Oorspronklike springbok vuur Bokke aan in Frankryk

Duane Vermeulen en André Esterhuizen in die hemde wat hulle geskenk gekry het. (Foto’s: verskaf)

Bokkaptein, Siya Kolisi, sê die span is “baie bly” om weer Sondag in die groen-en-goud te speel. Die Springbokke is boonop die afgelope week in Frankryk verras met ʼn geskenkpak met T-hemde wat die oorspronklike Springbok-embleem bevat.

Kolisi het Vrydag sy dank uitgespreek vir Suid-Afrikaners se volgehoue ondersteuning in die aanloop tot Sondag se wedstryd teen Frankryk.

“Dis vir ons lekker om op Bok-Vrydag te sien hoe almal hul groen rugbytruie dra. Dankie aan almal in Suid-Afrika wat ons ondersteun en ook aan die mense wat oorkom om na die wedstryde te kyk. Ons waardeer dit regtig baie.”

Die span was ook opgewonde om T-hemde met die oorspronklike Springbok op te ontvang. Dié embleem is vir die eerste keer tydens die destydse Springbokspan se internasionale toer na die Verenigde Koninkryk gebruik. Die hemde is deur die Suid-Afrikaanse leefstylhandelsmerk Republk aan die Bokke geskenk.

“Die span is weer opnuut herinner aan waar die Springbok-kenteken vandaan kom en waarom hulle dit dra,” het Liza-Mari Oberholzer, besturende direkteur van Republk, gesê.

“Ons wil die Springbokke aanspoor deur die geskiedenis van die Springbok-embleem, dit is ʼn kenteken wat sê ons besluit self wie en wat ons is, nie net ons spel en karakter is uniek nie, maar ook ons storie.”

Tydens ʼn toetsreeks in 1903 teen die Britte het die Suid-Afrikaanse span óf wit truie óf truie in die kleure van die unie/klub wat die wedstryd aangebied het gedra en geen kenteken op hul truie gehad nie. Voor die derde en laaste toets op Nuweland is die destydse Suid-Afrikaanse kaptein Barry H Heatlie egter deur ʼn naamlose beampte gevra om dit te oorweeg om die gewoonte te verander, met die oog daarop om Suid-Afrika ʼn permanente trui te gee. Heatley het destyds ʼn voorraad donkergroen truie byderhand gehad, die kleure van die ontbinde Old Diocesan’s Club. Daar is besluit om daardie truie op Nuweland te dra, en sedertdien is Suid-Afrikaanse vyftiental in groen geklee.

Die Springbok sou tydens die eerste internasionale toer na die Verenigde Koninkryk in 1906 bygevoeg word. Paul Roos was kaptein en H J Carolin die onderkaptein. Die bestuurder van die 1906-toer, John Cecil “Daddy” Carden het destyds vertel dat geen uniforms of baadjies voorsien is vir die toer nie. “Ons was ʼn bonte groep by die oefening in Richmond. Ek het daardie aand met Roos en Carolin gesels en daarop gewys dat die Londense pers vir ons een of ander snaakse naam sou uitdink, as ons nie self een sou uitdink nie. Ons het toe ooreengekom om onsself ‘Springbokke’ te noem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.