Oudburgemeester van Nelson Mandelabaai sterf

Mongameli Bobani. (Foto: NMB-metro/Twitter)

Mongameli Bobani, vorige burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro in Port Elizabeth, is Woensdagmiddag laat aan Covid-19-verwante oorsake dood nadat hy sowat drie weke gelede weens die virus in ʼn hospitaal opgeneem is.

Bobani was ʼn lid van die United Democratic Movement (UDM) van genl. Bantu Holomisa en het van 2016 as onderburgemeester in ʼn DA-geleide koalisie gedien. Nadat korrupsiebewerings teen hom gemaak is, het die UDM omgespring en met die ANC saamgespan in ʼn koalisie waarin Bobani burgemeester geword het.

Onder sy bewind het die metro se geldelike posisie baie verswak te midde van sterk aanduidings van wanbestuur en korrupsie.

Hy is later met ʼn mosie van wantroue uit die kussings gelig.

Holomisa het sy medelye met Bobani se vrou, kinders, familie en vriende, asook die UDM in Nelson Mandelabaai betuig.

“Ons loof raadslid Bobani vir die goeie werk wat hy vir die mense van Nelson Mandelabaai gedoen het en sy voortgesette pogings om die UDM in die Oos-Kaap te laat groei. Hy was altyd beskikbaar en gereed om sy moue op te rol. Ons sal sy energie en entoesiasme mis,” het Holomisa gesê.

Geen begrafnisreëlings is in dié stadium nog bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anel ·

Verstaan ek of lees ek verkeerd? Hulle loof hom vir wat hy blykbaar vir die gemeenskap gedoen het maar hy was korup! Hoe verstaan mens dit?

wim ·

Hy het. Hy het ‘n voorbeeld gestel vir die stemvee wat met hulle gaan gebeur as hulle in die hospitale in sy fiefdom opgeneem word.

Hennie J ·

As gevolg van n behoorlike opvoedingspeil wil ek my nie in die berig verheug nie, maar kan ek nietemin Anel se sienswyse ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.