Oud PAC-leier Motsoko Pheko sterf

Dr. Motsoko Pheko (Foto: PAC/X)

Dr. Motsoko Pheko, voormalige parlementslid en oudleier van die Pan Africanist Congress of Azania (PAC) is Vrydag in die ouderdom van 94 jaar oorlede.

Die oorsaak van sy dood is onbekend.

Teen Sondagoggend het medelye steeds ingestroom.

Pres. Cyril Ramaphosa onthou Pheko as ʼn prokureur, skrywer van 30 boeke, teoloog, akademikus, historikus en staatmaker in die stryd teen apartheid.

“Ons is dankbaar vir die verlengde leeftyd waartydens hierdie seun van Lesotho ʼn kampvegter van ons bevrydingstryd geword het en geveg het vir die regte van onteiende en grondlose mense wat kolonialisme en apartheid verduur het,” sê Ramaphosa.

“Sy uiteenlopende kwalifikasies en belangstellings het Motsoko Pheko ʼn onskatbare bydraer gemaak tot menslike ontwikkeling en die intellektuele erfenis van ons nasie en dié van ons vasteland wie se belange en prestasies vir hom van kardinale belang was..

“Terwyl ons 30 jaar van vryheid vier, eer ons alle individue en politieke tradisies wat die bedeling waarin ons vandag leef tot stand gebring het en aan wie ons baie verskuldig is.

“Mag Motsoko Pheko in vrede rus.”

Mahlengi Bhengu-Motsiri, nasionale woordvoerder van die ANC, het Sondagoggend gesê Pheko se “lewenslange toewyding aan geregtigheid, gelykheid en die bevryding van alle Suid-Afrikaners laat ʼn ongelooflike stempel op ons nasie se geskiedenis.

“Dr. Pheko se nalatenskap as ʼn gewaardeerde akademikus en passievolle voorstander vir Afrika-eenheid sal voortgaan om toekomstige geslagte te inspireer. Sy onwrikbare verbintenis tot die beginsels van vryheid en menswaardigheid resoneer diep met die waardes wat ons demokrasie onderlê,” sê Bhengu-Motsiri.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peach ·

Die stryd waar teen jy geveg het, is nog nie oorwin maar, mag jou siel in vrede rus Dr Pheko.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.