Opedae dán oor nuwe Addo-olifantpark-marienegebied

Die Addo-olifantpark-marienegebied. (Foto: Ane Oosthuizen)

Verskeie inligtingsessies sal volgende week in Port Elizabeth aangebied word om meer inligting te verskaf oor die nuwe Addo-olifantpark-marienegebied (MPA) wat vroeër vanjaar in die Staatskoerant afgekondig is en binnekort in werking tree.

Die departement van omgewingsake het in Mei vanjaar drie nuwe beskermde mariene gebiede aangekondig. Al drie is binne die grense van bestaande nasionale parke.

Maroela Media het vroeër berig die Addo-olifantpark-marienegebied, die Robbeneiland-marienegebied (wat deur die Tafelberg nasionale park bestuur sal word) en die Namakwapark-marienegebied is deel van 20 nuwe nasionale beskermde mariene gebiede wat aangekondig is.

Die aankondiging is die gevolg van jare lange werk deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteit-instituut (Sanbi), Sanparke, Ezemvele KZN Wildlife en die departement van omgewingsake.

Die beskerming geld vanaf 1 Augustus vanjaar.

Sanparke het gesê opedae sal volgende week oor drie dae strek om vir plaaslike inwoners, vissermanne, amptenare van die visserybedryf asook enige ander belanghebbendes wat navrae het oor die Addo-olifantpark-marienegebied, die geleentheid te gee om vrae te vra.

Die eerste drie inligtingsessies rakende dié MPA sal op 29 Julie tussen 14:00 en 19:00 in Alexandria in die Wentzelpark-gemeenskapsaal gehou word.

Belanghebbendes word genooi om op 30 Julie ʼn inligtingsessie by die Sandunes-saal in Colchester by te woon, waarna ʼn opedag op 31 Julie by Sanparke se streekkantoor in Newton Park in die Baai aangebied word.

Twee inligtingsessies sal hiér tussen 14:00 en 19:00 plaasvind.

Die nuwe netwerk van beskermde gebiede wat vroeër vanjaar aangekondig is, verhoog die bewaringsgrootte van Suid-Afrika se oseane van 0,43% tot 5% – ʼn reuseprestasie vir bewaring.

Die beplanning vir sommige van die gebiede het reeds in 2006 begin, soos in die geval van die Addo-olifantpark-marienegebied.

“Die nuwe MPA’s gaan bydra tot die bewaring van ons oseane, eilande en kushabitatte; dit gaan bedreigde spesies soos pikkewyne beskerm en gaan oorgebruikte spesies soos lynvis, perlemoen en krewe se getalle help opbou,” het dr. Ané Oosthuizen, Sanparke se nasionale marienekoördineerder, vroeër gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Seadog ·

Die gebiede moet ook gepatrolleer word om toe te sien niemand dan daar oortree nie, anders help dit niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.