Opwinding, kommer oor kodering, robotika in skole

Argieffoto

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê hy is opgewonde daaroor dat vordering gemaak word om leerders vir die digitale era toe te rus deur die vakke kodering en robotika by die kurrikulum te voeg. Die SOS waarsku egter nou vooraf dat die departement van onderwys en skole groot aanpassings aan hulle begrotings sal moet maak om die nodige toerusting aan te koop en in stand te hou.

Die voorgestelde veranderinge aan die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) om voorsiening te maak vir die vakke kodering en robotika vanaf graad R tot graad 9 is vroeër vandeesmaand in die Staatskoerant bekendgemaak. Mense, skole en organisasies het tot 17 April om kommentaar op die voorgestelde veranderinge te lewer.

Die SOS sê hy is bekommerd dat ʼn ingerigte rekenaarsentrum ʼn voorvereiste is indien ʼn skool dié vakke wil aanbied en die rol wat die departement hierin gaan speel.

“Soos dit tans voorgeskryf word, meen die SOS dat die inhoud te verwikkeld en te veel is vir die ouderdomsamestelling van die leerders. ʼn Meer geïntegreerde model sal moontlik meer sinvol wees, met ʼn minder teoretiese benadering wat beter uitkomste sal oplewer,” lui ʼn verklaring deur die SOS.

Dié onderwysorganisasie bied reeds sedert 2019 robotika-opleiding vir onderwysers aan, in samewerking met internasionale kenners op die gebied.

Luidens die verklaring fokus kodering en robotika onder meer op patroonherkenning en probleemoplossing, algoritmes en kodering, asook internet- en kommunikasievaardighede.

Die vakmetodologie vir graad R tot 9 is gegrond op rekenaardenkwyses (computational thinking) en die ingenieursontwerpproses (engineering design process).

Die SOS doen nou ʼn beroep op alle skole, onderwysers en ouers om hierdie leerplanne te bestudeer en kommentaar voor 15 April aan [email protected] te stuur.

Al die dokumente is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frank ·

Laaste woorde van die eerste paragraaf: “… en in stand te hou”. So belangrik, onse mense aan die woord!!!

Jan ·

Die basis vir hierdie vak is Wiskunde en Natuurwetenskap waarin die meeste van ons bevolking pateties is, soos Internasionale opmames bewys. Kry eers die “basics” reg. Ek dink die vak is fantasties, maar bied dit aan as ‘n ekstra buitemuurse aktiwiteit vir kinders wat daarin belangstel. Robotika val onder die ingenieurs disipline “Megatronics” wat ‘n samestelling van Meganiese Ingenieurswese en Elektroniese Ingenieurswese is. Dit is nie vir elkeen nie, jy moet daarin belangstel. Om dit in die bree publiek (skool kinders) se keel af te druk is belaglik. Ek is ‘n afgetrede Megatronika Ingenieur, so dalk weet ek waarvan ek praat. Dat die regering dink dat 4IR die bevolking uit armoede sal kry en werk sal skep, is belaglik. Hulle het ons 1IR (Transnet) en 2IR (Eskom) en 3IR (SAL) in die grond in bestuur. Bou hulle maar eers weer op (met die nodige opleiding van ambagsmanne, tegnici en ingenieurs) voordat ons praat van 4IR.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.