Opdraande stryd vir Mashaba, Maimane se nuwe party voorspel

Herman Mashaba, oudburgemeester van Johannesburg (Foto: Itumeleng English/ANA)

ʼn Politieke ontleder waarsku Herman Mashaba en Mmusi Maimane, wat pas aangekondig het dat hulle ʼn nuwe politieke party op die been gebring het, betree moeilike terrein.

“Dit is wat ek noem die politieke doodsakker – die plek tussen die DA en die ANC. Niemand het nog daar oorleef nie,” het Theo Venter, ʼn politieke ontleder, Donderdag gesê.

Mashaba, ʼn bedrewe sakeman, voormalige DA-lid en oudburgemeester van Johannesburg, en Maimane, ʼn voormalige DA-leier, het vandeesweek in ʼn gesamentlike verklaring gesê Mashaba se nuut gestigte The People’s Dialogue (TPD) beoog om aanstaande jaar aan die plaaslikeregeringsverkiesing deel te neem.

theo-venter-nwu

Die politieke ontleder Theo Venter. (Foto: Twitter)

Venter waarsku egter dat daar min getuienis is dat dié twee se politieke loopbane anders gaan uitspeel as ander politici sʼn wat dieselfde paadjie probeer stap het.

“Die plek waar hulle hul wil vestig, is baie moeilike terrein om te betree. Dit gaan eers werk as daar genoeg spanning binne die ANC is en die party dan besluit of hy verder links gaan beweeg, of meer na die middel.”

Die EFF trek die ANC in ʼn meer populistiese rigting, terwyl die ANC se optrede oor sukkelende staatsinstellings soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens dit weer laat lyk of die regerende party in ʼn ander rigting mik.

(Argieffoto: ARod Macleod/Twitter)

Verskeie soortgelyke pogings het in die verlede liederlik misluk. Mamphela Ramphele se Agang het in die hek geduik voor dit nog behoorlik uit die wegspringblok was. Cope het nooit juis hond haaraf gemaak nie en Bantu Holomisa se UDM, waarskynlik die eerste groot wegbreker, trek wél steun, maar word nie regtig as ʼn beduidende rolspeler beskou nie.

Venter sê die aard van Suid-Afrikaanse politiek laat partye soos dié toe en in die stelsel van proporsionele verteenwoordiging kan ʼn politieke party tot stand kom, hoewel net ʼn handvol dit eindelik tot in die parlement maak.

Venter sê hoewel nóg ʼn party kiesers se keuses vermeerder, kan dit hulle ook verwar. In Suid-Afrika, waar daar in die demokratiese bestel nog met groot vraagstukke geworstel word, word daar na minder eerder as meer partye geneig. In lande soos Nederland, waar daar lankal nie meer werklike groot vraagstukke is nie, bestaan tientalle kleiner partye suksesvol.

(Argieffoto: Brendan Magaar/ANA)

Hy sê sou die TPD nie te waffers vaar nie, die leiers van die party meer ʼn individuele instelling op die politieke verhoog word. “As jy kyk na kiesergedrag in Suid-Afrika, het ons politiek ʼn sterk persoonlikheidskultus aan hom verbonde. Jy stem vir ʼn mens én ʼn party. As die leier verdwyn, daal die party se steun. Die meeste mense stem vir ʼn spesifieke leier en wat hy sê.”

Venter sê weinig kiesers lees ʼn politieke party se lys van beginsels en stem eerder op grond van wat die leier verkondig of nie verkondig nie.

“Persoonlikheidspolitiek is baie sterk in Suid-Afrika.”

Venter sê die TPD gaan waarskynlik aftrek kry by die swart middelklas en beroepslui. Hy twyfel egter sterk dat die party ʼn duik gaan maak in die ANC of EFF se kiesersbasis en meen dit is eerder die DA wat kiesers kan afstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Lou ·

Kan ons nie ‘n paar van die politieke leiers laat “verdwyn” nie. Dan kry die partye minder stemme as Mnr Venter se teorie waar is.

daniel ·

Suid afrika het te veel mense en te veel politici, met baie min van hulle wat weet waarvan hulle praat.
Die mense en hulle aspirasies is nie werklik belangrik vir hulle nie , maar net hoe vol hulle, hulle geldsakke kan maak.

Linda ·

Theo Venter vergelyk hierdie nuwe party met ander partye, nog nooit in ons land het ons n oordentlike party gehad vir die mense nie, en dit sluit ook die ou Nasionale party in !!! Gee dit n kans, die mense (alle rasse) het genoeg gehad van die bestaande politieke partye !

Gert ·

Waarom sê jy dat mense genoeg van die bestaande artye gehad het, Linda? Kan jy dalk voorbeelde gee om jou stelling te staaf?

Maljan ·

Linda hap n vet bubble. Na die laaste verkiesing is dit duidelik dat ANC nog net so populêr is soos tydens die eerste verkiesing. Hoe dan anders? As ek ook maar net gratis water, munisipale dienste en elektrisiteit kan kry, gaan ek nie aandring op n rdp huis nie. Ek sal ook Anc stem.

Dolf ·

22 miljoen stemgeregtiges het nie verlede jaar gestem nie. Hulle het bloot geen vertroue in die huidige partye nie en soek alternatiewe keuses. Eintlik steun min van hulle die ANC. So, dis nie ‘n geval van stemme wegrokkel van die ANC, DA en EFF nie. Hopelik sal die TPD die wegblystem lok met ‘n stewige gematigde en sentrale basis. Wit en swart kiesers besef die huidige partye is almal mislukkings. Venter behoort ook van beter te weet.

Dewald ·

Dolf, ek stem nie bloot omdat dit te veel moeite is om na n lokaal toe te ry, in die ry te staan, en dan weer huis toe te ry. Ek ry eerder vliegveld toe en gaan vir n “fly in” ontbyt iewers.

Andre ·

Ja Dewald, julle rykes het ‘n lekker lewe. Min worries en geen saak wie vermors die res se belastinggeld.

johan ·

Ek wens hulle voorspoed toe,sa sal net werk as n multiparty regering tot stand kan kom.

JohanR ·

Nee wat…. kan myself nie sien ‘n stem mors op die twee nie!

Johan Venter ·

Hulle het ‘n geleentheid gesien soos ‘n tandarts wat die ‘gaps’ tussen die tanne wil vul.

Koos ·

Hoe Musie die kwessie van kolonialisme en Schweizer-Reneke gehanteer het en die afbreek van Afrikaans maak dat hy nie my steun kry nie. ‘n Jakkals verander van haar maar nie van streek nie.

Swanna ·

Vra vir Venter aan watter ondergrondse organisaie behoort hy wat hom hierdie inlifgting verskaf om sulke voorspellings te maak.

Karl ·

Mmusi het hom goed van sy taak gekwyt deur om die DA van binne af op te mors.

RB ·

Hoe weet jy wanneer n politikus lieg?
Wanneer sy lippe beweeg!
Dieselfde geld vir Maimane – was nooit anders nie!
Halwe waarheid bly volle leuen.

Wielspore ·

Hou maar vir Herman Mashaba dop, hierdie man het ‘n plan. Google en kyk op You tube wat is doelwitte en sy gesindheid heens SA burgers. Hy wil self leiers vir hom kies, as jy nie met geld kan werk, soek hy jou nie, as jy al bedrog gepleeg het, soek hy jou nie, as jy nie kiesers se belange op die hart dra, dan soek hy jou nie, as jy verkiesbaar is om jou familie ryk te maak, soek hy jou nie, as jy nie bevoeg is om jou werk te doen, soek hy jou nie. Ons het mekaar nodig om SA suksesvol te maak, nie politieke partye wat daarop uit is om die geld koffers leeg te maak.

Johan ·

Hkm moet ons amper meer poletieke partye he as stemmers? Keer terug na die ou manier, wat ook oorsee gebruik word. Jy stem A of B. Nie so baie wat anyway in koaliesies met mekaar gaan nie. Vat al daai klompe geld wat dit kos om partye op die been te bring en aan die go te hou en druk dit terug in die punliek wat al hoe swaarder kry. O….en kry die VN om ons stemme te kom vt en tel. En whalla….

Frik ·

Baie Europese regerings bestaan uit koalisies. Die sterkste partye kry skaars meer as 30% van die stemme, soos in Duitsland.

Bambi ·

Hulle my stem! EFF maak my bang; maar die 2 manne is alles net goed vd land!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.