Oudste pont in Suid-Afrika wel vervang ondanks teenstand

Die handgedrewe pont is ‘n toeriste aantreklikheid in die Overberg. Foto: Facebook

Suid-Afrika se enigste handgedrewe pont oor die Breederivier by Malgas in die Overbergstreek, sal binne die volgende paar maande met ʼn nuwe gemotoriseerde pont vervang word.

Die pont is die afgelope 155 jaar met die hand oor die rivier getrek, maar gaan in die nuwe jaar deur ’n gemotoriseerde vaartuig vervang word.

Die drywende houtplatform of vlot is in die 1860’s in gebruik geneem om mense, diere en vrag oor die rivier te neem.

Die inwoners van Malgas en Swellendam baklei die afgelope tyd hand en tand om die handgedrewe pont te behou. Hulle sê dis ʼn skat uit die verlede wat beskerm moet word en boonop is die nuwe gemotoriseerde pont onooglik.

Meer as 21 000 mense het reeds ʼn aanlyn petisie geteken om die ou pont te behou. Die petisie is die inisiatief van Nicolas Myburg, Swellendam se burgemeester. Hy het vroeër aan die media gesê die pont is waarskynlik dié oudste in Suid-Afrika, en beslis die enigste wat handgedrewe is.

“Dis deel van Overberg se erfenis soos biltong en rooiwyn en braai.”

Die provinsie sê daar is ná deeglike oorweging besluit om nie ‘n permanente brugstruktuur te bou nie, maar om die huidige pont te vervang met ‘n groter, gemotoriseerde pont wat mense, voertuie, toerusting en goedere veilig oor die rivier kan vervoer.

Jandré Bakker, woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, het gesê die handgedrewe pont moet vervang word aangesien dit groot veiligheidsrisiko’s inhou.

Volgens Bakker sal daar ʼn tydperk wees wanneer die pont gesluit sal wees.

“Dit is sodat die mense wat die nuwe pont gaan bedryf, opgelei kan word en kan oefen om dit te gebruik.”

Die verwagting is dat die nuwe pont teen einde Januarie of moontlik eers einde Februarie in werking sal wees.

ʼn Openbare konsultasieproses sal dan gevolg word om te besluit wat met die handgedrewe pont sal gebeur. Bakker het gesê die departement het begrip daarvoor dat mense die handgedrewe pont in bedryf sou wou hou, maar volgens hom wil hulle verseker dat niemand beseer word of selfs doodgaan nie.

Die nuwe gemotoriseerde pont.

Die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAEHA) sal, volgens Bakker, ook betrokke wees wanneer daar oor die lot van die handgedrewe pont besluit word.

Malgas is ʼn gehuggie 50 km stroomop langs die Breederivier maar meer as honderd jaar gelede was dit ʼn strategiese handelshawe in die streek. Dit was toe bekend as Malgaskaai.

Die pont het ontstaan voor daar nasionale paaie en treinspore in die gebied was en die landbougemeenskap in die Swellendam-distrik het ʼn binnelandse hawe by Malgas gebruik om hul produkte by die Kaap se markte te kry.

Die legendariese Oom Moxi Dunn was tussen 1961 en 1986 die pontoperateur.

Dit was destyds vinniger om produkte per boot as met ʼn ossewa na Kaapstad te stuur en ʼn stoomskip, die Kadie, het deur die mond van die rivier tot by Malgas geseil.

Die Breederivier het dus ʼn baie belangrike rol gespeel om goedere na plase te versprei. Daar was selfs voorraadskure op die rivieroewer en die transportdrywers het met hul waens gereed gestaan om vrag op en af te laai nadat die pont vasgemeer het.

Die pont het gebly na Malgas sy waarde as hawe verloor het omdat dit nie belangrik genoeg was om daar ʼn brug te bou nie.

ʼn Katrol word letterlik gebruik om met die pont oor die rivier te “loop” en drie of vier plaaslike inwoners trek tot drie motors gelyktydig oor die 120 m-wye rivier.

In die onlangse verlede was Moxie Dunn, ʼn voormalige bokboer, tussen 1961 en 1986 die pontoperateur. Oom Moxie, soos die plaaslike inwoners na hom verwys het, kon die pont manalleen en tot dertig keer per dag oor die rivier trek, soms met die maksimum vrag van 10 ton aan boord.

Die plaaslike watergat, die Moxie, is na hom vernoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

D van Aarde ·

It is a pity it depends how busy it is,if it is a very busy crossing then I agree to scrap it before a serious accident happens – – But if it is not so busy and there is not actually traffic using it then scrap it- – Another idea build a bridge or whatever but keep the Pont for those that still want to make use of the OLD method or it could be left their as a attraction piece

Jaco ·

Ek is nogals ontsteld om te hoor dat die stuk kultuurerfenis tot gaan gaan. Ons bly in Limpopo, maar ons maak altyd ‘n punt daarvan as ons in die Overberg is, om ‘n ompad te ry om van die pont gebruik te maak. Net vir die ervaring. Dis iets ongelooflik. Nou moet dit tot niet gaan sonder konsultasie. Oa oor veiligheid. Ek het nog nooit gehoor dat daar lewensbedreigende situasies was nie. Sal baie bly wees as die hele idee heroorweeg sal word. Dit mag net nie gebeur nie!!!!

André-Chris ·

Die pont was die afgelope 155 jaar ‘n veiligheidrisiko.

Leon ·

Kom ons gee julle ‘n bietjie die waarheid. Kom ons sê die pont sink en 10 mense verloor hulle lewe, dan sal dieselfde mense wat nou baklei sal dan ‘n betoging hou voor die provinsiale kantoor om die gevaar te verwyder. hulle sal petisies teken en die regering uitmaak as korrup en nie belangstel in mense se lewens.
So ek sê, vervang die ding en kry iets wat veilig is.

Barries ·

@Andre-Chris @Leon, So vertel ons, hoeveel ongelukke of lewensverlies was daar oor die laaste 155 jaar? Ek skat dis dalk die veiligste plek om in jou motor te wees in die hele SA.

Susan ·

Wat ‘n tragedie! Een van my hoogtepunte met my besoeke aan die omgewing. Daai mense wat die pont ‘bestuur’ geniet hulle werk en ek het nog nooit onveilig gevoel nie! Tipies die nuwe SA. Wonder wie se tjommie maak nou weer ‘n paar miljoen rand uit hierdie projek uit!

Nico K ·

Ek kan ook nie sien dat dit na 150 jaar sonder probleme kan gevaarlik wees nie. Natuurlik word die struktuur oud, maar om dit te onderhou kan nie duurder wees as om ‘n gemotoriseerde een op te rig nie.

D van Aarde ·

It is a pity it depends how busy it is,if it is a very busy crossing then I agree to scrap it before a serious accident happens – – But if it is not so busy and there is not actually traffic using it then scrap it- – Another idea build a bridge or whatever but keep the Pont for those that still want to make use of the old way

Overberger ·

Soos ek dit verstaan gaan hulle die kabels oor die rivier verwyder wat die pont in plek hou. Die nuwe een gaan net gestuur word tot by die wal en aflaai plekke. Met die Suid-Ooster wind en sterk strome sal die skipper sy storie moet ken ander eindig hulle op onder in Witsand en dít sal n veiligheids risiko wees.
Sterkte

Andre du Toit ·

My grootste kommer ook!
Selfs al is dit soos beweer word gps aangedrewe, gaan dit maar nog altyd lol as die ding se brein deur mekaar raak! Ek sou dit aan n kabel gelos het. Maak net die kabel hoeër, dan kan groot-boot en vloedwater-boom, almal onder deur

F ·

Gee die statistieke van enige voorval in die verlede. Die politici besluit en die mense suffer. Daardie pont is die rede waarom Malgas enigsins bestaan. Maar nee, mnr die politikus moet inmeng en toerisme en huidige werksgeleenthede gaan tot niet. Wonder wie is nou weer “gebribe”

André André ·

Hier gaan nog ‘n stukkie erfenis in sy kanon in. Keer moet ons keer, as die pont 155 jaar kon hou, kan dit met onderhoud nog vir die volgende geslagte bewaar word, dan hoef die woord “pont” nie uit die AWS verwyder te word nie.

WRA ·

Mense raak te lui om te werk, probeer alles met tegnologie doen en wanneer tegnologie jou in die steek laat, blameer jy ander mense, pateties. Hoeveel mense gaan nou werkloos wees wat die inkomste broodnodig gehad het. Tegnologie is nie alles nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.