Oorvloed sonkrag magteloos teen beurtkrag

Foto ter illustrasie (Foto: Erich Westendarp, Pixabay)

Vrystaat Landbou (VL) het onlangs die mening gelug dat dit onverstaanbaar is dat daar soveel hernubare elektrisiteit op sonplase gegenereer word, terwyl daar steeds beurtkrag tydens dagligure ingestel word.

Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, sê dié projekte het reeds die kapasiteit om 6 400 MW se hernubare energie op te wek.

Suid-Afrika se totale elektrisiteitsopwekkingskapasiteit is 58 095 MW. Dit is nou sonder brekasies, beurtkrag, of herstelwerk wat gedoen word. Tydens fase twee‑beurtkrag word byvoorbeeld 2 000 MW daarvan uit die stelsel gehaal en 3 000 MW gedurende fase drie.

Dit lyk dus voor die hand liggend dat hierdie sonplase ʼn reuseduik in beurtkrag kan maak tydens dagligure.

Maroela Media het by Carel Ballack, ʼn energiekonsultant en president van die vereniging van hernubare energiepraktisyns (AREP) gaan kers opsteek oor waarom dit nog nie gebeur het nie.

Hy sê die saak is baie ingewikkelder as wat dit lyk.

“Hernubare energieverskaffers soos wind- en sonplase lewer inderwaarheid al sedert 2014 krag aan die sentrale netwerk, maar dit raak baie ingewikkeld wanneer beurtkrag inskop.”

Eskom se netwerk gebruik wisselstroom (AC), wat in eenvoudige terme beteken dat die krag heen-en-weer in ʼn sinuskurwegolf, met kruine en trôe deur die netwerk gestuur word. Die krag wat deur sonpanele opgewek word, is gelykstroom, wat onversoenbaar met ʼn wisselstroom is. Op ʼn sonplaas is daar dus ʼn omskakelaar wat die gelykstroom in wisselstroom verander.

“Sodra die son in die oggend begin skyn, word hierdie omskakelaars ‘wakker gemaak’ en soek in die sentrale kragnetwerk na ʼn verwysingspanning om dit na te maak, sodat dit daarmee kan sinkroniseer en dan sy opgewekte krag op die regte oomblik in die kragnetwerk te stoot,” sê hy.

Indien twee kragbronne nie in fase is nie, kan dit skade aan die netwerk en selfs jou huishoudelike toestelle maak.

“Die probleem kom in wanneer daar nie ʼn sein in die kragnetwerk loop nie, soos tydens beurtkrag. Dan kan die sonplase se omskakelaars nie die sein vind nie en raak dan weer ‘aan die slaap’. Die omskakelaars moet ook volsterkte spanning (volt) ‘sien’ om aan die gang te kom.”

ʼn Basiese beginsel van elektrisiteit is dat die spanning daal hoe verder dit van die kragbron af beweeg.

“Daar moet dus reeds voldoende spanning wees voor die sonplase en windturbines kan help om krag tot die netwerk te voeg.

“Nog ʼn rede waarom die sonplase afskakel wanneer die sentrale netwerk se krag afgaan, is dat ʼn sonplaas nie noodwendig die las kan dra wat die kragverbruikers van die bepaalde lyn af tap nie. Verder dien dit as ʼn veiligheidsmaatreël wanneer die krag afgeskakel moet word vir herstelwerk.”

Ballack sê hierdie protokol is in baie lande ingestel, onder andere in Duitsland, en omdat ons kragnetwerk baie met Duitsland sʼn ooreenstem, het Suid-Afrika dit ook in gebruik geneem.

Volgens hom is daar wel ʼn ander manier hoe sonkrag tydens beurtkrag ingespan kan word en dit is deur ʼn eilandstelsel, waar ʼn dorp of stad heeltemal van die sentrale kragnetwerk ontkoppel word en al hul krag vanaf ʼn toegewysde son- of windplaas ontvang. “Die uitdaging is egter om genoeg batterye aan te skaf om die krag steeds egalig in die stelsel te sit as dit bewolk raak of die wind gaan lê. Batterye is tans egter baie duur en hulle moet die totale las van die kragverbruikers, wat die son- of windplaas  bedien, kan dra.

“Daar is reeds komplekse wat na eilandstelsels begin oorskakel en in Johannesburg is daar ʼn groter gebied wat besig is om oor te skakel – hul batterye alleen kos R15 miljoen.”

ʼn Ander opsie is reusekragopwekkers wat as rugsteun saam met ʼn sonkragstelsel gebruik kan word, maar so ʼn kragopwekker moet ook die totale las kan dra vir wanneer die sonplaas se produksie skielik val weens ʼn wolk wat byvoorbeeld oorbeweeg. ‘n Kragopwekker neem ook ʼn rukkie om warm te word om hom voor te berei vir die las wat op hom geplaas gaan word.

Ballack sê in ʼn studie wat in 1995 deur die WNNR gedoen is, is tot die gevolgtrekking gekom dat Suid-Afrika se reusekragnetwerk ʼn mandjie van verskillende kragvoorsieners nodig het, soos kernkragsentrales, sonkrag,  windturbines en steenkool, om die risiko’s te versprei en om egalig en deurlopend krag te voorsien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Shakespeare ·

Die ANC/ EFF sal vir altyd iets negatief tot die ekonomie bydra. That’s how the cookie crumbles.

Frank John ·

Dis is dit beter as elke huis of besigheid self Voorsienend word..elkeen sorg vir homself. So word die finansieële las versprei. Ek weet nie want ek het geen opleiding in die rigting nie maar as ek aflei van wat hier gesê word lyk my na die eintlike oplossing.

FM ·

Ek stem 100% met jou saam. Ons het oor ‘n tydperk geleidelik Sonkrag installeer. Wanneer die omgewing so sukkel, veral in die nag, besef ek hoe bevoorreg ons is.
Baie dankie vir die goeie artikel ter verduideliking.

Jacobus ·

Tragies dat ons nie die vermoeë het om die stelsels te balanseer.- of miskien /dalk is dit nie in kaders se belang om buite opwekking te balanseer. Die datum 1995 is toe ANC se hande begin jeuk het vir die buite opbrengs van GROOT sentrales ( Kusile en Medupi) – “gift that keeps on giving”. Ons as verbruiker en belastingbetalers was die gekke.

Wielspore ·

In 1961 het SA ‘n republiek geword en die land het tegnologies gevorder, groot damme is gebou, spoorweg is ontwikkel, paaie is gebou, kragvoorsiening, water voorsiening tot 1995, dit was 34 jaar se werk. Vanaf 1994 tot vandag 2021, 27 jaar later, wat het die ANC regering gebou wat gelykstaande is enige van die wat ek bo genoem het, niks, absoluut niks. Tragies!

piet ·

Slegs 40% mense het krag gehad voor omskakeling na demokrasie. Meer kragstasies moes uiteraard gebou word, kan nie net vir die welgesteldes soos in Apartheid sorg nie.

LeonS ·

Will graag weet wat van al die miljarde rande geword het wat buitelande vir SA gegee het vir opwekking van nuwe krag uitbreidings

Wielspore ·

Met ‘n kombinasie son panele en wind turbines naby mekaar op dieselfde grid (eiland) kan jy dag en nag krag voorsien. Gedurende die dag as die son skyn kan die sonpanele krag aan die kleiner grid (eiland) krag voorsien en die wind turbines kan ontrek van die eiland en koppel met die ESKOM grid en krag in spitstyd voorsien. Saans ontkoppel die wind turbines van ESKOM en koppel weer terug met die eiland.
Daar is tegnologie beskikbaar om dit te kan doen.

piet ·

Dis bewolk en dis windstil, hoe dan? Kragbronne wat van die weerselemente afhanklik is, is onbetroubaar. Bou meer maar kleiner kernkragstasies, dis die oplossing. Dis wat besig is om in Europa te gebeur. Rolls Roys bou nou ‘n aantal klein kernkragstasies wat slegs die oppervlakte van 2 sokkervelde beslaan. Een so ‘n ministasie kan 1 miljoen mense van krag voorsien.

Wielspore ·

In my verduidelikking is dit moontlik om die dorp wat eiland aan die ESKOM grid te koppel. My werkgewer is ook ‘n IPP (independent power producer). Ons wek self krag op vir eie gebruik en oortollige krag gaan ESKOM toe. Die meeste van die tyd voer ons krag uit en dit het al gebeur dat ons onder fout kondisies eiland om ons toerusting te beskerm, al gebeur dit, bly die ligte aan. Om terug te koppel aan die grid moet jy net syncroniseer, dit is gou en effektief.

Jackie ·

Na die verduideliking kan ek verstaan hoekom elektrisiteit so moeilik is om te verstaan. Mens kan dit voel, maar nie sien nie. Ongelukkig wanneer jy dit voel is dit die die laaste maal.

Hayntjie ·

Noord van Kathu is ʼn reuse sonkrag plaas wat ʼn battery gebou het wat van sout gebruik maak uit soutpanne in die omgewing. Hulle stoor die krag om dan ʼn konstante stroom krag te bly lewer vir 24 uur per dag. Wanneer die son skyn word die battery weer gelaai. Dieselfde prinsiep kan sekerlik y ander so plase ook gebruik word.

Dirk Mostert ·

Dit behoort verpligtend te wees dat hernubare kragopwekkers “backup” (met fossielbrandstof) beskikbaar het vir wanneer krag nie deur wind- en son opgewek word nie. Anders is hulle duur wit olifante.

Pietertjie ·

My ondervinding is om nie met eskom te probeer saamwerk nie. Ontwerp sonkrag-stelsels só dat dit op sy eie funksioneer, en net oorskakel na eskom wanneer nodig. Dan sal eskom se beurtkrag nét pla wanneer die sonkrag-deel nie genoeg kan lewer nie: as die wind gaan lê, of die son skyn nie genoeg nie, of die batterye raak te gou pap.

Eskom se verskonings gaan nooit opraak nie.

Aubrey ·

My aarde. Daar lees ek nou van al die probleme met die miljarde rande se son en windkrag stelsels. Wel dan volgens my het hulle hulle geld liederlik gemors.En dit het niks met die regering uit te waai nie. Volgens my het hulle erg drooggemaak en wil nou ander blameer. Gn wonder Eskom stel nie belang nie want die goed kan NIE lekker inskakel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.