Organisasie vereer rolspelers in die onderwys

Theresa Buys, ‘n wiskunde-onderwyser aan die Hoërskool Klerksdorp, is ook deur Johan Koekemoer van die VAW vereer vir haar bydra tot Afrikaanse onderwys. Foto: Reint Dykema.

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het op hul onderwyserskongres Woensdag verskeie persone vereer wat ’n merkwaardige bydrae gelewer het tot Afrikaanse onderwys. Ongeveer 400 onderwysers van meer as 80 skole het vanjaar die SOS se kongres in Gauteng bygewoon.

“Dit is vir die SOS belangrik om harde werk en deursettingsvermoë te vereer. Daarom sonder ons graag vandag etlike individue uit vir hul besondere bydrae tot die behoud en bevordering van Afrikaanse onderwys,” sê dr. Danie Brink, hoof van die SOS.

Johan Koekemoer, hoof van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW), het ’n eerbewys aan Theresa Buys, wiskundeonderwyser aan die Hoërskool Klerksdorp oorhandig vir haar bydrae tot die opvoeding van wêreldgehalte wiskundiges.

“Vir amper 30 jaar leer juffrou Buys ons kinders en maak stilweg ʼn impak op leerders se lewens. Menige van hulle het die wêreld al sélf bietjie vir bietjie ʼn beter plek gemaak. Een van ons 2008-matrieks is vandag hier met sy PhD in statistiek,” sê Koekemoer.

Adv. Albert Lamey het ’n eerbewys ontvang vir sy besondere bydrae tot die bevordering van Afrikaanse skole se regte.

melanie-buys-en-adv-albert-lamey-sos-kongres-2019-06

Melanie Buys van die SOS saam met adv Albert Lamey wat ‘n eerbewys ontvang het vir sy bydrae tot Afrikaans onderwys. Foto: Reint Dykema.

Lamey het, onder meer, die Hoërskool Overvaal verteenwoordig in die skool se hofsaak teen die Gautengse onderwysdepartement, toe die departement die skool in 2018 wou dwing om 55 Engelse leerders in te neem. Die hof het in die guns van die Hoërskool Overvaal beslis. Lamey is ook die beheerliggaamvoorsitter van die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria.

“Die voortbestaan van Afrikaanse skole is in ’n groot mate te danke aan Lamey se waardevolle advies aan skole en organisasies, soos die SOS.

“Adv. Lamey se hart is by ons skole en hy deel sy uitsonderlike kundigheid sonder om te meet en te tel of op sy horlosie te kyk,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS.

Prof. Gerrit Stols, hoof van onderwysinnovasie aan die Universiteit van Pretoria, het ’n eerbewys ontvang vir sy besondere bydrae tot Wiskundeonderrig in Afrikaans.

Dr. Danie Brink het ook ’n eerbewys aan sy mentor Chalky Sommerville oorhandig. Sommerville hou reeds sedert 1979 skool by Pretoria Boys High School en was die hoof van die Wiskundedepartement toe Brink in 1994 daar begin skoolgee het.

“Chalky is die persoon wat my lus en lief gemaak het vir professionele ontwikkeling,” sê Brink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Susan de Wet ·

OOOO, my hart klop van TROTS!! Juffrou Buys is die BESTE Wiskunde Juffrou in die hele wye wêreld!!!! Baie, baie geluk Juffrou!!!

Charles ·

Ek dink ‘n BAIE, BAIE SPESIALE woord van dank moet aan Adv. Lamey gaan – ons held en kampvegter vir ons geliefde moedertaal.

Dankie Adv. Lamey!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.