Opeenhoping by Beitbrug-grenspos is opgelos

Verkeersopeenhoping by die Beitbrug-grenspos (Foto verskaf)

Die departement van binnelandse sake het Sondag bevestig die opeenhoping by die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe is opgelos.

Siya Qoza, woordvoerder vir die minister, het gesê die verkeer het na normaal teruggekeer by die Beitbrug-grenspos. “Alle lane is skoon en die grens is reeds vanaf 24 Desember toeganklik. Alle reisigers deur Beitbrug is geprosesseer,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig chaos heers by die grenspos met vragmotors en voertuie wat in toue van tot 20 km lank wag. Vragmotorbestuurders het meer as nege dae lank gewag om die grens oor te steek.

“Die departement van binnelandse sake het met die departement van gesondheid, die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Limpopo-regering gewerk om die probleme op te los wat tot die verkeersopeenhoping gelei het,” het Qoza bygevoeg.

Die Musina- plaaslike munisipaliteit het bykomende gebiede beskikbaar gemaak waar voertuie in kleiner groepe vrygestel kon word om die grens oor te steek. “Die munisipaliteit het ook ablusiefasiliteite en water tussen Musina en die grenspos verskaf.”

Reisigers word gemaan om aan verkeer- en immigrasiewette en gesondheidsprotokol te voldoen om die verspreiding van die koronavirus-pandemie te bekamp, het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.