Openbare geweld breek uit ná stamhoof se moord

(Foto verskaf deur SAPD Noordwes)

Die polisie in die Ngaka Molema-distrik in Potchefstroom, Noordwes, is op hoë gereedheid ná die afsterwe van stamhoof Gopane Phillip Motuba (65) van Matshepe buite Mahikeng.

Motuba is Saterdagoggend omstreeks 04:30 in sy huis deur twee onbekende mans oorval. Hy is beroof en is doodgemaak.

“Ná die voorval is eiendomme, wat aan ʼn man behoort wat vermoedelik verantwoordelik is vir Motuba se afsterwe, Maandag aan die brand gesteek,” sê brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie. “Die huise word onder andere gebruik vir opleiding en konsultasie deur tradisionele genesers. Twee voertuie is ook aan die brand gesteek en ʼn derde is beskadig.”

ʼn Pad tussen Mahikeng en Itsoseng is ook versper.

“Mahikeng-polisie se eenheid vir openbare orde het 39 persone (11 mans en 28 vroue) in hegtenis geneem vir onder andere openbare geweld. Ná die inhegtenisnemings het die Matshepe-gemeenskap by Lomanyaneng-polisiestasie bymekaargekom om die verdagtes se vrylating te eis. Hulle het later verdaag.”

Die verdagtes, tussen 22 en 55 jaar oud, sal na verwagting binnekort in die Molopo-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het die voorvalle veroordeel. Hy het gesê dit is ʼn “duidelike teken van minagting van die wet en kan nie geduld word nie”. Hy maan die gemeenskap om saam met die polisie te werk om geregtigheid te verseker eerder as om reg in eie hande te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

hpven ·

Cyril is en was nog nooit in beheer. Protesoptogte beheer alles, of hulle toilette stukkend is, onbetaalde en onwettige krag afgesny word ‘n verskoning sal bedink word om te brand, plunder en breek! Feit.

Di ·

Polisie is te sleg om misdadigers aan te keer nou doen die gemeenskap dit maar self. Word hulle gevang is hulle more weer uit op borg. Ons almal raak nou moeg vir die onbevoegdheid van die Regering en veral die Polisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.