hulle by ʼn tempel in Pokhara, Nepal, van haar afskeid geneem. Johnny het destyds op sy Facebook-blad hulde aan sy ma gebring en gesê: “Sy het na Nepal gekom om haar droom uit te leef en sy sal in haar droomplek agterbly.”
Lees alle vorige berigte oor Petro Nel op Maroela Media.
Uiteindelik is die raaisel opgelos en kan haar naasbestaande finaal afskeid nee.
Julle word die ryke seën van die here toe gebid.
Sterkte met die reëls verder
Ek bid dat dit haar oorskot sal wees sodat di familie nou finaal berusting kan kry, so ook als ons mede klerksdorpers wat almal saam gebid het! Baie sterkte vir di familie en mag God Jul dra in hierdie tyd
Uiteindelik! Hoop regtig dit is sy wat gevind is. Sterkte aan die familie.
Sterkte aan die familie.