Ope brief aan Ramaphosa oor Afrikaans

Voor – links na regs: Danie en Jackie Matthys, Marekyn Evert dr Fiona Ferris. en Francois Redelinghuys. Agter – links na regs Annelise de Vries, Audy Hendricks. prof. Nico Botha (Foto: Mia Slabbert)

Die Afrikaanse Taalraad het Vrydagoggend ʼn ope brief by Uniegebou in Pretoria onderteken waarin hy pres. Cyril Ramaphosa versoek dat alle amptelike tale – met die klem op Afrikaans en Boesmantale – gelyke aansien en billike behandeling moet geniet.

In die brief spreek die Taalraad sy waardering uit vir Ramaphosa se positiewe uitsprake oor Afrikaans en die Khoi- en Santale (Boesmantale), maar sê in dieselfde asem hy is bekommerd oor die departement van hoër onderwys se taalbeleid.

Volgens die taalbeleidsraamwerk vir openbare instellings vir hoër onderwys, wat op 30 Oktober 2020 in die Staatskoerant gepubliseer is, word Afrikaans, Nama, Khoi en San van die inheemse tale uitgesluit. Die gepubliseerde beleid moet egter nog deur die kabinet goedgekeur word.

Die Taalraad versoek in die brief dat dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, die beleid formeel terugtrek, hangende die finale goedkeuring daarvan.

“Ons beskou die 2020-taalbeleid as ernstig gebrekkig en dink dit oortree die minimum vereistes van die Grondwet aangaande die gebruik van amptelike tale […] Die afwysing van Afrikaans en die Khoi- en Santale as nie-inheems in dié taalbeleid blyk ʼn ontstellende daad van taalonverdraagsaamheid en onregverdigheid te wees. Dit voed ’n vrees vir verskerpte toekomstige uitsluiting en onderdrukking,” skryf Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Taalraad, in die brief.

“Meneer die President, ons hoop om u aandag te vestig op die disfunksionele verpolitisering van Afrikaans en van die Khoi- en Santale wat steeds voortvloei uit hierdie ondeurdagte beleid. Ons verstaan die historiese bagasie van Afrikaans is ’n gegewe in situasies soos dié – ook dat Afrikaans groter is as dié verlede.

Die Afrikaanse Taalraad het Vrydagoggend die ope brief by Uniegebou in Pretoria onderteken (Foto: Mia Slabbert)

“Ons betoog gaan nie net oor Afrikaans nie. Ons glo vas al ons inheemse tale – insluitend Afrikaans en die Khoi- en Boesmantale – verdien om as voertuie van bemagtiging vir al ons burgers bevorder te word. Die Afrikaanse gemeenskap het reeds ’n groot bydrae gelewer tot die enorme taak om die voorheen benadeelde tale te intellektualiseer en is bereid om nog veel meer te doen.”

Volgens die Taalraad is die nie-inheemse status van die Khoi- en Santale (Boesmantale) in die beleid taalkundig bisar en eties verwerplik. “Dié afwysende behandeling van die moedertale van ons volk kom neer op ’n minagting van ons geskiedenis. Die geagte minister (Nzimande) se volharding in die saak ondanks die openbare reaksie daarop is vir ons ’n raaisel.

Die Taalraad vra Ramaphosa om sy aandag te vestig op die skerp kontras tussen die huidige beleid en voormalige minister Kader Asmal se beleid van 2002. “Dié beleid het tereg erkenning gegee aan die behoefte om al die amptelike tale te intellektualiseer. Dit het ook ‘die behoud van Afrikaans as ’n medium van akademiese uitdrukking en kommunikasie in hoër onderwys’ ten volle ondersteun en bepaal dat ‘die vermoë van Afrikaans om as so ’n medium te funksioneer nie afgewater (moet) word nie’.

“Sedertdien is min vordering egter met die ondersteuning van die voorheen benadeelde tale gemaak terwyl Afrikaans sienderoë agteruitgegaan het – ʼn proses wat nou ’n kantelpunt nader. Ons is vinnig besig om ’n waardevolle intellektuele hulpbron te verloor terwyl ons terselfdertyd probeer om ander tale binne ’n toenemend eentalige Engelse omgewing te intellektualiseer.”

Die Taalraad sê hy is ook diep besorgd oor die praktiese implementering van die beleid en die beduidende risiko dat ons inheemse tale, Afrikaans ingesluit, tot grootliks simboliese funksies by toenemend eentalige universiteite beperk sal word.

“Meneer die President, ons is opreg daarvan oortuig dat ons inheemse tale op ’n regverdige wyse bevorder kan word en op maniere wat mense bymekaar bring eerder as om hulle te verdeel. Ons versoek u derhalwe met alle agting om die leiding in hierdie situasie te neem. Breek asseblief deur die politieke blokkade. Bewerkstellig asseblief ’n hersiening van hoe taal aan ons universiteite gereguleer en gemoniteer word. Tree asseblief op.”

ʼn Memorandum met die brief is Vrydag aan Ramaphosa se kantoor oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lian ·

Nou het die regering toe hulle nog in ballingskap in Zambie was nie die Lusaka manifes gelees nie ? Hulle mentor pres Kaunda het dit help opstel en daarin geskryf dat die Blankes wat in Afrika gebore en landsburges van Afrika lande is deel is van Afrika. Dit impliseer ons taalregte word ook erken . Hoe nou ?

Treurwilger ·

Die Afrikaanse Taalraad het ongelukkig meegedoen aan die “verpolitisering van Afrikaans” sedert 1994 met oordrewe uitsprake van boetedoening, voortdurende uitreiking- en versoeningspraatjies en aanmanings teen die daadwerklike beskerming van die taal.
Afrikaans het só die ideale politieke speelbal geraak, en die “hande wat in versoening uitgesteek is”, is weggeklap.
Die Taalraad sou meer bereik het die afgelope 27 jaar deur die land se mense te leer dat ‘n Taal nie mense kan onderdruk nie, slegs regerings kan.

Reinald ·

Die oudste bekende tale in Suider-Afrika is die Koi en San tale, en hulle status is misken? Die agenda agter die stuk wetgewing kan nie duideliker uitgespel wees nie!

Maggies ·

Ek kan nog verstaan van Afrikaans (wat jare later ontwikkel is) maar Khoi- en Santale is meer inheems as meeste van die Afrika tale. Engels inteendeel was die taal van die onderdrukker.
Ek is soos meeste van ons landsburgers al so moeg om die ewige rassistiese idees omtrent ons te moet aan hoor.

JohanR ·

Cyril Ramaphosa sal die brief terug bewys aan Nkosazana Dlamini-Zuma……

SomeOne ·

ramaphosa lees nie hierdie goed nie, sy “file 13” is vol van dit

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Was die voorgeslagte van die swartmense nie ook maar almal setlaars in Suid-Afrika nie?

twaalfboor ·

Julle mors julle tyd en asems. Ons het kwansuis die beste grondwet ter wêreld…….. maar dis net op papier. Die toepassing daarvan is ñ totaal en al ñ ander storie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.