Ouers platgeslaan ná broers verongeluk

Jovan en Werloe se lewe het om perdry gedraai (Foto: Inneke Gersteling/Facebook)

“Ons is platgeslaan.”

Só sê Werner en Linta Kleyn nadat hul seuns, Werloe (20) en Jovan (15), Vrydagaand skaars 4 km van hul huis in Potchefstroom, Noordwes, verongeluk het.

Vrae oor waarom die seuns nóú weggevat is, maal in die ouerpaar se kop.

Werloe sou vanjaar 21 jaar en Jovan 16 jaar oud word. Werloe het ook groot planne gehad om oorsee te gaan werk.

Die gesin het Vrydagaand kuiergaste gehad toe die ouerpaar die seuns vra om gou koeldrank te gaan koop. Die winkel is naby die gesin se huis wat op ʼn kleinhoewe buite Potchefstroom geleë is.

Die seuns het net voor 18:00 na die winkel gery.

“Op pad terug huis toe op die Mooibankpad het Werloe vir drie fietsryers in die pad uitgeswaai en beheer oor die motor verloor. Die motor het gerol en teen ʼn muur tot stilstand gekom.”

Werloe (links) en Jovan (regs) (Foto: Facebook)

Werner en sy vrou het met die gaste gesit en gesels en nie tred gehou van hoe lank die seuns weg is nie. Ná so 25 minute het Werner opgemerk dat die seuns té lank wegbly.

“Ek het die twee probeer bel, maar nie antwoord gekry nie. ʼn Vriendin van ons het vyf minute later gebel en gesê ons seuns was in ʼn ongeluk. Sy het verby die ongelukstoneel gery.”

Werner en Linta is onmiddellik na die ongelukstoneel, waar paramedici van ER24 reeds teenwoordig was.

“Toe ons daar aankom, is die seuns reeds dood verklaar. Hulle is albei op slag dood.”

Werloe het verlede Maandag by Stone Dynamics in Potchefstroom begin werk. Hy het in Desember sy paspoort gekry en begin reëlings tref om later vanjaar oorsee te gaan werk.

“Sy droom was om oorsee op ʼn perdeplaas te werk.”

Werloe is ’n oudleerder van Hoër Volkskool Potchefstroom en het in 2020 gematrikuleer.

Jovan sou vanjaar met graad 10 begin en het tuis onderrig ontvang.

Kranige perdryers

Werloe en Jovan in aksie op hul perde (Foto: Rochelle Thornhill Photography via Facebook)

Die seuns ry albei van kindsbeen af perd en het in verskeie perdrydissiplines uitgeblink. Hulle het aan talle perdrykompetisies deelgeneem en ʼn paar keer Noordwes-kleure verwerf.

Albei seuns was saam met Werner lede van die Potch Polocrosse-klub. Polocrosse is ʼn kombinasie van polo en lacrosse.

Werner het self met perde grootgeword.

“Perdry is ons lewe. Werloe ry al vandat hy vyf jaar oud is en Jovan van vier jaar oud af.”

Jovan is in 2021 gekies vir die Suid-Afrikaanse Perdry-federasiespan en het kleure daar verwerf.

“Ons was ongelooflik trots op die seuns se prestasies.”

Linta het verlede jaar ook begin perdry.

Sy en Werner beplan om vanjaar met die seuns se perde, Storm (Jovan se perd) en Henry-James (Werloe se perd), te ry.

Vrae en berusting

Werloe en Jovan saam met hul pa, Werner (Foto: Werner Kleyn/Facebook)

Die ouerpaar het soveel vrae vir die Here: “Here, hoekom moes Jy hulle nou van ons weggevat het? Hoekom ons kinders?” vra ʼn bewoë Werner.

“Ons het soveel planne en drome vir die jaar gehad. Ons het groot partytjies vir die seuns beplan. Nou is als net weggevat.”

In dieselfde asem sê Werner hy berus daarby dat dit die Here se tyd was om “ons kinders te kom haal”.

“Hy het hulle nodig gehad en daarom het ons vrede in ons harte. Ons huil nog baie, maar besef ons tyd is nie die Here se tyd nie.

“Ons is vandag en elke dag jaloers op die engele omdat ons kinders by hulle is en nie meer by ons nie.”

Werner sê te midde van die tragedie het daar ook iets moois te voorskyn gekom: die ongelooflike ondersteuning wat hulle gekry het.

“Die afgelope drie dae het ons boodskappe van mense gekry wat ook hul kinders in ongelukke verloor het. Ons het toe besef ons is nie alleen in die seer nie, daar is soveel ander mense wat dieselfde seer het.”

ʼn Roudiens vir die seuns word Donderdag om 11:00 vanuit die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Potchefstroom-Suid-gemeente, gehou. ʼn Perdeoptog word vir die dag beplan.

“Dit gaan die ergste dag van ons lewe wees, maar ook die spesiaalste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Marcello ·

Dit is so hartseer, sterkte, aan hierdie twee ouers, ons wik maar God beskik. Ek kan dink hoe erg is dit om jou kinders te verloor, want ek weet hoe erg en beskermend ek is oor my kinders. Mag julle Krag ontvang van onse Heer vir die pad vorentoe. Geen ouer maak jou kinders groot met die wete dat jy hulle eerste gaan verloor nie. Ons as mens is so ingestel om eerste jou ouers te verloor.

Katinka ·

Net om daar aan te dink is erg, en al die vra, hoekom?, ‘n mens sal nooit vrede kry na so iets nie, sulke twee mooi seuns.

JohanEtz ·

Sulke gebeure verstaan ek glad nie…..
Ai dis hartseer.

Skappie ·

So jammer om te hoor van julle verlies van julle seuns. Werner en Linta en die res van die familie, mag onse Lewe Heer julle almal styf in sy arms vashou en julle deur hierdie moeilike tyd wat nou vir julle wag deur dra. Sterkte.

LANA is ELANè ·

Al wat by my opkom is,
“when bad things happen to good people.”
Ek is baie jammer vir die ouers en die feit dat hulle berusting by die Here vind, is sekerlik op die einde van die dag hul enigste behoud.

Hester ·

Die Here ” Vat ” nie mense nie. Hy besluit nie vandag om daai een of daai een vandag ” te vat” nie. Dit is maar die lewe. Ons lewe, ons sterwe. Hy kan wel ingryp as dit sy wil is, maar ons lewe op aarde om Sy wil te doen en as ons gelowiges is, is die sterwe ‘n wins. Maar ja, dit is en bly baie Hartseer.

Nettie ·

God bepaal elke persoon se dag en tyd van sterfte. ELKE persoon. Hy IS die hartklop en die asemteug in ons liggaam. Hy is in alles, en alles is in Hom. Met “vat” bedoel mense Hy neem ons siel na Hom, die wat in Jesus Christus gesterf het, tot ons ‘n nuwe liggaam met die Opstanding kry.

Lillian ·

Baie sterkte vir julle. Géén ouer moet óóit sy kinders begrawe nie, maar tog gebeur dit

Nettie ·

Julle is besonderse mense. Julle kinders was gelukkig om julle as ouers te hê. Ons verstaan nie God se Weë nie, maar niks is sinneloos nie. Daar is redes wat ons net nog nie verstaan nie, maar wel sal met die Einde van Tyd wanneer als volbring word. Julle kinders is veilig in God se Hande. Moenie jul geloof versaak nie, wag tot die dag van hereniging met julle pragtige, dierbare en wonderlike twee seuns. Julle SAL hulle weer sien. Sterkte, ek kan my nie julle pyn en hartseer en verlatenheid en alleenheid indink nie, maar Jesus stap elke treë saam met julle. Mag Hy julle toevou in Sy liefde en vertroosting en mag jul seuns in Vrede Rus.

Juanita ·

Ek sal nooit verstaan hoe so iets God se wil kan wees nie, NOOIT! Net soos die klein dogtertjie wat in die eende dam verdrink het die naweek. Dit is hartverskerend. As dit met my gebeur sal ek nie berusting kan kry in “Dis die Here se wil nie”. Sterkte aan al die ouers wat hul kinders aan die dood moes afstaan. My hart gaan uit na julle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.