Oupa se pleidooi: ʼn Lang, gesonde lewe vir kleinseun met hartdefek

Levi Brouwer [Foto: Verskaf]

Terwyl die meeste oupas hul kleinkinders met lekkers en speelgoed bederf, wil Dirk Brouwer (61) die grootste geskenk nóg aan sy kleinseun gee: ʼn lang en gesonde lewe.

Dirk het ʼn skarefinansieringsveldtog op BackaBuddy van stapel gestuur om geld vir Levi, sy eerste en enigste kleinseun, in te samel om ʼn string peperduur opehartoperasies oor die volgende vier jaar te ondergaan.

Levi is op 23 Januarie vanjaar gebore met ʼn seldsame, aangebore (kongenitale) hartdefek wat net 0,005% van pasgebore babas raak. Sy hart het slegs een werkende ventrikel (hartkamer) wat bloed na ander organe moet pomp. ʼn Normale hart het vier werkende hartkamers.

Volgens Dirk beïnvloed die defek die baba se liggaam se vermoë om suurstofryke en suurstoflose bloed in die hart te meng, wat druk op die longe plaas. Dit ontneem die baba se liggaam van noodsaaklike suurstof.

“Hoewel hierdie defek ongeneeslik is, kan dit deur ʼn reeks ingewikkelde opehartoperasies oor die verloop van ʼn paar jaar bestuur word,” vertel Dirk.

Drome vir eers opsy

Duan (28) en Cayley Brouwer (27) saam met baba Levi [Foto: Verskaf]

Levi se ouers, Duan (28) en Cayley Brouwer (27), moes ʼn lewensveranderende besluit neem toe dokters die hartdefek by Levi gediagnoseer het.

Toe Cayley 22 weke swanger vas, het dokters vasgestel daar is fout met sy hartjie, vertel Duan. Die hartdefek is daarna gediagnoseer en drie opsies is aan die ouerpaar gestel: Beëindig die swangerskap, ʼn moontlikheid wat hulle nie eens oorweeg het nie. Laat Levi ná geboorte die gevaarlike opehartoperasies ondergaan, met die eerste wat reeds in die eerste twee weke ná geboorte uitgevoer moet word. En derdens, geen operasies nie, net hospiesversorging wanneer hy gebore word.

“Ons het op die tweede opsie besluit omdat ons nie Levi van ʼn kans op lewe wou ontneem nie. Ons wil ook elke sekonde van die dag tyd saam met hom deurbring, want kinders is ʼn groot seën in ʼn mens se lewe,” sê Duan.

“30 jaar gelede sou babas met Levi se defek ʼn 15%-kans gehad het op oorlewing. Vandag, te danke aan mediese tegnologie, het Levi nou ʼn 85%-kans om te oorleef.”

Dirk vertel die spesifieke opehartoperasies word by slegs drie hospitale in Afrika gedoen, waaronder Netcare Sunninghill in Johannesburg. Die egpaar het dus uit hul nuwe huis in Pretoria getrek en het sak en pak na Johannesburg verhuis om nader aan die hospitaal – en hul geliefde seuntjie – te wees.

Ma Cayley saam met baba Levi [Foto: Verskaf]

“Duan en Cayley het uit hul nuwe huis in Pretoria getrek en in ʼn klein woonstel ingetrek, wat vyf minute van die hospitaal af is. Hulle kon nie hul twee honde saamneem nie omdat die woonstel te klein is,” vertel Dirk.

Duan moes sy loopbaan en passie in die vermaaklikheidsbedryf ruil vir kopieskryfwerk sodat hy tuis kon werk en meer tyd saam met Levi en Cayley kan deurbring. Dié werk kom egter met ʼn kleiner salaris.

Cayley moes ook haar werk laat staan om voltyds na Levi om te sien.

Die egpaar moes boonop ʼn nuwe (duurder) mediesefonds-plan kry omdat hul vorige plan nie die gespesialiseerde sorg wat Levi benodig, dek nie.

“Die mediesefonds-opsies wat Levi se mediese onkoste ten volle dek, is ook geweldig beperk. Die een wat hulle toe kon kry, kos die gesin R10 500 per maand,” sê Dirk.

Oupa Dirk, pa Duan, en baba Levi [Foto: Verskaf]

“Sonder die regte mediese fonds sou Levi se mediese behandelings hulle meer as R3 miljoen uit die sak jaag, met onkoste wat ná die eerste operasie reeds meer as R1,3 miljoen sou wees.”

Dirk het ʼn skarefinansieringsveldtog van stapel gestuur om in die geheel R240 000 te probeer insamel om die geweldige finansiële las op die egpaar te probeer verlig.

“Hierdie geld is van sleutelbelang om Levi se veelvuldige operasies en mediese behandelings oor die volgende 12 maande te dek.”

Sedert dit van stapel gestuur is, is byna R20 000 reeds danksy die veldtog en die steun van 17 skenkers ingesamel.

‘Sterk en veerkragtig’

Levi is reeds in die eerste week na sy geboorte geopereer [Foto: Verskaf]

Levi sou in die eerste week ná sy geboorte sy eerste hartoperasies ondergaan, maar ʼn dag voor die operasie is nekrotiserende enterokolitis (NEC) by hom gediagnoseer. NEC is ʼn dermsiekte wat premature babas, of babas met ʼn baie lae geboortegewig, raak.

Volgens Duan het die dokters dieselfde tyd ook ʼn infeksie in Levi se longe ontdek.

“Levi moes antibiotika gebruik en die operasies is ʼn week lank uitgestel,” vertel sy pa. “Levi kon ʼn week later die operasie ondergaan, wat met die genade van God ʼn sukses was.”

Die klein mannetjie was ses weke lank in die hospitaal voordat hy ontslaan is.

Dirk vertel Levi se onwrikbare veerkragtigheid was duidelik ná sy eerste opehartoperasie – toe hy maar net twee weke oud was.

“Dit het die familie met hoop vervul terwyl hulle voorberei het vir sy komende operasie,” vertel hy.

Die volgende operasie, die sogenaamde Glenn-omleidingsprosedure, sal na verwagting op 28 Junie plaasvind, wanneer Levi vyf maande oud is.

Tydens hierdie prosedure sal sy pediatriese chirurg die bloedvloei wat vanaf die boonste helfte van sy liggaam na die hart terugkeer, direk na sy longe herlei, wat die hoeveelheid suurstoflose bloed in sy hart sal verminder.

Die laaste operasie sal plaasvind wanneer Levi tussen drie en vier jaar oud is. Hierdie operasie sal behels dat die bloedvloei van die onderste helfte van sy liggaam na sy longe herlei word.

Groot avonture wag

Cayley vertel Levi is “sterk, veerkragtig en pak enige uitdaging met ʼn glimlag op sy gesig aan”.

“Hy het my en sy pa geleer wat dit werklik beteken om sterk te wees en hoe om met genade en vreugde in jou hart deur die lewe te gaan. Hy is ʼn seën vir almal wat hom ken, veral vir ons. Die liefde wat ek vir hierdie seuntjie het, is onmeetbaar, en ek kan nie wag vir al die avonture wat hy nog in sy lewe gaan hê nie,” vertel ma Cayley.

Duan sê Levi het hom geïnspireer om “ʼn beter pa, seun en man” te wees.

“Om te sien hoe my seuntjie na hierdie nuwe wêreld kyk, het my elke dag opnuut die lewe se skoonheid laat waardeer. Levi word elke dag wakker en is bereid en gereed om iets te leer. Die liefde wat ek vir my seun en my vrou het, is onbeskryflik, en ek dank God vir elke kosbare sekonde.”

Volgens Dirk is die familie dankbaar om Levi reeds vir vyf maande in hul lewe te hê.

“Hy is ʼn godgegewe wonderwerk wat ons harte vul met onmeetlike vreugde, geluk en dankbaarheid,” sê Dirk.

Om skenkings te maak, besoek BackaBuddy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.