Oud-polisieman uiteindelik gevonnis oor onwettige sigarette

(Argieffoto)

Jerome Claud Hendricks, ʼn voormalige adjudant-offisier in die polisie, is ses jaar tronkstraf opgelê op aanklag van korrupsie. Hy is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Hendricks is skuldig bevind op aanklag van die besit van onwettige sigarette en versuim om stawende dokumentasie aan ʼn beampte van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te kan verskaf. Hy is ook skuldig bevind op aanklag van dwarsboming van die gereg en dat hy omkoopgeld aanvaar het om die polisie te oortuig om nie ʼn voertuig, wat onwettige sigarette vervoer het, voor te keer en te deursoek nie.

Staatsaanklaer adv. Jacobus Hough het suksesvol beswaar aangeteken teen ʼn vonnis van korrektiewe toesig, omdat die beskuldigde nie aanspreeklikheid aanvaar het vir sy korrupsie nie en volhou hy is onskuldig.

“Daar was geen berou nie. Dit is ʼn belangrike aspek wanneer korrektiewe toesig as ʼn moontlike vonnis oorweeg word. Nóg ʼn aspek wat aangeroer is, is die huidige gevoel in die land dat daar daadwerklike optrede teen korrupsie moet wees.”

Hough het gesê die publiek het nie meer vertroue in die organisasies wat hulle teen korrupsie moet beskerm nie en eis dat die SAPD, die NVG en die hof ʼn voorbeeld moet stel.

Hendricks was deel van die polisie se mobiele spoorwegeenheid in Johannesburg. Hy het tereg gestaan op aanklag dat hy 40 000 onwettige pakkies Kingdom-sigarette in sy besit gehad het. Hy kon nie bewys van aankope lewer nie.

Die staat het aan die hof gesê deur Hendricks se kriminele aktiwiteit het die SAID ʼn moontlike verlies van R474 344 in belastinggeld gely. Die staat het beslag gelê op die onwettige sigarette.

“Die polisie het Hendricks saam met drie ander mans buite Beaufort-Wes in hegtenis geneem. Hulle het op 12 Februarie 2011 onwettige sigarette van Johannesburg na Kaapstad vervoer. Die beskuldigde was in sy volledige polisieuniform. Hy het ʼn koeëlvaste baadjie aangehad en skokgranate en ekstra patrone vir sy pistool by hom gehad. Hy het in ʼn sedan met flitsende blou en rooi ligte gery,” het Ntabazalila gesê.

“Hy het aan twee polisiebeamptes gesê hy is van die polisie se nasionale ingrypingseenheid en dat hulle besig was om ʼn uitstalling na Kaapstad te vervoer. Die mans is in hegtenis geneem toe die beweerde operasie nie geverifieer kon word nie.”

Adv. Nicolette Bell, Wes-Kaapse direkteur vir openbare vervolging, het die staatsaanklaerspan, lede van die SAID en polisiebeamptes geloof wat korrupsie hokgeslaan het.

“Die beskuldigde het al voorheen soortgelyke misdade gepleeg. Ons sal geen steen onaangeroer laat nie om seker te maak dat diegene wat hulself aan korrupsie skuldig maak, aanspreeklik gehou word,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.